Moenie Satan se Leuens Glo Nie

David Wilkerson (1931-2011)

“En so het Jehiskia in die hele Juda gedoen: hy het gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die HERE sy God. En in elke werk wat hy begin het insake die diens van die huis van God en insake die wet en die gebod om sy God te soek, het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad” (2 Kronieke 31:20-21).

Die Skrif sê in soveel woorde hierdie man was die grootste koning wat Israel ooit gehad het. Ons word vertel dat Hiskia se hart so gerig was op die Here dat daar geen koning soos hy voor of na hom was nie. Beskou dan die volgende vers: “Ná hierdie dinge en hierdie bewys van getrouheid het Sánherib, die koning van Assirië, gekom en Juda binnegedring en die vaste stede beleër en bedoel om hulle vir hom te verower” (32:1).

Let op die openingsfrase hier: “Ná hierdie dinge en hierdie bewys van getrouheid ...” Dit verwys na al die goeie dinge wat Hiskia gedoen het: sy lewe in die waarheid en heiligheid; sy soeke na God; sy vashou aan die Here; sy stryd teen sonde en kompromie; sy innige gebed en vertroue; die nasionale herlewing wat hy gelei het. Kort na hierdie geseënde dinge, sê die Skrif, het die duiwel ingekom. Owerhede en magte van duisternis het die regverdige koning en God se volk omsingel en ‘n volskaalse oorlog gevoer om hulle te verslaan en hulle geloof te vernietig.

Ja, dit het alles gebeur ná die instelling van Hiskia se talle bedienings wat stabiel, volwasse en goed gevestig was. Satan het nie sy magte gemors op ‘n swak, onervare, twyfelende kind van God nie; hy het sy mees intense wapens op ‘n geestelike reus gerig. Hierdie godvresende man het nie in sonde of rebelsheid geleef nie; hy was een van God se getrouste dienaars. En tog het Hiskia homself amper oornag in ‘n onmoontlike posisie bevind. En die Here het nie verduidelik waarom hierdie verskriklike aanslag teen hom gekom het nie.

In Hiskia, sien ons ‘n duidelike illustrasie van die duiwel se plan teen elke toegewyde dienaar van God. In ons eie tye van beproewing en versoeking, kom Satan na ons toe met leuens: “Jy is ‘n mislukking, andersins sou jy nie hierdeur gegaan het nie. Daar is iets verkeerd met jou en God is erg ontevrede.” Die Bybel sê vir ons dat God vir Hiskia bonatuurlik verlos het (sien 1 Konings 19:35). En sedert die kruis van Christus, het God se kinders selfs beter beloftes as Hiskia.

Onthou, bid, selfs stil en weier om Satan se aanvalle te vrees. God self sal met jou vyand afreken en Hy sal sy plan uitvoer om jou te verlos!