Die Behoefte In Jou En Hoe Om Dit Te Vervul

Hierdie boodskap is vir enigiemand wat op hierdie oomblik ‘n behoefte het. Dit is spesifiek vir hulle wat te bang is om hulle nood uit te druk. In die ag-en-vyftig jaar wat ek reg oor die wêreld preek, het ek geleer dat mense wat die diepste nood het, dikwels ‘n front kan voorhou. Van die buitekant lyk dit asof alles goed gaan in hulle lewens, maar van binne voel hulle soos die dood.

Toe The Cross and the Switchblade die eerste keer gepubliseer is, het ek ‘n aantal welbekende persoonlikhede van TV geselsprogramme ontmoet. Een was ‘n komediant wat al tien keer geskei was. Vir die eerste uur het ons geluister hoe die komediant ‘n bespotting van huwelike maak. Hy het gespot, “Ek is oppad om vir die elfde keer te trou.” Die hele tyd het sy toekomstige vrou in die gehoor gesit. Die komediant het gesê dat mans hulle huwelike moet verlaat as hulle nie gelukkig is nie en vir hulleself iemand jonger moet kry.

Op ‘n keer het die gasheer na my toe gedraai en gesê, “Mnr. Wilkerson, jy het nog niks gesê nie.” Op daardie oomblik het die Gees van die Here oor my gekom en ek het aan die komediant gesê, “Meneer, ek dink jy is die eensaamste man in Amerika. Ek dink jy huil jouself aan die slaap in die nag. Jy spot oor die huwelik en oor jou eie vorige huwelike, maar ek dink dit is net toneelspel.”

Die gasheer het gou na advertensies oorgeslaan. ‘n Paar uur later toe die program verby was, het ek buite gewag om ‘n huurmotor te roep. Die komediant het met ‘n treurige kyk op sy gesig aangery gekom. Hy het gesê, “Mnr. Wilkerson, ek moet met jou praat. Laat my asseblief toe om jou na jou hotel neem.” Ek het agter ingeklim terwyl hy en sy verloofde voor gery het. Die komediant het na my gekyk en gesê, “Dominee, jy het die spyker op die kop geslaan.”

Terwyl hy gery het, het hy net sy kop geskud en voortgegaan: “Tien vroue kan nie verkeerd wees nie. En ek het hierdie vrou beswadder,” het hy gesê terwyl hy sy kop in haar rigting geknik het. “Ek dink ek het God nodig.  Van lankal af het ek ‘n behoefte diep binne-in my. En toe dit nie vervul word nie, het ek van een vrou na die ander gegaan. Ek het probeer om iemand te vind wat hierdie teisterende behoefte kon vervul.” Ek het daardie man bedien en hom van Jesus vertel en saam met hom en sy toekomstige vrou gebid.

In al my jare van bediening, het ek nog nooit iemand ontmoet wat nie ‘n behoefte gehad het nie.

Ek het met jong mense gewerk wie se dwelmverslawings so erg was dat die gemeenskap se kenners gesê het ons moet maar opgee op hulle. Maar ek het geweet dat elke smagting wat tot hulle verslawing gelei het, ‘n diepe behoefte na liefde was — God se liefde.

Daar is in elkeen van ons een of ander diep behoefte, ‘n diepe seerkry, ‘n ongeneesde pyn. Dit kan met enigiets te doen hê – familie, kinders, huwelik, beroep of net eensaamheid. Probeer soos ons wil, ons kan nie ons behoefte in die teenwoordigheid van God wegsteek nie. Die Heilige Gees is ‘n snuffelhond uit die hemel wat na ons toe kom om ons oop te maak vir die liefde van Jesus. Die Gees manifesteer hierdie liefde nie net in woorde nie, maar in dade en wys ons die weg hoe om ons diepste behoeftes te vervul.

Ons kan nie enigiets fisies doen om ons behoefte te vervul nie. Geen dokter of sielkundige kan dit voorsien nie. En ons kan dit nie doen deur na een of ander emosionele antwoord te soek nie. Geen pastoor of vriend, nie eers ‘n gade kan daardie innerlike behoefte vervul nie. Niemand kan by die wortel daarvan kom nie, want hulle is nie daartoe in staat nie.

Daar is mense met groot rykdomme, wat tot hierdie besef gekom het. Ek onthou dat ek gelees het oor die eienaar van een van New York stad se sokkerspanne wie se dogter oorlede is. Hierdie jong vrou het al die geld gehad wat sy wou hê. Sy het vinnige karre gehad en het ‘n vinnige lewe gely. Toe eendag, was haar lewe weg en geen hoeveelheid geld kon haar terugbring nie.

Dit verstom my hoeveel jong mense aanhou om hulleself aan die partytjie lewe oor te gee in ‘n poging om hulle diepste behoefte te vervul. Vir baie in hierdie land is elke nag ‘n partytjie. Hulle fuif drink en rook dagga in groter getalle as ooit tevore. Dit is alles ‘n poging om van leegheid ontslae te raak en hulle vrese te besweer as hulle aan hulle toekoms dink.

Ek het onlangs aan ‘n prediker se seun gevra waarom hy met die dagga gepeupel saamgaan. Hy het geantwoord, “Ek het nog nooit gevoel dat my lewe enigiets werd is nie. Ek leer stadig en ek was nog nooit aanvaar deur die hoofstroom nie. So, ek het by vriende wat dagga gerook het, ingekom. Ek het gevoel hulle aanvaar my. Dagga stel my vir ‘n rukkie op my gemak. In daardie oomblikke voel ek nie uitgesluit nie. Dan is ek nie bang dat my lewe op niks sal uitdraai nie.”

Maar hy erken dat dit hom nie help nie. Elke keer as ek met hom praat, openbaar hy dat hy dieper en dieper in die daggarokery verval — en hy vind minder en minder vrede daarin. Ek weet dit is waar van sommige lesers. Miskien het jy na dagga, alkohol of een of ander dwelm gedraai om jou van jou pyn te verlig en daardie diepe behoefte in jou te probeer vervul. Maar dit werk nie.

Die Bybel steek nie die feit weg dat die plesiere van die wêreld ‘n bietjie verligting vir ‘n tyd gee nie. Tog is daar ‘n probleem met die sondes van plesier: Die verligting wat dit bring word minder oor tyd. In werklikheid, hierdie sondes hou aan om verligting minder te maak totdat jou siel uiteindelik ‘n negatiewe balans het. Die dinge wat eens plesier gebring het, neem jou nou net dieper en dieper in wanhoop in.

Sommige mense wat hierdie boodskap lees, het in daardie slagyster getrap. Tog is daar onder hulle diegene wat met hierdie werklikheid gedeel het — en hulle het die waarheid van die evangelie aanvaar.

Jy kan nie hulp vir jou behoefte op enige ander plek in die wêreld kry as by Christus nie.

Daar is geen ander plek op die oppervlak van hierdie aarde om na te draai nie. Daar is geen ander hoop nie. Jy moet verstaan dat jou behoefte geestelik is. En geen dwelms, geen mens, geen hoeveelheid geld kan dit vervul nie.

Daar is drie dinge wat die Heilige Gees wil hê dat jy moet weet:

Eerstens, jou enigste hoop is om te erken dat jou behoefte geestelik is. Dit het bitter min met jou verlede te doen. Die probleem is nie waar jy nou is nie, maar wat jou tot op hierdie punt gebring het.

Tweedens, jy kan nie net die waarheid hoor nie; jy moet die waarheid doen. Die Skrif maak dit baie duidelik: Jesus het gesê, “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. As jy my liefhet, sal jy my gehoorsaam. Jy sal doen wat ek sê. Jy sal die waarheid doen.”

Moenie verkeerd verstaan nie: Dit is nie genoeg om die waarheid te ken nie. Miskien ken jy die Bybel van vroeër in jou lewe. Maar selfs as jy dit nie ken nie, maak God dit duidelik in Romeine dat Hy Homself aan die wêreld bekend gemaak het deur die wonder van die natuur en deur in die hart van die mens te spreek. Ons almal is bewus gemaak van die waarheid van God.

Tog is daar meer as net om die waarheid te ken. Daar is die “doen” van die waarheid. Dit beteken om Christus se evangelie te hoor, dit as waarheid te aanvaar en volgens daardie waarheid te wandel. God se plan vir ons is om die waarheid te lewe.

Dit mag eenvoudig genoeg klink. Maar die apostel Paulus praat van hulle “wat die waarheid gehoor het, maar weier om daarin te wandel en wat ongeregtigheid en plesiere liefhet.”

Jou groot behoefte sal nooit vervul word as jy in die diepste van jou wese weet dat dit waar is, maar dit nie wil erken nie en sê, “Ek hou van wat ek doen. Ek kan dit nie opgee nie.”

Daar is ‘n uitroep in jou hart. Jy het by jou einde gekom. Baie wat hierdie boodskap lees, weet dit. Hulle het genoeg van die evangelie gehoor om te weet dat alles wat ek hier sê, waar is. Dit bring my by die derde ding wat die Heilige Gees aan jou wil sê:

In Johannes 17 praat Jesus van sy volgelinge wanneer Hy iets wonderliks en verstommend sê.

In hierdie deel, bid Jesus vir sy dissipels. Tog is Jesus se gebed hier vir elke toekomstige generasie wat hulle vertroue in Hom as Verlosser en Here sou plaas. Jesus sê die volgende: “Ek bid... dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Jesus hou nie hier op nie. Hy voeg in vers 20 by, “Maar Ek bid ... vir die wat deur hulle woord in My sal glo. Met ander woorde, “Ek bid nie net vir hulle wat in My sal glo nie. Ek bid ook vir die mense vir wie my volgelinge sal preek.”

Toe ek onlangs hierdie gelees het, het Christus se gebed my diep en met sy volle krag getref. Hy was besig om vir jou te bid, liewe leser, net soos jy nou die woorde lees wat ek hier skryf. Inderdaad, terwyl jy my boodskap lees, word hierdie gedeelte van die Skrif vervul.

Jesus het vir jou begin bid nog voor hierdie boodskap in my kop gekom het. En wat ek hier vir jou sê, word vergesel met die gebede van Jesus Homself tot die hemelse Vader. Hy bid dat jou hart oop sal wees vir wat jy lees: “Vader, gee hierdie een ore om te hoor en oë om te sien.”

Weet dat terwyl Jesus vir jou bid, het God nog nooit die gebedes van sy Seun geweier nie. Op hierdie oomblik hang alles van jou af. Ek sê die volgende in liefde, maar met die verantwoordelikheid wat aan my gegee is as bedienaar van die Here: Dit is ‘n ernstige saak om die liefdevolle genade van God te ignoreer.

Daar is ‘n neiging in jou om jou hart oor ‘n tyd te verhard. Hoe meer jy van Jesus hoor, hoe minder wil jy hoor — en hoe harder word jou hart. So, geliefde, hierdie dag is die dag vir jou. Dit is die tyd wat God vir jou gestel het om Hom te hoor. Hy het nie hierdie woorde per ongeluk voor jou gebring nie. Jy lees dit omdat dit in sy perfekte, goddelike wil is.

Hy weet nog die hele tyd van daardie diepe behoefte in jou hart. En Hy is getuie van elke poging wat jy aangewend het om daardie behoefte te vervul. Hy het die diep uitroep van jou siel gehoor. Vra Hom nou om jou in sy Seun, Jesus, te ontmoet. Christus is die weg om elke behoefte wat jy het, te vervul. Alles wat jy nodig het, is in Hom. Amen.