Die Rivier Styg

God Maak Sy Kerk Lewendig Om Te Hanteer Wat Kom

Die profeet Esegiël het ‘n visioen ontvang van ‘n stroompie wat uit die Tempel in Jerusalem gestroom het. Hierdie stroompie water het by die troon begin en verby die altaar gevloei, deur die Tempelhof, onderdeur die oostelike poort van die stad en uiteindelik tot in die woestyn. Soos die water gevloei het, het dit meer intensief geword, dieper, wyer en vinniger.

Terwyl Esegiël gekyk het hoe die water vloei, het ‘n man met ‘n meetsnoer aan hom verskyn. Die man het beduie, “Volg my,” en hy het Esegiël tot in die water gelei. Hy het vir die profeet gesê om met die stroom af te loop, en ná 1,000 el (ongeveer een derde van ‘n myl), het die water tot by Esegiël se enkels gestyg. “en hy het my deur die waters laat deurgaan – waters tot aan die enkels” (Esegiël 47:3).

Esegiël het verder geloop vir nog 1,000 el, waar die water tot by sy knieë gestyg het. Na nog 1,000 el, het die water by sy heupe gekom. Uiteindelik, na nog 1,000 el, het die water tot by Esegiël se ken gekom. Op daardie stadium, het die water ‘n groot see gevorm. Die enigste manier waarop Esegiël verder kon gaan, was om te swem.

Die man met die meetsnoer het toe vir Esegiël na die rivierwal geroep. Terwyl Esegiël uit die water geklim het, het die man vir hom gesê om terug te kyk na die rivierstroom. Esegiël was verstom oor wat hy gesien het.

Oral waar Esegiël gekyk het, het trillende lewe opgespring.

Die profeet het ‘n ontsaglike toneel aan beide kante van die rivier aanskou: gesonde bome, vrugbare takke en groen plantegroei. Waar die rivierstroom ook al gevloei het, het alles gelewe.

Dit was ‘n wonderlike gesig en het Esegiël laat uitroep, “Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ‘n menigte bome gesien, aan altwee kante” (47:7). Wat Esegiël voor hom gesien het, was bonatuurlike groei. Hy moes wonder, “Watter soort water is dit hierdie? Dit veroorsaak sulke ontsaglike lewe om so vinnig uit te spruit.”

Die man met die meetsnoer het vir Esegiël gevra, “Het jy dit gesien, mensekind?” (47:6). Met ander woorde: “Esegiël, verstaan jy wat jy voor jou sien?” Wat Esegiël gesien het, was oorvloedige lewe. Tog kon hy nie verstaan wat hy gesien het nie, omdat dit ‘n visioen van die toekoms was.

Esegiël het nooit die visioen verduidelik nie, maar deel dit bloot aan ons mee. In die Nuwe Testament, verduidelik Petrus wat Esegiël gesien het waar hy skryf: “Aan hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het” (1 Petrus 1:10-12, my beklemtoning).

Volgens Petrus, het die profete van ouds, nagevors om die betekenis van sulke visioene te kry, maar hulle het nooit die volle openbaring daarvan verstaan nie. Al wat Esegiël met die visioen van die rivier kon doen, was om te juig vir diegene in toekomstige tye, wat die bonatuurlike seën wat dit aangedui het, sou beërwe.

Terwyl Esegiël teruggekyk het na die welige groei wat die rivierstroom veroorsaak het, het hy die heerlike resultate van die evangelie aanskou. Die droë land wat in alle rigtings helder groen uitgegroei het, was ‘n beeld van die Gees se werk deur die eeue wat sou kom. God het vir Esegiël ‘n kykie in die toekoms in gegee en in wese vir hom gesê, “Laat my vir jou wys hoe dit alles eindig. Hier is wat sal gebeur met my kerk in die laaste dae.”

Ek is oortuig daar was nooit ‘n tyd waarin God se kinders droeër, dorser en hongerder vir die waarheid was as nou nie. Dit alles is egter op die punt om te verander. God wek ‘n geslag op tot gebed, waar Hy vir hulle ‘n nuwe openbaring gee van die nabyheid van sy koms. In die dae wat kom, sal ons die gawes van die Gees opgewek sien onder God se kinders, insluitend geloof, evangelisasie en profesie, net soos Joël geprofeteer het: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien” (Joël 2:28). Selfs nou reeds begin die rivierstroom van sy Gees magtig deur sy kerk beweeg, ‘n bonatuurlike uitstorting van lewe veroorsaak deur genade en barmhartigheid alleen.

Die kerk sal ten volle lewend moet wees om dit wat kom te hanteer.

Nadat Esegiël die welige groenigheid wat voortgekom het uit die woestyn agter hom aanskou het, was hy beveel om vorentoe te kyk, in die ander rigting. Toe sien hy die magtige rivierstroom wat in ‘n dooie see ingestroom het: “Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word’” (Esegiël 47:8). Soos die rivier van God in die see vloei, gaan dit genesende water bring na die lewelose liggaam van water.

Wat presies is hierdie “dooie see” wat Esegiël gesien het? Dit is die sonde-siek wêreld wat ons oral rondom ons sien vandag soos die laaste uur nader kom. Hel het losgebars en oral is groot duisternis en heersende wetteloosheid. Die nuus is vol berigte van verdraaiings, haat vir Christus, korporatiewe verdorwenheid, plesiermalligheid en verslawings van allerhande soorte. En die mensdom sien die ergste plaag van alkoholisme in die geskiedenis.

Eenvoudig gestel, dit is die “dooie see” van die beskawing. En volgens Esegiël se visioen, in hierdie see van dood, sal God se rivier vloei en bonatuurlike verandering bring. ‘n Stroom van die lewe – Christus-lewe – gaan oral toeneem waar die rivier vloei.

Jy mag dalk sê, “Ek sien dit nie nou gebeur nie.” Ek stem saam dat dit nie so lyk nie. Dit is gedeeltelik so omdat Satan ‘n desperate, laaste-loopgraaf standpunt inneem. Hy is paniekerig en weet sy tyd is kort en daarom wend hy elke wapen aan wat hy kan. God het egter gesê, “Jy sal hierdie geslag nie kry nie, duiwel. My rivierstroom kan nie gekeer word nie.”

Ons kan eenvoudig nie onsself toelaat om te oordeel deur wat ons slegs met die blote oog sien nie. Wanneer God sê, “In die laaste dae sal Ek my Gees op alle vlees uitgiet,” sal Hy dit doen. En Hy het sy Woord as waar bewys deur al die eeue heen. Wie was al ooit in staat om hierdie lewegewende river te stuit? Dit sal nooit weer ‘n stroompie word nie. Dit sal nie verminder word deur ‘n woedende duiwel of stadiger gemaak word deur ‘n skerp toename in ongeregtigheid nie. Dit sal slegs groter word en toeneem in druk en krag.

Hier is hoe ons kan weet dat Esegiël se visioen bedoel is vir ons tyd.

Toe Esegiël sê hy sien “waters om in te swem” (Esegiël 47:5), dui die woord vir “swem” op “wemel, buitengewoon baie.” Kortliks, hierdie genesende waters sal wemel met lewe, wat beteken menigtes van visse. Waar daar eens dood was, sal daar swerms lewendige goeters wees.

“Ook sal vissers daaraan staan (op die oewers)...’n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees...’n menigt” (Esegiël 47:10). Hierdie visioen roep baie vissermanne om te kom en vis te vang in die genesende waters en menigtes met hulle vangste in te bring. Waarop dui die wemelende vis? Jesus het gesê Hy sal sy dissipels “vissers van mense” maak. Dit is duidelik dat hierdie visse bekeerlinge verteenwoordig, mense wat lewend gemaak word deur die genesende waters wat in die dooie see vloei.

Daar is ‘n algemene uitdrukking onder vissermanne: “Alle beperkinge is opgehef,” wat beteken, “Vang soveel vis as wat jy kan.” Dit beskryf die gees agter Esegiël se visioen: “Gaan voluit. Niemand sal onbereikbaar wees nie!”

Verslaafdes, die kerkloses, Islamiete, mense van alle vlakke van die lewe gaan in die lewensnet kom wat die Gees voor hulle uitsprei. Trouens, diegene wat die wêreld as “onbereikbaar” bestempel, sal heeltemal verander word deur die evangelie.

Net soos met die dissipels gebeur het, sal hierdie laaste-dae vangs so groot wees, dat die “nette” sal begin skeur. Die kerk sal skaars in staat wees om alles wat na Jesus toe vlug in daardie uur te hanteer. Soos Johannes vir ons sê in Openbaring, die aantal wat voor Christus se troon sal staan op die laaste dag, sal menigtes wees wat niemand kan tel nie.

Die Bybel sê in die laaste uur sal Satan ‘n stroom teen die kerk stuur. Die duiwel is van plan om God se uitverkorenes weg te voer, en hy gaan die kerk oorstroom met verdrukkings. Wanneer dit gebeur, sal gelowiges vure verduur wat “sewe keer warmer is.”

Ja, God sal nie toelaat dat hierdie demoniese stroom teen sy mense kom sonder om ‘n saamgeperste stroom teen hom aan te drywe nie (sien Jesaja 59:19). Hy gaan die grootste, kragtigste uitstorting van sy Gees in die geskiednies stuur en geen krag – geestelik of menslik – sal in staat wees om dit te keer nie.

Dierbare geheilige, het die duiwel teen jou uitgevaar met ‘n oorweldigende stroom? Verdrink jy in bekommernisse en lyding en dryf jy op ‘n see van leweloosheid? Jy mag dalk oortuig wees jou fontein is droog. Jy kon geval het vir die vyand se leuen dat daar niks lewengewends uit jou vloei nie.

Nee, nooit! So lank as wat jy Jesus as Here vertrou en glo dat Hy die Heilige Gees gee aan almal wat vra, moet jy weet Hy is in jou soos ‘n artesiese fontein. In hierdie soort fontein, word water na die oppervlak geforseer deur ondergrondse druk en dit veroorsaak ‘n konstante stroom. Daardie ondergrondse druk is die Gees, wat voortdurend lewe in jou voortbring.

Jy mag neerslagtig voel oor jou omstandighede. Maar geen leuen uit die hel, geen menslike mag, kan die stroom van hierdie water wat in jou opspring stuit nie. “Die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14).

Moenie vrees nie: die rivier van God se lewegewende Gees vloei tot in daardie dooie see binne-in jou. Dit is ‘n stroom kragtiger as Satan se stroom. En Esegiël het getuig dat waar hierdie rivierstroom ook al vloei, bring dit welige, groen lewe na alles wat dit aanraak.

Hier is wat ek sien kom: die grootste sielreddende oes in die kerkgeskiedenis..

Die skare van 3,000 wat Petrus by Pinkster hoor preek het, was almal gered op daardie dag. Die Heilige Gees se stroom was toe egter slegs ‘n klein stroompie. Dink aan wat kom as ons sien hoe sy rivier sy walle oorstroom in hierdie laaste dae.

Hier is een verstommende gevolg: “En die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Openbaring 12:16). Die rivierstroom wat nou oor die hele aarde vloei, gaan Satan se stroom opsluk.

Ek dring by jou aan om nou saam met my te bid: “Heilige Gees, vloei deur elke woestyngebied in u kerk. Vloei deur die wildernisse in elkeen van ons se lewens, en tot in die dooie see van ongeregtigheid in hierdie wêreld. Bring u genesende waters na die miljoene siele wat verlore is in dooie waters, menigtes waaraan geen mens kon dink nie. En vergewe ons ongeloof, omdat ons u mag beperk!” Amen!