Vertrou Jou Hart Teer Op Christus?

Jim Cymbala

Terwyl ek een somersdag in my kantoor by my huis gesit het, was die blindings oop en die helder môreson het deur die hortjies geskyn. Ek het met iemand oor die foon gepraat en ek onthou dat ‘n direkte sonstraal, ‘n baie helder ligstraal op my knie gefokus was. Toe die persoon aan die ander kant iets snaaks gesê het, het ek gelag en my knie geslaan. Toe ek my broek tref, het ‘n wolk van iets – miskien stof – opgestyg en die lug gevul. Ek het ‘n nuwe droogskoongemaakte Dockers broek gedra, maar ‘n bataljon mikropartikels het uitgekamp in my broek! Ek het my broek al voorheen baie kere geslaan en daar was waarskynlik elke keer wat ek dit gedoen het ‘n wolk, maar tot daardie dag, het ek dit nog nooit opgemerk nie. Slegs deur die intense lig kon ek die mikroskopiese stofpartikels op my skynbaar skoon broek raaksien.

Die Heilige Gees is soos daardie lig. Ons dink miskien ons doen reg, maar wanneer daardie Lig op ons skyn, sien ons baie dinge wat ons nooit voorheen gesien het nie. Soos die Heilige Gees meer en meer beheer van ons lewens oorneem, kry ons ‘n nuwe perspektief oor sonde. Dinge wat ons gewoonlik nie gepla het nie, hinder ons skielik. Ons word oortuig van sonde oor dinge wat reg gelyk het vroeër in ons Christelike lewe.

As ‘n mens nie ‘n toenemende sensitiwiteit oor sonde en ‘n begeerte het om meer soos Chrisus te word nie, is dit betwyfelbaar of daardie mens ooit ‘n ware bekering gehad het. Vals bekerings vind plaas. Dit is moontlik om ‘n verstandelike sekerheid te hê dat daar ‘n God is en dat Jesus sy Seun is. Jakobus sê: “Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19). Maar in ‘n ware geestelike bekering, sal ons altyd teerheid van hart sien, ‘n nuwe vertroue op Christus en ‘n begeerte om meer soos Hy te word. Dit was die patroon vir meer as tweeduisend jaar. Om ons sonde te erken, is nie genoeg nie. Om jammer daaroor te wees, bewys dat God aan die werk is.

Die Gees se werk in ons word bereik deur ons aan sy aansporing en beweging te onderwerp. Hy wil in die diepste van ons wese werk – die plek waar ons gedagtes, begeertes en planne ontstaan. Dit is waarom Paulus skryf, “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:12-13).

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.