‘n Weg Waar Daar Geen Weg Is Nie | World Challenge

‘n Weg Waar Daar Geen Weg Is Nie

Gary WilkersonApril 20, 2020

Tel Op Jou Bedelaarsmat. Dit is Jou Boodskap aan die Wêreld!

Hoe beweeg jy aan as jou omstandighede sê, “Geen manier nie”? Wat doen jy wanneer jou familie verbrokkel, jy finansieel sukkel, jy moedeloos is en jou hart oorloop van pyn? Is daar ‘n weg vorentoe wanneer jy nie ‘n uitweg kan sien nie?

Markus 2 wys vir ons daar is. Wanneer dinge onmoontlik lyk en ons alle hoop om aan te gaan, verloor, maak Jesus getrou ‘n weg waar daar nie ‘n weg is nie.

Die dorp Kapérnaüm was ‘n middelpunt vir die Here se vroeë bediening. Daar naby, het Hy sy heel eerste dissipels geroep, die broers Petrus en Andréas en die broers, Jakobus en Johannes. Hulle het hulle vissermansnette verlaat en Jesus na Kapérnaüm gevolg waar Hy wonderwerke gedoen en die dorp laat gons het.

Eerstens, was Jesus deur ‘n duiwelbesete man gekonfronteer. Hy het die gees uit die man gedryf en hom oombliklik bevry (Markus 1:21-28). Volgende het Christus sy nuwe dissipels reguit na Petrus se skoonmoeder, wat aan ‘n hoë koors gely het, geneem. Jesus het haar aan die hand gevat en sy het van haar bed af opgestaan, heeltemal gesond genoeg om vir hulle ‘n maaltyd voor te berei (1:29-31).

Wat ‘n opeenvolging van kragtige gebeure! Dit was dus geen verassing toe Jesus oorval is deur mense met desperate nood: “En die hele stad het by die deur saamgekom” (1:33). Jesus het die siekes en duiwelbesetenes genees en mense het jubelend en verlos van allerhande kwellings daar uitgekom (1:34).

Die volgende dag, het Christus na ander dorpe in die streek gegaan, gepreek en wonderwerke van genesing en bevryding gedoen. Nie lank nadat hy teruggekeer het na Kapérnaüm nie, het die mense weer na Hom gestroom. “En dadelik het baie saamgekom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie; en Hy was besig om aan hulle die woord te verkondig” (2:2).  Die eerste keer toe Jesus daar was, was wonderbaarlik. Ek is seker dat sy terugkeer verwagtinge geskep het dat daar nog meer sou kom.

‘n Verlamde man, wat die eerste rondte wonderwerke misgeloop het, kon bang gewees het dat hy syne ook misgeloop het. Hy was fisiek so gestrem dat hy deur vier mans gedra was. “En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak” (Markus 2:3-4).

Hierdie verlamde man was iemand wat gelyk het of hy oorgesien was as dit by God se seëninge kom. Hy het miskien gesien hoe vriende die eerste keer toe Jesus gekom het genees is. Nou, met Jesus se terugkeer, het hy waarskynlik baie mense by hom sien verbyjaag om genees te word. Niemand sou hom geblameer het as hy gedink het, “Ek hou dit aan misloop. God se seëninge lyk of dit vir ander bedoel is, maar nie vir my nie. Ek het my wonderwerk die eerste keer misgeloop en ek kan nie ‘n manier sien om hierdie keer by Jesus uit te kom vir my wonderwerk nie.”

Baie Christene het hierdie ingesteldheid oor hulle lewens. Hulle dink hulle het te veel verwag van ‘n huwelik wat nie langer liefdevol is nie, dat hulle altyd gekwel word deur nimmereindigende finansiële probleme, dat hulle fisieke beperkinge hulle nutteloos vir God laat. Hulle voel dat hulle hul wonderwerk misgeloop het.

Hierdie Christene het egter nooit opgehou glo dat hulle vir God saakmaak nie. Terwyl hulle na meer smag, is hulle vasgekluister soos die verlamde man en oortuig, “Niks verander nie, maak nie saak hoeveel ek bid nie. Dit is my lot in die lewe.”

Dank God, die verlamde man se vriende het anders geglo. Ek verbeel my hulle sê vir hom, “Ons neem jou na die herlewingsbyeenkoms. Jy gaan aangeraak word deur die Messias!” Die man het waarskynlik steeds getwyfel toe hulle daar aangekom het, want die byeenkoms was stampvol en die skare het by die deur uitgestroom, maar sy vriende het steeds geglo. Hulle het ervaar daar was ‘n weg toe dit gelyk het of daar geen weg was nie.

Soms het ons iemand nodig om te help om ‘n weg te maak as ons geen weg sien nie.

Wanneer dit by ons lewe in Jesus kom, dink die meeste van ons, “Dit hang alles van my af.” Maar as die lewe ons laat voel dat ons vas is, kan ‘n boodskap van geloof of ‘n vrygewige gebaar van ‘n vriend die straal van hoop wat ons nodig het, verskaf. Jy voel miskien verlam, vasgekluister en of jy nie vorentoe kan beweeg nie, terwyl jy wonder, “Wanneer sal die verlossing wat ek nodig het ooit kom?” ‘n Vriend se geloof kan jou kop net genoeg oplig om jou weg uit moedeloosheid te sien.

Toe dit gelyk het asof die byeenkoms se deur toe was vir die verlamde man, het sy vriende met buitengewone geloof opgetree. Hulle het die dak bokant Jesus se kop verwyder en die verlamde man deur die gat laat afsak.

Jesus was aangeraak deur die groep se geloof. “En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!” (2:5).  Wat ‘n ongewone ding vir Jesus om te doen. Hy het nie die verlamde man genees nie, maar in plaas daarvan, het Hy hom sy sonde vergewe. Ek glo Christus het dit om ‘n baie belangrike rede gedoen.

Dikwels maak die Here ‘n weg in ons voor Hy ‘n weg vir ons maak.

Ons wil herlewing, genesing en wonderwerke hê. Dit is nie altyd die werk wat Jesus kies om eerste in ons te doen nie. Soms werk Hy aan ons binnekant voor Hy aan ons buitekant werk. Deur dit te doen, berei Hy ons harte voor vir verlossing. Jy sien, wanneer ons vas is, is ons enigste gedagte, “Ek wil net weer loop.” Jesus se gedagtes is, “Ek wil hê jy moet lewe.” Ons dink, “Ek wil hardloop.” Jesus se gedagtes is, “Ek wil hê jy moet in liggaam, siel en gees gesond wees.”

As ons eers ons uiterlike genesing kry sonder ‘n innerlike werk, dan sal ons wanneer die volgende storm kom, nie meer voel asof ons wil loop nie. Wanneer Jesus egter ‘n innerlike werk doen, verander iets binne-in ons sodat wanneer ons volgende storm kom, ons aan Hom vashou met geloof. Ons raak nie weer vasgevang in moedeloosheid of hulpeloosheid omdat ons geloof nie langer afhang van ons omstandighede nie, maar eerder van Hom af. Ons harte en gedagtes word bo gehou met Bybelse hoop.

Ander kan jou inkry, maar hulle kan jou nie opkry nie.

Toe die man vergewe was, het Jesus vir sy geloof in aksie gevra. Hy het die man beveel, “Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe” (Markus 2:11). Die man kon nie op sy vriende vertrou om dit te doen nie. Hulle geloof kon hom naby Jesus bring, maar om op Christus se bevel te reageer, moes hy self met geloof optree.

Jesus sê vir elkeen van ons om op te staan, om in geloof uit te styg bo dit wat ons ook al vasgevang hou: verslawing, hopeloosheid, beswaarde gedagtes. Om dit te doen, kan ons nie op ons vriende se geloof staatmaak nie en ons kan nie na ons eie vertwyfelinge luister nie. As Hy vir ons sê om op te staan, sê Hy in wese, “Staan, want God se krag is op die punt om deur jou te beweeg.”

Wanneer ons reageer, sal ons dieselfde reaksie kry was wat die verlamde man gehad het. “En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!” (2:12).

Wanneer ons opstaan, sê Jesus vir ons, “Tel nou jou mat op.”

“Ek sê vir jou ... neem jou bed op” (Markus 2:11). Waarom sou Jesus vir die man sê om sy stink ou mat saam met hom te neem? Die man wou seker niks daarmee te doen hê nie. Dit het elke frustrerende onvermoë verteenwoordig. “Ek wil nooit weer na die mat kyk nie,” kon hy gedink het. “Dit herinner my aan my verlamming en mislukking en wanhoop. Ek sal dit eerder verbrand!”

Jou mat is jou boodskap.

Verbeel jou die man dra sy mat by die beknopte byeenkoms uit. Baie wat teenwoordig was, het Jesus se gesag bevraagteken en nou het die ou mat teen hulle geskuur terwyl die geneesde man deur die skare beweeg het.  Die mat was nie langer ‘n siekbed nie, maar eerder ‘n getuienis. Jesus het geweet dat die man se roete huistoe hom deur die strate sou neem waar hy elke dag gebedel het. Almal kon eerstehands sy transformasie sien. Hulle sou die wonderwerkende krag van Jesus se evangelie sien.

So, wat dink jy, hoe het dit gegaan toe die man by die huis gekom het? Ek sien hom met verwondering by die voordeur inloop, iets wat hy nog nooit kon gedoen het nie. Sy ma was dalk besig om sy kamer skoon te maak en het verwag dat sy vriende hom enige oomblik kon indra. Maar die voetstappe wat sy gehoor het daardie dag, het anders geklink. Toe sy omdraai, het sy haar seun gesien en in verwondering op haar knieë neergeval.

“Mamma, dankie dat u vir my sorg,” het die man gesê. “Mamma hoef dit nie meer te doen nie. Ek is deur Jesus genees, bevry en gesondgemaak. Ek het nie meer hierdie mat nodig nie, maar ek hou dit as ‘n getuienis van sy krag. Ek sal dit gebruik om vir die wêreld van Jesus en wat Hy gedoen het te vertel.”

Dit is baie eenvoudig, die mat was die man se getuienis. As iemand hom ooit daaroor sou uitvra, sou hy hierdie boodskap gehad het: “Vir dekades het ek myself aan die slaap gehuil omdat ek verlam was. Ek het nie die lewe gehad wat ek geweet het God beloof het nie. As ek nou na hierdie mat kyk, dink ek, ‘Kyk na wat Jesus vir my gedoen het. Hy het my vergewe, my gereinig, my genees, my gesondgemaak, my bevry. Nou het Hy my geroep, uitverkies en vir my gesag in sy koninkryk gegee.’”

Jou mat is dalk ‘n lewelose huwelik, ‘n verlore kind, ‘n gevoel van hulpeloosheid oor jou situasie. Jesus sê nou vir jou, tel jou mat op “en gaan na jou huis toe” (Markus 2:11).

Vriend, daardie droom wat jy het – die lewe wat jy weet waarvoor God jou geroep het – hoef nie te lê en stink soos ‘n mat van wanhoop nie. Jy hoef nie te wonder, “Sal my genesing ooit kom?” nie. As jou gedagtes wanhopig en jou emosies uitgeput is, wend jou tot ‘n vriend en vra hulle om te bid. Sê vir hulle, “Ek het regtig nou jou geloof nodig.” Julle gesamentlike gebede sal jou aan Jesus herinner en jou hoop herstel. Gou sal jy hoor dat die Here vir jou sê, “Staan op,” en jy sal weet dat Hy ‘n weg gemaak het waar daar nie een was nie.

Jy sal jou ou mat optel en huistoe loop en vir almal langs die pad vertel, “Ek was vasgekluister, vasgevang en verlam. Nou loop ek weer met geloof. Net die Here maak ‘n weg waar daar nie een was nie!” Halleluja!

Download PDF