Siende en Afgeskeie

Op die aand voor die kruisiging, by die Nagmaal, het Jesus sy dissipels vertel, “Nog ‘n klein tydjie en die wêreld sien my nie meer nie; maar julle sien My” (Johannes 14:19). Wat ‘n interessante stelling vir Jesus om te maak terwyl Hy geweet het dat die dissipels dit nie sou verstaan nie. Een van hulle het gevra, “Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?” (Johannes 14:22).

Natuurlik het Jesus ‘n les in gedagte gehad. Hy het geantwoord, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak...Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie...En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat hulle kan glo wanneer dit gebeur. Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het” (Johannes 14:23, 27, 29-31).

Ek het Jesus se reaksie hier effens verkort om te fokus op ‘n tema waarna Hy regdeur die gedeelte mik. Daardie tema is skeiding of afsondering. In hierdie paar verse, maak Christus drie duidelike onderskeidings tussen sy koninkryk en die wêreld: “Die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My” (Johannes 14:19). “My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Johannes 14:27). “Die owerste van van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Waarom het Jesus hierdie onderskeidings aan sy volgelinge uitgewys? Dit was skynbaar vir Hom belangrik dat ons die duidelike verskille tussen hierdie dinge sien. Trouens, God maak sulke onderskeidings regdeur die Bybel. By die Skepping, het Hy duisternis van lig geskei en dag van nag. Hy het Israel van alle ander nasies afgeskei. In die Nuwe Testament, het Hy sy kerk beveel, “Gaan onder hulle uit en sonder julle af.” En by die Oordeel, sal Hy die skape van die bokke skei. Regdeur sy Woord, trek God voortdurend lyne van skeiding wat ons baie duidelik vertel, “Dit is een ding en dat is ‘n ander.”

Tot die afgelope paar jaar, was skeiding ‘n kenmerk van Christus se kerk. Om afgesonderd te wees, was ‘n duidelike bevel van God se Woord en ‘n deel van elke Christen se roeping. Maar vandag lyk dit of daar min verskil is tussen die kerk en die wêreld. Dit is tragies, omdat God sy mense afgesonder het vir sy koninkryksdoel, om instrumente van verandering te wees — met die doel om ‘n verskil in die wêreld te maak.

In plaas daarvan, wil baie kerke deesdae die wêreld paai. Hulle het Christus se evangelie gekompromitteer eerder as om op die evangelie te staan om ’n impak op die wêreld te maak. Die gevolg is dat baie Christene hulleself toegelaat het om by die wêreld se waardes en karakter aan te pas eerder as by Jesus s’n.

Dit kan God nie gelukkig maak nie. Wanneer die verlore siele van hierdie wêreld ernstige lewenskrisisse beleef en hulle verward is met geen bron van hoop nie, dan is Christus se kerk veronderstel om die verskil wat hulle soek, te beliggaam. Ons lewens moes onderskei word deur hoop, blydskap, vrede, liefde en vrygewigheid. Maar talle volgelinge het deesdae daardie onderskeiding uitgewis deur te kruip na die streep van kompromie en dit selfs oor te steek. Die gevolg is dat die verlorenes en gebrokenes Christene se lewens nie anders as hulle eie sien nie.

Jesus het dit aangespreek toe Hy vir sy dissipels basies gesê het. “Die wêreld sien My op een manier, maar Ek het Myself ten volle aan julle geopenbaar. Julle het gesien dat die vrede wat Ek aangebied het, nie deur die wêreld ontvang word nie. Ek het aan julle die waardes van my koninkryk gedemonstreer — hoe om te lewe, te glo en die Vader te dien. Daardie waardes is sterk in teenstelling met die wêreld s’n. As Satan geen deel aan My het nie, kan hy ook geen deel aan julle lewens hê nie.”

As God praat van skeiding of afsondering van die wêreld, beteken dit nie om onsself daarvan te onttrek nie. Die skeiding wat Hy begeer, vind in die hart plaas. Dit word weerspieël in ons begeertes, ons keuses en ons lewenstyl. Vir ‘n ouer geslag van Christene, beteken om afgesonder te wees om nie te drink, te rook of partytjie te hou nie. Dit is uiterlike dinge, maar God spreek baie meer as dit aan. Hy vra, “Is jou hart steeds verbind aan die wêreld op ‘n manier wat My uitsluit? Vind jy vrede en eie waarde van dit wat die wêreld oor jou sê of oor hoe Ek jou sien?”

Die Here beskryf twee baie verskillende toestande van die hart. Volgens Jesus, sal hierdie verskil in mense geopenbaar word in die laaste dae. Openbaring vertel vir ons die goddelose sal meer goddeloos word en die heiliges sal meer heilig word. Natuurlik, is elke Christen se heiligheid gebaseer op sy posisie in Christus. Maar heiligheid is ook ‘n strewe, sowel as ‘n posisie — dit is ‘n deel van ons verhouding met Jesus. Soos ons sy heiligheid soek, neem die aantrekkingskrag van hierdie wêreld in ons af.

Waarom is daar so min skeiding van die wêreld deur die kerk vandag? Een rede is dat daar baie min oproepe is tot skeiding. Wanneer ‘n herder heiligheid verkondig, word hy as outyds, negatief en wetties beskou. Maar dit moenie saak maak nie. Enigiemand wie se lering nie die Bybelse konsep van skeiding of afsondering insluit nie, doen sy mense ‘n onreg aan, want dit is minder as Jesus se woorde.

Abraham was nie ‘n Christen of ‘n Jood nie. So ver as was ons weet, het hy hoegenaamd nie enige geskiedenis met God gehad nie. Maar eendag was hy deur God opdrag gegee, “Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys” (Génesis 12:1). Abraham het opgepak en vertrek!

Ons almal beskou Abraham as ons voorvader in die geloof, maar sy storie is eintlik ‘n bietjie vreemd. Hier is ‘n man wat alles gehad het — rykdom en erfenis, ‘n wonderlike vrou en baie beeste en grond. Ongelooflik soos dit klink, toe ‘n stem hom opdrag gee, “Staan op en gaan,” het hy geluister. Hy het homself gewillig afgeskei van alles wat hy geken het, selfs goeie dinge, om God te volg.

As jy getroud is, laat my jou vra: Sou jy dink dit is vreemd as jou eggenoot vir jou sê dat ‘n stem met hom gepraat het om sy werk, sy pensioenfonds, julle huis en besittings prys te gee en saam met julle gesin te trek na ‘n ander staat met geen belofte van inkomste nie — net omdat hy dink God het hom gesê om dit te doen? Miskien sou jy gewillig wees om te gaan — maar sal jy nie in die versoeking wees om eers die sielkundige te bel nie?

Wat het Abraham gedring om dit te doen? Wat het so ‘n duidelike skeiding bemagtig? ‘n Kykie na die apostel Stéfanus verskaf ‘n bietjie lig daarop. Hy was duidelik afgesonder vir God se doeleindes en het tekens en wonders in Christus se naam gedoen in die vroeë kerk. Dit het hom egter in die moeilikheid met godsdienstige leiers gebring. Toe hy voor hulle verhoor is, het hy gepreek, “Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was” (Handelinge 7:2).

Stéfanus het in wese gesê, “Gee my geloof julle aanstoot? Wel, dit het alles begin toe ons vader Abraham sy afhanklikheid van die dinge van hierdie wêreld verlaat het om God te volg. Toe hy eers die Here se heerlikheid aanskou het, het hy met blydskap homself afgesonder en afgeskei van alles wat hy geken het!”

Baie mense wat hier lees, weet waarvan Stéfanus gepraat het. Toe hulle Christus eers ontmoet het, het hulle erken, “Ek het pas iets gesmaak wat ek nog nooit tevore gesmaak het nie. Ek het nog nooit hierdie soort blydskap ervaar nie. Ek het nog nooit hierdie wonder beleef nie. Ek weet verseker dat ek op heilige grond staan.”

Abraham het ontsaglike heldedade gedoen soos God hom in die volheid van sy seën gelei het. Later, toe omstandighede egter versleg het, het Abraham sy fokus op God se heerlikheid verloor. In plaas daarvan, het hy hom na sy eie hulpbronne gewend: “En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land” (Génesis 12:10).

Die storie maak dit duidelik dat Egipte die laaste plek was waarna Abraham moes gegaan het. Op pad het hy sy vrou in gedrang gebring en het haar vir ‘n tyd lank aan ‘n vyandige koning afgegee en hy het gelieg en dinge gemanipuleer om homself te red. Hierdie man het God volkome vertrou tot voor daardie oomblik. Waarom het hy nie op God vertrou om hom deur sy probleem te dra nie?

Miskien het dieselfde ding in jou krisis gebeur. Wanneer die lewe moeilik word — in jou finansies, jou gesondheid, jou familie — hou jy deur dit alles heen jou oë op God se heerlikheid? As jy al ooit “na Egipte” gegaan het vir hulp in sulke tye, dan weet jy hoe ‘n lewelose poging dit kan wees. Dit kompliseer dikwels net die probleem en bring skande en wanhoop.

My punt is dit: Ons afsonderlikheid van die wêreld gebeur nie deur ons pogings en vermoëns nie. Dit gebeur deur ‘n openbaring van God bring – en sy heerlikheid bly met ons selfs in ons swaar tye. Beskou die profeet Jesaja. Toe hy die tempel binne gegaan het, het hy God se heerlikheid gesien: Toe “het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het” (Jesaja 6:1). Daardie heilige toneel het Jesaja op sy aangesig laat val op die vloer in nederige ontsag: “Toe het ek gesê: 'Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!’” (Jesaja 6:5).

Op daardie oomblik het Jesaja God se afsonderlikheid erken. Die Here het hom vertel, “Ek het jou afgesonder vir my heilige doeleindes. Ek stuur jou om my woord te verkondig aan ‘n verdorwe volk. Hulle sal jou weerstaan, maar jy sal in staat wees om dit te verdra, omdat jy my heerlikheid gesien het. As hulle teen jou draai, dan hoef jy nie ‘na Egipte’ te gaan nie, omdat jy die natuur van God, wat jou geroep het, gesien het.

Wanneer God se heerlikheid manifesteer, openbaar dit sy afsonderlikheid van ons – sy reinheid, heiligheid en almag. Selfs die hemelse wesens in sy teenwoordigheid sien Hom as afgesonder en vol majesteit. Huidiglik is daar menigvuldige engele wat in God se teenwoordigheid is en hulle hou nooit om Hom dag en nag te prys nie. Hulle ononderbroke lied is, “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof” (Openbaring 5:12). Dit is die effek van God e heilige natuur: Hy roep ons tot lof te alle tye in alle dinge.

Dit is wonderlik dat hierdie heilige God ons vertel, “Die wêreld sal My nie sien nie — maar julle sal.”

Die godsdienstige leiers was onstoke toe Jesus God sy Vader genoem het. Hulle het dit as laster gesien en wou hom daaroor doodmaak. Jesus het egter hierdie gewaagde lering ‘n stap verder geneem toe Hy vir sy dissipels vertel het, “Julle hemelse Vader gee nie net vir julle om nie, maar Hy gaan sy huis in julle maak.” “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Verbeel jou jy is een van die dissipels in die Bokamer toe Jesus dit gesê het. Jy is dieselfde geleer as die vorige geslag se mense, dat niemand God kan sien en bly leef nie. Jy het geweet dat die regverdige Moses net ‘n klein deeltjie van God kon sien en dit oorleef. So, toe jy Jesus se leer gehoor het, sou jy gedink het, “Daar is geen manier waarop God sy huis in my kan maak nie. Hy is te heilig, te ontsagwekkend, te anders. Dit kan nie wees nie!” Jesus het egter hierdie ontsaglike tweeling waarhede aan ons toevertrou: God is inderdaad heilig en rein — en Hy wil in ons, sy skepping, woon.”

Dink aan wat Jesus sy jong kerk daardie nag vertel het. Hy het begin deur te sê dat Hy sou gaan om vir ons ‘n woning te berei. En Hy het afgesluit deur te sê dat Hy sy woning in ons sou maak. Daar is hierdie paradoksale prag van ons God – heilig en rein, maar tog intiem en sorgsaam. Hy is bo ons en met ons — en Hy gee ons vrede waar ons dit nooit op ons eie sou kon vind nie. Dit is ‘n God waardig ons vertroue in en deur alle dinge!