Lof is die Laaste Woord | World Challenge

Lof is die Laaste Woord

Gary WilkersonMay 18, 2020

Die Krag van Genade in Jou Diepste Stryd

Ek weet nie of jy in liefde met die eerste oogopslag glo nie, maar Jakob het. Toe hy die eerste keer vir Ragel gesien het, het hy geweet dat hy met haar wou trou. “Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter” (Génesis 29:17-18).

Dit is hoe ek gevoel het toe ek die eerste keer vir Kelly, wat my vrou geword het, teëgekom het. Toe ons as tieners ontmoet het, sou ek met blydskap sewe jaar lank gewerk het as dit beteken het dat ek met haar kon trou. Ek weet presies hoe Jakob gevoel het.

Sy skoonpa, Laban, het hom egter bedrieg. Toe die huweliksnag aanbreek, het Laban Ragel se suster Lea by hom ingestuur. Jakob het nie tot die volgende oggend besef dat hy met Lea en nie Ragel nie, getrou het. “Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?” (29:25).

Laban het ingestem om Jakob ook met Ragel te laat trou as hy nog sewe jaar vir hom sou werk. Jakob het met blydskap ingestem, maar dink net hoe Lea moes gevoel het. Sy het geweet dat Jakob haar nie liefgehad het nie. Sy het ongewens gevoel, ‘n uitgeworpene van haar eie huwelik.

Daarom het Lea besluit om te sorg dat Jakob haar liefkry. Dit was die dryfkrag agter alles wat sy gedoen het. Sy het geredeneer, “Om kinders te hê, sal vir hom wys dat ek sy liefde waardig is.”

Soos Lea, is die dryfkrag agter baie van ons se lewens ons seerkry, en probeer ons ons waarde bewys aan iemand of aan die wêreld.

Wanneer dit by Jesus se liefde kom, het baie Christene Lea se beskouing. Hulle wy hulleself aan werke of eie pogings toe om te probeer bewys dat hulle Hom waardig is. Maar ons kan nooit Jesus se liefde wen nie vir een eenvoudige rede: Hy het ons reeds lief.

God het reeds vir Lea omgegee en Hy het genadiglik om haar onthalwe opgetree. “En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen ... En Lea het bevrug geword en ’n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê” (Génesis 29:31-32, my beklemtoning).

Lea het raakgesien gevoel in haar pyn. Trouens, sy was so dankbaar dat sy haar seun na God se barmhartige goedheid vernoem het. Ongelukkig, het dit haar huwelik met Jakob nie verander nie en daarom het sy selfs nog harder gewerk om sy liefde te wen.

“En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem” (29:33, my beklemtoning). Lea het gevoel dat sy deur God verhoor was. ‘n Oor wat luister, sê vir ons dat ons saak maak.

Terwyl ek Lea se storie lees, dink ek aan ‘n diep stryd wat my vrou, Kelly deurgegaan het. Sy het ‘n stem wat vol van waarheid en krag is, maar Satan het hierdie gawe van haar aangeval. Dit was veral moeilik vir Kelly omdat almal van haar vroegste jare af raakgesien het dat haar pragtige sang haar innerlike wese openbaar het, van aanbidding tot hartseer tot blydskap tot elke menslike emosie. Maar tydens haar kritieke vormingsjare, het Kelly gevoel dat sy haar diepste sin van self moes opkrop. ‘n Jong meisie se hart was stilgemaak op ‘n manier wat God nooit vir haar bedoel het nie.

Gelukkig het die Here Kelly se innerlike roepstem gehoor het op dieselfde manier wat Hy Lea s’n gehoor het. Deur ‘n diep werk van genade, het my vrou haar stem in beide verhoudings en in musiek gevind. Nou seën haar gawe gehore oral in die wêreld waar sy by ons konferensies sing en Jesus se genesende evangelie bedien.

Dit is jammer dat Lea steeds nie geliefd gevoel het nie, en daarom het sy geboorte gegee aan ‘n derde kind. “En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem” (Génesis 29:34). Die naam Levi dui op “behoort” of “verbintenis.” Lea het geredeneer, “Met drie seuns, sal Jakob regtig nou aan my geheg wees.”

Dit het steeds nie gebeur nie. Lea het gevoel soos baie in die kerk vandag: ten spyte van die oënskynlike seën, voel hulle diep pyn oor nie gesien, gehoor of verbind te wees nie.

Nie een van ons het op hierdie aarde aangekom as ‘n fout nie.

Van ons begin af, word ons deur die Here gesien, deur Hom gehoor en word ons aan Hom verbind. Trouens, God skep elkeen van ons vir verbintenis, maar ons vroeë trauma’s kan ons laat voel of ons ons verbintenis met ander moet verdien. Daardie trauma’s kan ons in lewens met stryd vul terwyl ons soek na iets wat ons dink ons nie het nie.

Ek dink veral aan twee tipes trauma. Die eerste is wanneer iets met ons gebeur wat nie moes nie. Ek het ‘n vriend wat as ‘n jong seun, wreed deur sy moeder geslaan was. Sy het hom baie keer in ‘n kas toegelsluit vir die hele dag. Hy het van die ergste mishandeling beleef wat ek al ooit van gehoor het en dit het ernstige trauma vir hom veroorsaak. Hy het dit amper nie oorleef nie.

Toe hy twaalf geword het, het hy ‘n stuk tou gegryp, in ‘n boom geklim en op ‘n tak gestaan, gereed om homself op te hang. Gelukkig het sy broer hom gesien en by hom gepleit om dit nie te doen nie. Dit het sy lewe gered. ‘n Paar jaar later, het die seun my pa, ‘n straatevangelis, ontmoet en was deur God se liefde gered. Nicky Cruz het sy hart vir Jesus gegee en sy lewe was heeltemal vernuwe. Christus se liefde het hom verlos van trauma wat hom amper vernietig het.

‘n Tweede tipe trauma het innerlike gevolge wat ook diep gaan. Hierdie trauma kan plaasvind wanneer iets tydens kindskap nie gebeur het nie, maar moes. Mense wat aan hierdie soort trauma ly, is geneig om dit vir ander weg te steek want dit kom nie voor of dit simpatie waardig is nie.

Ek het ‘n vorm van hierdie trauma beleef. Ek sal altyd bly wees dat my pa die Heilige Gees in sy roeping as ‘n evangelis gevolg het, maar hierdie veeleisende reisskedule het ‘n leë gat in my en my sibbe gelaat. Ek het nie naastenby soveel van my pa gehad as wat ek wou hê nie, en ek het vir daardie leemte gekompenseer deur te leer om myself eenkant te hou. Ek het nie met hierdie saak afgereken tot in my dertigs nie.

Ek het ‘n bietjie soos Lea gevoel en gedink, “Ek word nie gesien nie. Ek word nie gehoor nie. Ek is nie aan iemand verbind wie se liefde ek desperaat nodig het nie.” ek het ‘n kernwond in my hart gehad en die enigste manier hoe ek dit kon aanspreek, was om te presteer. Ek het programme, bedienings en kerke begin; maar nie een daarvan was genoeg om die geknaag in my hart stil te maak nie. Dit is wat baie van ons doen met ons pyn; ons probeer om ‘n lewe te skep wat ons dink die seerkry sal genees.

As ons ‘n toring van prestasie op die fondament van ‘n kernwond oprig, gaan dit defnitief inmekaartuimel.

Ek het my persoonlike toring op godsdienstige werke gebou. Omdat dit nooit my kernhonger gestil het nie, was ek altyd gedrewe om die volgende ding te doen. Soos Lea, het ek van binne uitgeroep, “Kyk na my, hoor my, wees geheg aan my.”

Eendag het ek ‘n visioen gehad waarin ek op die top van ‘n stellasie gestaan het. Ek moes hierdie struktuur oprig sodat ek kon aanhou om my toring hoër te bou. Toe het die stellasie begin swaai. Ek het afgekyk en gesien Jesus gryp die pale. “Dankie Here,” het ek ondertoe geroep. “Ek het U nodig om hierdie ding te stabiliseer!” Maar Jesus het die stellasie geskud.

“Here, wat is U besig om te doen?” het ek geskree. “U sal alles laat omval!”

“Goed so,” het Hy gesê. “Laat dit alles omval.”

Ek het die boodskap gekry. Dit was tyd vir my om af te klim van die lendelam struktuur wat ek op ‘n bewegende fondament gebou het.

“Ek sien jou, Gary,” het Jesus my verseker, “net soos Ek gesien het hoe jy in jou moeder se skoot gevorm was. Vandag hoor Ek jou hart se roepstem. Hoeveel keer sê my Woord, ‘Roep my aan en Ek sal jou antwoord?’ Ek het jou geskep en vandag sê Ek vir jou, ‘Jy is volmaak in my oë.’”

Lea het hierdie soort genade beleef nadat haar vierde seun gebore was (Génesis 29:35). Sy het haar baba Juda genoem, wie se naam “lofprysing” beteken. Sy het in wese gesê, “Ek gaan nie meer my diep gevoel dat ek nooit genoeg is nie probeer oorwin nie. God het my waardig gemaak. Hy sien en hoor my, en sy liefde verbind my aan Hom te alle tye!”

Ongelukkig, het Lea teruggekeer na haar ou, onseker maniere. In die volgende hoofstuk, gee sy haar diensmaagd aan Jakob om twee seuns te hê en sy “koop” Jakob met liefdesappels om nog twee seuns by hom te kry (30:3-21). As sy tog maar net gerus het in die kragtige genade en liefde wat aan haar bewys is deur God en daarop vertrou het, ten minste vir ‘n kort rukkie na Juda se geboorte.

Wat van jou? As jy voel jou lewe word nie deur God raakgesien nie, sal jy Hom in elk geval prys? Sal jy aanhou op Hom vertrou selfs al gee Hy jou nie die voorwerp van jou begeerte nie? Wanneer ander jou nie die krediet gee wat jy behoort te kry nie, sal jy Hom steeds dank? Wanneer jy verslaan voel deur toenemende skuld, ‘n moeilike gesinsverhouding of ‘n fisieke swakheid, sal jy sy lof steeds besing?

Sommige lees dalk hier en sê, “Dit klink wreed om God te moet loof wanneer ek op my laagste is.” Vriend, Jesus werk aanhoudend vir jou, veral wanneer jy op jou laagste punt is. Hy is jou lofprysing waardig, maak nie saak wat jou emosionele toestand is nie, omdat sy allesomvattende liefde jou vaste fondament is. As jy Hom loof, sal jy genesing vir jou seerkry vind.

Jy hoef nie meer te streef nie. Rus in sy woorde aan jou. Enige trauma waardeur jy gegaan het, word opgelos in Jesus. Dit maak nie saak wat jy beleef nie, deur sy wonde is jy genees. Dit is jou lofprysing. Spreek dit met Hom, sing dit tot Hom, bid dit tot Hom en beleef sy genesing.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE