God se Bewaring van Sy Kinders

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo dat Psalm 46 ‘n toonbeeld is van die Nuwe Testament se “beloofde land.” Trouens, Psalm 46 verteenwoordig die goddelike rus waarna verwys word in Hebreërs: “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Hierdie Psalm beskryf hierdie rus vir God se kinders. Dit spreek van sy ewige krag, sy hulp in die tyd van benoudheid, sy vrede te midde van chaos. God se teenwoordigheid is te alle tye by ons en sy hulp kom altyd betyds. 

Israel het hierdie rus verwerp: “Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie” (Psalm 106:24). Ongelukkig is die kerk vandag baie soos Israel. Ondanks God se groot beloftes aan ons – sy versekering van vrede, hulp en volle voorsiening – vertrou ons Hom nie ten volle nie. In plaas daarvan, kla ons: “Waar is God in my beproewing? Is Hy met my of nie? Waar is bewyse van sy teenwoordigheid? Waarom laat Hy toe dat hierdie swaarkry net erger word?”

Vandag hoor ek hoe die Here vir sy kerk vra: “Glo julle dat Ek steeds met my volk praat? Glo julle dat Ek steeds begeer om my hulp en leiding te gee? Glo julle werklik dat Ek daagliks, elke uur, oomblik vir oomblik met julle wil praat?” Ons reaksie moet soos David s’n wees. Daardie godvresende man het die hele hel geskud toe hy hierdie uitspraak oor die Here gemaak het: “Want Hý het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan” (Psalm 33:9). 

Dit is God se belofte aan elke geslag wat sy Woord sal glo dat Hy met ons wil praat: “Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag” (33:11). Die Skepper van die heelal wil sy gedagtes met ons deel! 

Die Skrif maak dit duidelik: Ons God het in die verlede met sy volk gepraat, Hy praat nou met sy kinders, en Hy sal aanhou om tot die einde van die tyd met ons te praat. Meer op die punt af, God wil vandag met jou praat oor jou probleem. Hy kan dit moontlik doen deur middel van sy Woord, deur ‘n godvresende vriend, of deur die sagte, rustige stem van die Gees wat fluister: “Dit is die weg, wandel daarin.” 

Dit maak nie saak watter middele Hy gebruik nie, jy sal sy stem herken. Die skape ken die stem van hulle Herder. En, “Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose” (Psalm 97:10)