Die Hemelse Roeping

Jou Beste Dae Lê Voor Om God se Groot Doel Na Te Streef.

“En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan” (Daniël 10:10).

Ek het dit ‘n studie van my gemaak om te wete te kom waarom en hoe God sy hand op sekere mense lê. Waarom salf die Here sekere mans en vroue met sy aanraking? Waarom het sekeres ‘n ontsaglike dringendheid om te bid en God te soek, terwyl ander in dieselfde geestelike omgewing hulle eie pad loop en ‘n lewe van gemak, selfvoldaanheid, of selfs kompromie leef?

In die konteks waarin hierdie vers verskyn, is Daniël nie ‘n jongman nie. Hy is ‘n gesoute man van God wat nie meer die ambisies van die jeug het nie. Jarelank het hy drie keer per dag gebid en het afgesonderd gelewe van die verdorwe kultuur van die Babiloniërs.

Trouens, Daniël het by ‘n plek in sy lewe gekom waar slegs een ding saak gemaak het: hy het glad nie belang gestel in bekendheid of beroemheid nie. Hy het gesag en mag gesmaak en was verhoog tot ‘n baie prominente posisie in die Babiloniese regering. Maar daardie soort posisie was nie wat hy wou gehad het nie.

Vir Daniël het dit alles neergekom op een begeerte in die lewe: om vir God te spreek.

Sy een groot verlange was om die woord van die Here te hoor, tot sy knieë gedryf te word en deur God se hand aangeraak te word. Hy wou ‘n oor hê om te hoor wat die Gees van God gespreek het vir sy geslag.

Jy moet verstaan watter opoffering dit vir Daniël was omdat hy so besig was. Hy was die derde magtigste heerser in die Babiloniese ryk en die Skrif sê hy was aangestel oor die sake van daardie ryk. Maar selfs met al daardie verantwoordelikhede, was Daniël ‘n man wat volkome oorgegee was aan die Woord van God.

Ek het baie van die eer gesmaak wat ‘n mens kan kry. Ek het ook baie verdriet, verdrukkings, beproewings, toetsings, versoekings en ontsaglike pyn gesmaak. En ek kan getuig dat na dit alles, kom daar ‘n punt in jou lewe wanneer God voordeel wil trek uit jou ervaring. Hy soek ‘n stem om te praat met die geslag van jou spesifieke tyd. En dit is presies wat ek glo Hy hier gedoen het met Daniël.

Daniël het die boek Jeremia bestudeer toe die Heilige Gees vir hom gewys het dat die tyd vir sy volk se verlossing aangebreek het. Die sewentig jaar tydperk wat geprofeteer was, het nou uitgeloop. Hoewel die vasgestelde tyd aangebreek het vir Israel om verlos te word, sou dit egter nie gebeur nie, totdat God ‘n man gekry het deur wie Hy kon spreek.

Toe het die Here gekom na hierdie gebroke man, Daniël, wat homself aan gebed toegewy het en in wese gesê, “Ek gaan iets van jou vra, Daniël. Ek wil jou opnuut aanraak. Ek wil hê jy moet ‘n stem hê wat met hierdie geslag sal praat om my doelwitte te volbring. My volk het onder die bekoring van Babilon verval en daar het slegs ‘n oorblyfsel oorgebly wat getrou aan My gebly het. Tog is selfs daardie oorblyfsel nie in staat om te trek nie. Ek kan nie my doelwitte volbring totdat ‘n stem my volk wakker maak nie.”

Moenie ‘n fout maak nie: Daniël was jarelank op sy knieë voordat God hom weereens aangeraak het.

Daniël het gesê, “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan” (Daniël 10:10).

Hy praat van in besit geneem te word deur die Gees van God. Hier is hoe Daniël gereageer het en wat daarop gevolg het:

“In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie weke om was. En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand...het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas.

“En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte...en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie. En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval” (Daniël 10:2-6, 8-9).

Dieselfde visioen was gegee aan Johannes op die Eiland Patmos. Dit is ‘n visioen van Christus self, wat verskyn in lig wat soos weerlig is en met stem soos die donder. En sy effek is ontsagwekkend en wek ‘n mens ten volle op in die gees.

Toe God my aanvanklik na New York Stad geroep het, het ek ‘n ontwaking in my gees gehad wat my op my aangesig voor die Here neergewerp het. Op daardie stadium, het ek en my vrou, Gwen, ‘n buitelugmaaltyd gehad saam met vriende in die voorplaas van ons huis, in ‘n klein dorpie in Pennsilvanië. Ek het vir maande lank gebid en die Here gesoek. En skielik, te midde van daardie klein byeenkoms, het ek gevoel hoe die Gees van God oor my kom.

Ek het op my aangesig geval net daar in ons erf en die Here se stem het met my hart begin praat. My vrou en vriende het net gekyk hoe ek daar lê, totdat hulle na ‘n rukkie almal opgestaan het en binnetoe gegaan het. Hulle was almal goddelike mense, maar hulle het eenvoudig nie geweet wat God besig was om in my hart te doen nie.

Hierdie soort belewenis het met Nehemía gebeur in die Ou Testament. Aangesien hy ‘n goddelike man was, het hy sy broer gevra om vir hom nuus te bring oor wat in Jerusalem gebeur. Die berig het teruggekom: “Die stad is bouvallig. Die poorte het omgeval, die mure is plat en daar is afvalligheid onder die volk.” Die Skrif sê Nehemía het dae lank geween nadat hy gehoor het God se huis is bouvallig. Hy was oorweldig op die manier wat ek was op ons grasperk daardie dag, gebroke voor ander wat nie kon verstaan nie.

Dit is ‘n ontsagwekkende ding as God besit neem van ‘n gesoute man of vrou van God, met daardie persoon praat en sy of haar lewe aanraak.

Ek was ‘n jongman toe God my aangeraak het, net agt-en-twintig jaar oud. Maar ek was aangeraak en geroep deur die Here jare tevore, toe ek skaars ‘n tiener was. En nou het hierdie tweede aanraking van die Here veroorsaak dat my gees opnuut ontwaak het vir die dinge van God.

Dit het alles op ‘n tydstip gebeur toe ek moeg geword het om soos gewoonweg voort te gaan. Ek het ‘n klein Pinksterkerkie gelei en ek het by ‘n punt van frustrasie gekom. Ek het gebid: “Here, as dit al is wat daar van Pinkster is, al is wat daar van u Gees is, met mense wat net kerktoe kom sonder om deur U verander te word, dan moet iets verander. Asseblief, Here, wys vir my wat U van my wil hê. Neem besit van my lewe vir U doel.”

Ek het hieroor geskryf in my boek, The Cross and the Switchblade. Elke dag sou ek die Skrifte bestudeer en dan ‘n volle uur in gebed deurbring. Maar daar was geen gebrokenheid binne-in my nie, geen vuur nie. Uiteindelik het die Heilige Gees met my gepraat en gesê. “Ek wil met jou praat, David. Maar jy sal vurig moet bid en my aangesig soek. As jy werklik van My wil hoor, gaan dit jou iets kos.”

Jy mag die storie van hierdie punt af verder ken. God het my geroep om na New York Stad te gaan om te getuig teenoor verskeie seuns wat betrokke was by die moord op ‘n jong polio-slagoffer. Dit was die begin van ‘n bediening wat tot vandag toe floreer. Dit het begin met een bendelid wat my na ‘n ander gelei het, en toe na ander bendes. Op sy beurt, het dit my gelei om uit te kom by dwelm- en alkoholverslaafde jeug, wat almal ontnugter met die lewe, wanhopig en doelloos was. Die evangelie van Jesus Christus het menigtes van daardie jeug verander en vandag het die Teen Challenge bediening, wat uit hierdie werk voortgespruit het, meer as 1,400 dwelmsentrums wêreldwyd gevestig.

Ek was ‘n ervare evangelis toe die Here my weereens in beroering gebring het om Hom opnuut te soek.

In die middel 80’s, het ek in Texas gewoon en as ‘n evangelis rondgereis toe ek gedring was om die Here in gebed te soek. Waarom die Gees my in beroering gebring het, het ek op daardie stadium glad nie geweet nie. Nadat ek weke lank in gebed deurgebring het, het die Heilige Gees met my gepraat: “Ek het ‘n nuwe werk vir jou om te doen, David. Jy het goeie ervaring vir hierdie werk waarvoor Ek jou roep. Maar jy sal My moet soek met ‘n ywer soos jy nog nooit voorheen gehad het nie.”

‘n Paar maande hierna, het ek op die strate van New York Stad geloop laat in die nag toe ek by die bekende hoek van 42ste en Broadway Straat aangekom het. Die plek was vol dwelmsmouse wat dwelms verkoop het en dit het so gebeur dat dit dieselfde week was waartydens ‘n jong basketbalspeler, Len Bias, gesterf het aan ‘n oordosis kokaïen. Sommige van die dwelmsmouse het daardie nag uitgeroep, “Ek het die goed wat Len Bias doodgemaak het!”

Ek was geskok. Hulle het die dood verkoop asof dit die heel beste “trip” was. Ek het begin ween en gebid, “O, Here, hierdie samelewing is in chaos. Rig ‘n kerk op hier in Times Square te midde van hierdie hel. As U een of ander jong prediker sal roep om hierheen te kom, sal ek geld insamel om hom te help.”

Dit is toe dat die Heilige Gees met my hart gepraat het: “Jy ken hierdie stad, David. Doen jý dit. Stig jý ‘n kerk hier.” Op daardie stadium was ek agt-en-vyftig en ek het aangehou dink terwyl ek gebid het, “Here, ek is te oud om dit te doen.” Maar die Heilige Gees het aangehou om my hart te breek oor die stad. Op ‘n ander reis na New York, het die Heilige Gees vir my gefluister:

“David, ek gaan vir jou ‘n teater gee hier op die kruispaaie van die wêreld en Ek sal dit met mense vul. Ek het ‘n oorblyfsel hier in New York en hulle is honger vir die boodskap waarmee ek jou gesalf het om te verkondig. As jy sal aanhou om my vurige te soek, sal jy My ‘n werk sien doen wat jou asem sal wegslaan.”

Of jy ‘n bedienaar of ‘n gewone Christen is, dit maak nie saak hoe lank jy die Here dien nie: jou beste dae lê dalk nog voor.

In my sewentigs, na nog ‘n tydperk van vurige gebed, het die Here my weer geroep vir ‘n ander werk. Ek het deur die wêreld begin reis saam met my oudste seun Gary  om herders in hoofsaaklik arm of ontwikkelende lande te bedien.

Neem dit van my: Jou beste dae as ‘n dienskneg van die Here mag steeds vir jou voorlê. Jy het goeie ervaring, en God hoor jou gebede so duidelik as wat Hy het toe jy die eerste keer na Hom uitgeroep het vir verlossing. Maar as jy wil hê Hy moet jou dae vul met sy vars aanraking, kan jy seker wees dat dit jou iets gaan kos. God deel nie sy salwing onverskillig uit nie. En Hy sal dit nie gee as jy nie gewillig is om vurig sy teenwoordigheid binne te gaan nie.

Nog nooit in ons geskiedenis het hierdie land nodig gehad om God se stem meer as nou te hoor nie. Nog nooit het die Here meer gebroke mans en vroue nodig gehad om Hom te soek meer as vandag nie. Ek dring by jou aan, maak nie saak wat jou ouderdom is nie, maak nie saak hoe lank jy Jesus dien nie: gee jouself oor aan gebed om die Here te soek vir wat ook al sy doel mag wees vir hierdie tyd. Bid soos ek: “Here, gebruik my weereens. Raak my aan, bring my op my aangesig, plaas my op my knieë en laat my u stem vir my opdragte hoor gee. Gebruik my dan soos U goed dink. Ek is gewillig, Here.” Amen.