Die Here is My Herder | World Challenge

Die Here is My Herder

Gary WilkersonApril 19, 2021

‘n Lewe van Volmaakte Vrede Lei

Elke Christen ken bergtoppe en pieke en diep, donker dale in hulle wandel met Jesus. Volgens my ervaring, is dit in die dale – die lae plekke, beproewings en moeilike tye – waar ons leer hoe om mense van gebed, hoop en dapper diens te wees. Met ander woorde, die dale is waar ons leer om God se getroue getuies te wees in onstuimige tye omdat dit is waar ons sy getrouheid teenoor ons in ons grootste nood leer ken.

Soos so baie volgelinge van Jesus, is die inleiding van Psalm 23 vir my kosbaar. “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie” (Psalm 23:1, AFR53). Ons word verseker dat ons ‘n getroue herder het om ons te lei deur al die storms en swaarkry, een wat ons vaardig lei deur elke situasie. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (23:2-3).

Watter kragtige toonbeelde van vrede in tye van verdrukking. Ons herder lei ons na hierdie wonderlike plekke, maar dieselfde herder lei ons egter ook na moeilike plekke. Dit vorm ‘n kragtige getuienis in ons: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met jy: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders” (23:4-5).

Let op dat hierdie gedeeltes oor die donkerste tye in die lewe handel: onheil, dood en teëstanders. In plaas daarvan, demonstreer Hy deur dit alles sy getrouheid aan ons. Persoonlik, sou ek verkies om heeltyd in groen weivelde te rus, maar dit is nie die werklikheid nie. Donker tye kom oor elkeen van ons en Psalm 23 verseker ons dat wanneer dinge chaoties en onstuimig is, lei die Groot Herder ons altyd getrou.

Voor ons “teëstanders” – ‘n pandemie, ekonomiese onrus, die verlies van geliefdes – leer ons die dieptes van God se getrouheid aan ons ken.

Psalm 23 weerspieël die geskiedenis van God se volk. Die Here het die kinders van Israel belowe dat Hy hulle uit slawery sou lei na die Beloofde Land, ‘n heerlike bestaan van melk en heuning. Dink hoe opgewonde die volk hieroor geraak het. Die belofte waarna hulle uitgesien het, het egter nie dadelik plaasgevind nie.

Trouens, op ‘n sekere stadium, het dit gelyk asof hulle toekoms net die teenoorgestelde sou wees. Toe hulle noord moes gaan na Kanaän, het God hulle suid gelei na Sinaï, ‘n droë woestyn sonder kos of water. Waarom sou God hulle na hierdie plek van pynlike gebrek lei?

Iets soortgelyk het met die voorvader Josef gebeur. Hy was ‘n hemelse droom gegee waarin ander voor hom sou buig. Voor dit in vervulling kon kom, was Josef egter ontvoer deur sy eie broers, in ‘n put gegooi, as slaaf verkoop en uiteindelik in ‘n kerker opgesluit nadat hy valslik beskuldig was. Wat op aarde was die groot Herder se plan?

In sulke tye, kerm en kla ons harte van benoudheid, maar dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Niemand wil “dal van doodskaduwee” ervarings hê nie, en ons kultuur sê ons behoort dit ten alle koste te vermy, dat die ideale lewe ‘n nimmereindigende belewenis van geluk en blydskap is. God doen in werklikheid diepliggende kreatiewe werk in die dale. Trouens, dit is waar sommige van sy belangrikste werk in ons plaasvind en diep spore van vrede laat wat die res van ons lewens kan inlig.

In Israel se woestynervaring, het God ‘n volk, wat ‘n lig vir die nasies sou wees, geskep. Hulle het van sy groot vergifnis geleer deur hulle eie verskriklike sondes. Hulle het van sy wysheid geleer deur sy regverdige oordele. Hulle het van sy ewigdurende barmhartighede geleer deur al hulle verdrukkings.

In Josef se verdrukkings, het God trots en arrogansie uit ‘n talentvolle en bevoorregte man verwyder sodat, toe die tyd aanbreek, Josef se gawes ‘n hele nasie van hongersnood sou red. Die Here was waarskynlik ook besig om empatie in Josef te skep sodat hy op ‘n kritieke oomblik sy broers, die manne wat die stamme van God se uitverkore volk sou word, kon vergewe en verlos. Al sy keuses vir ons is wys en genadig en bewerkstellig sy doelwitte.

Ek het geleer dat die diepliggende vrede, wat in ons gevorm word deur ons beproewings, gewoonlik in drie stadiums kom.

Soos ons deur beproewings gaan, sukkel ons dikwels om ons vrede te behou. Dit is die eerste stadium waarin God ons deur moeilike tye lei. Ek noem hierdie stadium die probleem van vrede.

In Matthéüs 10:12-13, het Jesus sy dissipels beveel: “En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.” As ek dit lees, stel ek die toestand van ‘n huishoudig gelyk aan die toestand van ‘n hart. God wil hê dat elke hart die vrede van sy lewende Woord moet ontvang. Maar nie almal is gewillig om te doen wat Hy sê nie, insluitend sommige van ons wat Hom volg.

Ons moet onsself afvra of ons ontvanklik is vir sy bevele en leiding, sy aansporing en dissipline. Hy mag ons immers na ‘n woestyn eerder as ‘n groen weiveld lei. Maak ons gebruik van sy krag, doel en plan vir ons lewens, of kan ons nie vertrou dat Hy ons beste belange in gedagte het nie?

God se vrede sal nooit na ons toe kom as ons dit najaag as ‘n probleem wat opgelos moet word of ‘n dilemma wat verstaan moet word nie. Trouens, Paulus sê vir ons: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7; my beklemtoning).

Dit lei na die tweede stadium van om God se vrede te hê. Ek noem hierdie stadium die prys van vrede. Ons hoef nie te sukkel, te soek of te strewe om die vrede van die Here te vind nie. Jesus het die prys aan die kruis vir ons betaal om dit te hê. Ons moet daardie prys – die gestorte bloed van Christus – aan ons harte wend en in sy vrede bly wat na ons toe kom uit die hemel. Met sy vrede, kan ons harte nie ontstel word nie.

Die derde stadium van om God se vrede te hê, is die belofte van vrede. Jesus verseker ons, “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Johannes 14:27).

Moenie ‘n fout maak nie, Jesus kom sy woord na. As Hy sy vrede selfs vir een van sy kinders weier, sou sy woord nie waar wees nie. Ons weet dit is nie moontlik nie. Soos Paulus sê: “Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig” (Romeine 3:4).

So, wat is die vrug van hierdie drie-stadium vredesproses? As ons ontvanklik bly vir sy stem en leiding – selfs al beteken dit ‘n woestynbelewenis – word ons die “vrede van geregtigheid” belowe. “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11, my beklemtoning). Deur ons aan die leiding van ons herder te onderwerp, word ons lewens ‘n lewende getuienis van sy geregtigheid, gekenmerk deur onwrikbare vrede en onbaatsugtige opoffering.

Jou hart kan wyd oop wees vir hierdie waarhede, en steeds kan jy nie sy vrede beleef nie.

Vrede is soos enige ander vrug van die Gees; dit sluit volwassewording in. Net soos jou wysheid volwasse word, so ook jou vrede. God laat dit heeltyd toeneem deur al jou ervarings op die manier waarop enige vrug verbou word. Dink aan hoe ‘n saad vir ‘n blomplant gesaai word. Wanneer dit uitspruit, waai die wind daarteen en die reën oorstroom dit, maar God het dit so gemaak dat dit alles kan weerstaan en kan groei deur daardie gewone druk. Hy sal daardie plant versorg en dit sal uiteindelik wonderlike vrugte dra.

Ek kry vertroosting in die woorde van die psalmdigter wat elke hart wat oop is vir die herder se getroue leiding, verseker: “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede” (Psalm 37:37). ‘n Getroue Christen mag geskud word en lyk of hy deur probleme rondgewaai word, maar God se toekoms vir daardie dienaar is vrede.

As jy nie vrede beleef nie, wag net. Dit sal groei. Die belofte van vrede kom van God self af, en Jesus het reeds die prys daarvoor betaal. Jou toetse en verdrukkings bou ‘n toekoms waar jy nie net in voortdurende vrede sal wandel nie, maar jy sal die vrug daarvan dra en werke van geregtigheid doen wat tot in ewigheid stand sal hou.

Onderwerp jou aan God se leiding en vertroue in sy skeppende werk in jou. Dit is alles deel van die plan wat Hy vir jou in gedagte het. “As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde?” (Jeremia 12:5). Ons is geskep om ‘n wedren te hardloop met sy volgehoue vrede in ons harte.

Ons leef in ‘n tyd en plek waarin “voorspoed, voorspoed, voorspoed” verkondig word. Maar ons almal beleef dale; en as God se kinders, weet ons dat daar ‘n groot doel met ons beproewings is. Dit is waar die Here se genadige kreatiwiteit gebeur. Die dal is waar ons die probleem van vrede beleef, die prys van vrede onthou en in sy belofte van vrede wandel.

Daar is geen groener weiveld as die hart wat die vredevolle vrug van geregtigheid kan saai nie. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae” (Psalm 23:6).

Download PDF