Die Onwankelbare Liefde van God

David Wilkerson (1931-2011)

Die woord onophoudelik beteken “onverminderd, nie in krag of tempo verswak nie; wat nie verander kan word nie en by ‘n vasgestelde koers hou.”

Dit is ‘n wonderlike beskrywing van die liefde van God. Niks kan sy liefdevolle najaging van beide sondaars en heiliges belemmer of verminder nie. Die psalmdigter Dawid het dit so uitgedruk: “U sluit my in van agter en van voor ... Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar”(Psalm 139:5,7-8).

Dawid praat van die groot hoogte- en laagtepunte wat ons in die lewe beleef. Hy sê: “Ek voel soms geseënd dat ek met vreugde opgelig word. Op ander tye voel ek of ek in ‘n lewende hel verkeer, veroordeel en onwaardig. Maar dit maak nie saak waar ek is nie, dit maak nie saak hoe geseënd ek is of hoe neerslagtig ek voel nie, Here, U is daar. Ek kan nie wegkom van u onophoudelike liefde nie! Selfs as ek ongehoorsaam is – teen u waarheid sondig of u genade as vanselfsprekend aanvaar – hou U nooit op om my lief te hê nie. U liefde vir my is sonder ophou!”

Beskou ook die getuienis van die apostel Paulus. Hier was ‘n man wat daarop uit was om God se kerk soos ‘n besetene te vernietig vanweë sy haat vir Christene. Hy het dreigemente van slagting uitgeadem teen almal wat Jesus gevolg het, en het toestemming gevra om gelowiges te vervolg sodat hy in hul huise kon instorm en hulle na die tronke kon sleep.

Ná sy bekering, het Paulus getuig dat God hom selfs gedurende daardie haatvervulde jare liefgehad het. Hy het geskryf: “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). En deur die jare heen, het Paulus toenemend oortuig geraak dat God hom vurig sou liefhê tot die einde toe, deur al sy hoogte- en laagtepunte.

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:38-39). Hy het in wese gesê: “Niks kan my van God se liefde skei nie – geen duiwel, geen demoon, geen owerhede, geen mens, geen engel – niks kan God keer om my lief te hê nie.”

Dit is die hoop van elke gelowige!

Tags