Staan as a Getuienis van God se Getrouheid

David Wilkerson (1931-2011)

“Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog” (Psalm 78:9).

In Psalm 78, lees ons van Efraim, die grootste stam in Israel. Efraim was die mees bevoorregte stam van almal: talryk en sterk, knap met die gebruik van wapens en goed toegerus vir oorlog. Ons lees egter dat toe hierdie magtige stam teenstand beleef het, het hulle moed verloor en omgedraai, al was hulle beter bewapen en magtiger as hulle vyand. Hulle het hulle voorgeneem om te veg en te oorwin, maar toe hulle die vyand sien, het hulle die aftog geblaas.

In hierdie gedeelte verteenwoordig Efraim die talryke gelowiges wat deur die Here geseën en begenadig is. Hulle is goed opgelei, toegerus met ‘n getuienis van geloof en gewapen vir die stryd teen wat ook al kom. Maar as toenemende beproewings en probleme te veel lyk en nie meer hanteer kan word nie — draai hulle om en laat vaar hulle hul geloof.

Die Skrif sê dat Efraim God se getrouheid bevraagteken het: “En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? (Psalm 78:19-20).

“Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie … en hulle was nie getrou in sy verbond nie” (78:32, 37). Uiteindelik, was die gevolg: “[Hulle] het die Heilige van Israel gekrenk” (78:41).

Efraim se gebrek aan geloof en hulle lafhartigheid het die ander stamme beïnvloed. Dink net daaraan hoeveel skade dit berokken het toe die ander stamme dit gesien het: “As hierdie bevoorregte mense nie kon bly staan nie. Watter hoop is daar vir ons?”

Geliefdes, ons mag Efraim nie veroordeel nie, want ons is dalk skuldiger as wat hulle was. Dink daaroor na: ons het die Heilige Gees wat in ons woon. Ons het ook die Bybel, die volle geopenbaarde Woord van God, vol beloftes om ons te lei.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Wanneer ons ons geloofsposisie behou in swaar tye, het ons dieselfde bevestiging van die Heilige Gees: “Mooi so! Jy is God se getuie.”

As teenspoed toeneem en die wêreld in groter nood beland, moet die gelowige se reaksie ‘n getuienis van onwankelbare geloof wees. Daar is hoop vir hulle wat op God vertrou.