Ontwikkel ‘n Gewoonte om te Bid

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde” (Matthéüs 6:6).

As Jesus praat van na ‘n binnekamer gaan om die Vader te soek, praat Hy van iets baie meer as ‘n fisiese binnekamer. Hy verwys na ‘n plek waar jy alleen met Hom in intieme gemeenskap kan wees.

Het jy ‘n binnekamer van gebed? Het jy ‘n gewoonte om jouself met God af te sonder? Dit kan in jou kar wees terwyl jy werk toe gaan of in jou studeerkamer by jou huis. Die Heilige Gees bearbei jou en jou gees reageer, “Ek moet vandag met my Vader praat!” Om ‘n gewoonte van gebed te hê, ‘n daaglikse praktyk om jouself te dissiplineer om voor God te kom, is noodsaaklik vir jou geestelike groei.

Jesus het teen skynheiligheid in gebed gewaarsku. Hy het ‘n dramatiese onderskeid getref tussen diegene wat God in die binnekamer soek en hulle wat bid sodat hulle deur ander heilig beskou kan word. Skynheiliges is akteurs, mense wat heilig optree om die lof van ander te ontvang. Jesus het gesê daar is baie sulke akteurs in die kerk: “En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het” (Matthéüs 6:5).

Ver te veel Christene beoefen nie ‘n wonderlike, daaglikse gemeenskap met die Here nie. Die oorgrote meerderheid bid slegs in die kerk en by maaltye, met miskien ‘n paar vinnige woorde tot God voor hulle gaan slaap. Geliefde, daar is absoluut geen krag in lukrake, aan-en-weer-af gebed nie. God sien tot in die dieptes van ons wese en Hy begeer dat jy Hom met jou hele hart sal soek.

Die gewoonte van daagliks tot God nader, is bedoel vir elkeen van ons! “Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek” (Psalm 119:2).