God se Doel met Ons Droefheid

En Jesus se Heerlikheid Daardeur!

Wat gebeur met ons siel as ons innige, persoonlike droefheid beleef? Watter rol speel droefheid in ons lewe saam met Jesus! In een kort gedeelte, verduidelik Petrus dit alles, “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6-7).

Petrus leer ons hier drie belangrike dinge oor die droefheid wat ons beleef: 1) Droefheid is smart vir ‘n seisoen; 2) dit lei ons na ‘n beproefde, gereinigde geloof; 3) dit is ‘n middel wat lei tot kragtige demonstrasies van God se heerlikheid. Wie sou kon dink dat iets so hartseer, kan lei tot iets wat ons so oorvloedig kan seën?

Die eerste stadium van enige tipe droefheid, is die moeilikste om te verduur. Die laaste ding wat jy enige sinvolle mens sal hoor sê, is: “Op hierdie oomblik sal ek nog ‘n beproewing waardeer.” Petrus was hiervan bewus toe hy dit aan hierdie groep Christene in ballingskap geskryf het. Hulle was uit hulle vaderland gedwing na ‘n omgewing wat hulle vyandiggesind was. Petrus het geweet hoe hulle moes voel toe hy geskryf het: “...al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewing” (1:6, my beklemtoning).

Die Griekse woord vir “bedroef” hier, praat van innige, roerende emosies. Almal van ons beleef beproewings wat ‘n erge emosionele tol eis. Petrus het sy lesers herinner dat dit normaal was. “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (4:12). Hy het hulle gerusgestel, “Julle ernstige beproewing verras God glad nie. Hy verstaan, en te midde daarvan Hy is besig om iets te doen wat jou nie net sal seën nie, maar die wêreld sal verstom.”

Talle Christene voel skuldig en selfs apologeties omdat hulle beproewings het.

Negentig persent van die mense wat ek, as ‘n herder van die kerk, al beraad het, het na my gekom omdat hulle baie moeilike tye beleef het. Toe ek vir hulle gevra het hoe hulle beproewing hulle laat voel het, het hulle glad nie enige emosies genoem nie. Hulle het altyd geantwoord, “Ek dink dit sal binnekort beter gaan,” of “Ek moet net aan God se beloftes vashou.” Hulle was egter duidelik bekommerd, ontsteld en kon nie slaap nie. Ek moes hulle druk oor hulle emosies en soms verskeie kere vra totdat hulle hulleself sover kon kry om te sê. “Dit voel verskriklik, aaklig, asof ek in die hel is!” Die meeste van die tyd, is hulle verlig om dit te sê.

Hulle het nie besef dat die Bybel vol is van presies daardie uitdrukkings, wat deur die helde van die geloof herhaal is nie. Dawid het openlik oor sy droefheid gesing. “Elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane” (Psalm 6:7). Hy het by God gepleit om aandag te gee aan sy droefheid en het gesê, “Hou my trane in u kruik” (56:9).

Innige droefheid sluit meer as hartseer in. Jeremia se droefheid het hom gedwing om kwaai beskuldigings teen God te bring. Vervolg en gemartel, het die profeet uitgeroep, “HERE, U het my oorgehaal [mislei]” (Jeremia 20:7).  Ons grootste voorbeeld van beangste uitdrukking is Jesus se eie uitroep aan die kruis, “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matthéüs 27:46, Markus 15:34).

Ek is dankbaar dat die outeurs van hierdie beskrywings alle emosies vir ons onthalwe insluit. Ons sien groot wonde, leed en folterende pyn en elke gedeelte leer ons om ons droefheid ernstig op te neem en nie oppervlakkig nie. Wanneer ons kan sê, “Ek ly en ek het hulp nodig,” is dit die begin van ‘n getuienis. Ons getuienis van God se barmhartige, reddende krag groei uit die realiteit van ‘n verskriklike omstandigheid.

Beskou die getuienis van Daniël se drie vriende wat geweier het om voor Nebukadnésar se afgode te buig. Hierdie manne het die enigste ware God aanbid sodat hulle, toe hulle met die dood gedreig was, geantwoord het, “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos” (Daniël 3:17).

Dit was ‘n dapper stelling om te maak teenoor ‘n heerser wat die mag oor lewe en dood in sy hande gehad het. Moenie ‘n fout maak nie. Hierdie manne het die dodelike werklikheid wat hulle in die gesig gestaar het deur stand in te neem, besef. “Maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (3:18, my beklemtoning). Hulle het met ander woorde gesê, “Die Here sal verheerlik word of Hy nou kies om ons te verlos of nie. Hoe dit ook al sy, Hy verlos ons van die kwaad om voor u afgode te buig!” Dit het hulle getuienis nog kragtiger gemaak.

Wanneer ons die volle werklikheid van ons beproewing besef, gaan ‘n deur vir God oop om die eer te ontvang wat Hom toekom.

Wanneer ons treur, kan ons groei.

Petrus skryf, “Daarin verheug julle jul, al word julle nou ... bedroef onder allerhande beproewinge” (1 Petrus 1:6, my beklemtoning). Waarom sou enigeen juig in hulle swaar beproewing?

Die Griekse woord wat Petrus hier vir “verbly” gebruik, beteken “spring.” Dit is dieselfde woord wat twee keer in die boek Handelinge gebruik word waar verlamde mense bonatuurlik genees was en begin het om te dans en in die lug te spring. Petrus sê in wese, “Te midde van jou beproewing, kan jy spring van blydskap.” Hy het goeie rede om dit te sê. Hy het geweet dat Jesus by ons is in al ons beproewings en die wonderbaarlike storie van Daniël se drie vriende bewys dit.

“Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun” (Daniël 3:23-25). Die meeste teoloë stem saam dat die vierde mens in die vuuroond Jesus was, saam met die drie ongedeerde manne.

In ons vorige beproewings, het ons dalk nie besef dat Christus met ons was nie. Petrus sê vir ons dat Jesus altyd daar was. Om sy nabyheid te besef in ons huidige situasie, bou ‘n vertroue op wat ons nooit voorheen gehad het nie. Ons kan sê, “Here, ek weet dat ek kan enigiets verdra want U is met my. Dit maak nie saak hoe dit uitdraai nie, U hand is op my lewe. Dit is soos ‘n nuwe geloof.”

Dit is wat Petrus bedoel met die frase, “die beproeftheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan” (1 Petrus 1:7). Ons het nie langer ‘n vreesagtige, blinde geloof wat sê, “Ek hoop Jesus sal my daaruit verlos” nie, maar een wat sê, “Ek weet dat my Here goed is, maak nie saak wat Hy vir my kies nie, omdat Hy met my is.”

Petrus self het in ‘n wêreld geleef waar hy groot swaarkry beleef het en vervolging altyd net om die draai was. Hy was in die tronk gegooi en geslaan. Tog het hy met groot geloof geleef omdat Hy geweet het dat selfs in sy grootste lyding, het sy Meester wonderlike doeleindes deur die omstandighede van sy lewe bewerkstelling. Hy wil dit ook vir ons hê. Te midde van ons donkerste uur, wanneer die lewe regtig seermaak, het ons rede om te juig: “Jesus is altyd met my!”

Soos Petrus, het Paulus geweet dat die Here nie ons beproewings veroorsaak nie, maar dat ons daardeur geseën word om sy ontsaglike heerlikheid te aanskou.

Paulus se lewe was vol beproewings soos niemand anders s’n nie. Hy getuig, “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring — dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid” (2 Korinthiërs 11:24-27).

Paulus het geweet dat God hom kon verlos van al hierdie beproewings. Ten spyte van sy skynbaar eindelose smarte, was die apostel se gedagtes altyd op die mense wie hy bedien het. “Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (11:28). Paulus se getuienis is pragtig om te aanskou. Christus se gerusstellende teenwoordigheid het hom in staat gestel om alle lyding, droefheid en probleme ter wille van ander te verdra.

Petrus het dieselfde kwaliteit gesien in die mense aan wie hy geskryf het: “Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus 1:8).

Die uiteinde van hierdie soort geloof is ‘n lewende getuienis vir die wêreld. Toe Nebukadnésar die bonatuurlike verlossing wat God vir sy drie dienaars bewerkstellig het, gesien het, het die koning uitgeroep, “Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God. Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ’n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie” (Daniël 3:28-29).

Wat ‘n seën kan ons beproewings wees. Net soos Petrus sê, dit lei tot “die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele.” Op die ou end, is ons gesuiwerde geloof “tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:9,7). Mag dit ook so vir jou wees in jou huidige beproewing. Hy is met jou deur dit alles vir sy heerlikheid.