Neem Jou Twyfel na Jesus toe

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het van Johannes gesê,  “Onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie” (Lukas 7:28). Christus het hierdie godvresende man hoog geag. Hy was die een wat die pad voor die Messias gelyk sou maak ter voorbereiding vir sy koms, “Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God” (Jesaja 40:3).

Ons weet dat Johannes Jesaja se profesieë bestudeer het. Die woord wat tot hom gekom het, kon teruggeneem word na Jesaja se geskrifte en Johannes het na Jesaja verwys toe die priesters en Leviete hom gevra het om homself te identifiseer. Toe hulle gevra het, “Wie is jy werklik?” het Johannes altyd geantwoord, “Ek is nie die Christus nie”  (Johannes1:20). Toe hulle uiteindelik verder druk op hom geplaas het, het Johannes homself geïdentifiseer as die een van wie Jesaja geprofeteer het: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit!” (Johannes 1:23).

Johannes die Doper was gretig om te bevestig dat Jesus die Messias was. Johannes se dissipels was vol eerbied vir Jesus terwyl hulle die werke wat Hy gedoen, beskryf het, maar iewers langs die pad het twyfel in Johannes se hart begin posvat. Ten spyte van al die wonderwerke wat Christus gedoen het, het iets hierdie godvresende man se siel bekommer. Dieselfde duiwel wat Jesus in die woestyn versoek het, was die een wat probeer het om Johannes se geloof te vernietig.

Jesus het geweet dat Johannes menslik was en dit maak nie saak hoe kragtig hy gesalf was nie, hy was steeds onderworpe aan die gevoelens en passies wat eie aan die mens is. Christus het geweet dat Johannes in gevaar was om oorweldig te word deur twyfel. Jesus het dieselfde beproewing beleef tydens sy veertig dae in die woestyn en Hy kon vir Johannes sê, “Die duiwel stel vir jou ‘n strik. Maar jy mag nie na sy leuens luister nie.”

Johannes het Jesus se boodskap aan hom aanvaar, wat in wese was, “Johannes, daar wag vir jou ‘n seën van geloof en geloofsversekering as jy Satan se leuen weerstaan. Moenie toelaat dat ongeloof oor wie Ek is in jou wortel skiet nie.”

Op hierdie oomblik, wil Satan hê dat jy bekommerd moet wees oor God se beloftes aangaande jou lewe, jou familie, jou toekoms, jou bediening. Kortliks, die vyand wil hê dat jy moed verloor.

Geliefde, God is besig om in jou te werk. Johannes het sy twyfel direk na Jesus geneem en Jesus het vir hom presies gegee wat hy nodig gehad het. Net so, hou aan jou geloof vas en jy sal sy volmaakte werk in jou siel volbring sien.

Tags