Krag om die Duiwel te Weerstaan

Gary Wilkerson

Toe ek grootgeword het, het ek nooit die mantel wat my vader, David Wilkerson, in sy rol as “wag” gedra het, waardeer nie. Hy het ure met God omgestoei oor moeilike preke wat hy gelewer het oor die onderwerp van oordeel. As jongman het ek nie die doel van profetiese boodskappe verstaan nie. My Bybel was vol onderstreepte gedeeltes oor genade, vrede en die eenheid van Christene, nie oordeel, toorn en chaos in die samelewing nie.

As Christene, weet ons dat ons hoop nie in hierdie wêreld lê nie. Tans stook die vyand geweld, en moeilikheid het nou meer sigbaar na ons stede gekom as ooit. Party hiervan is rassehaat, ander is ekonomies. Satan het ‘n vastrapplek deur geweld gekry, maar hy is nooit daarmee tevrede nie – hy wil altyd die deur oopskop en heeltemal oorneem. En ek glo dat hy ‘n volskaalse oorlog in die strate wil hê.

Ek sidder as ek dit sê. Dit is egter net een gevolg van samelewings wat hulleself aan goddeloosheid oorgee. Wanneer kwaad goed gepraat word en goed kwaad, laat God toe dat oordeel plaasvind. Hy doen dit nie om te vernietig nie, maar sodat ons die kwaad wat ons toegelaat het kan herken en ons harte en hoop weer op Hom kan rig.

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Timóthéus 3:1). Paulus sê dit nie om ons bang te maak nie. Hy reken dit alles toe aan die sonde van die menslike hart: “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat in gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer julle van sulke mense af” (2 Timóthéus 3:2-5).

Dit is nogal ‘n lang lys van sondes. Paulus praat egter nie net met die wêreld nie, maar ook met ons Christene: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”

Satan sal aanhou om dood voort te spu en slegs een ding kan hierdie hel op aarde teëstaan: ‘n kerk wat kan opstaan en sy Woord met moed en integriteit te verkondig. Sonder ‘n heilige teenwoordigheid in hierdie donker wêreld, sal die wêreld nooit ‘n alternatief ken nie. Ons opdrag is om die evangelie van vrede en geregtigheid te verkondig, om hoop te bring waar daar vrees is en om lewens te herstel waar dit verwoes is.

Dit is tyd om die Here se aangesig te soek en die hemele te smeek om ‘n geestelike ontwaking in ons samelewing te beleef.