‘n Tyd om te Floreer

God se Planne vir Jou Het Nie Verander Nie

Hierdie seisoen was een van pandemie, protesoptogte, oproere, politieke onrus en ekonomiese onsekerheid. Die onmiddellike vrees is dalk verby, maar baie leef nou met ontstellende onsekerheid. Sommige sukkel met isolasie, ander met gesondheid, ander met verlies van werk en om hulle gesinne aan die gang te hou. Te midde van dit alles, weet hulle steeds nie wat volgende week inhou of wat hulle langtermyn toekoms sal wees nie.

Een ding wat ons weet, is dat hierdie ontstellende seisoen nie kortstondig sal wees nie. Die effek daarvan sal vir ‘n tyd aanhou. Wat sê dit vir ons as geloofsmense?

Die profeet Daniël het die land Israel in ‘n soortgelyke posisie gesien. Daniël was waarskynlik naby die einde van sy lewe toe hy ‘n skrikwekkende visioen van die Here gekry het. “En die woord is waarheid maar groot swarigheid” (Daniël 10:1). Die visioen het dinge, wat so katastrofies was, geopenbaar dat dit Daniël in ‘n drie weke vas ingedwing het. “Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was” (10:3).

Ons weet dat Daniël ‘n vreeslose man van geloof was. Vroeër in sy lewe, het hy die dood dapper in die oë gekyk in die leeukuil nadat hy geweier het om voor die afgodiese koning te buig. Nou, jare later, het hy gesidder toe hy die angswekkende visioen sien.

Baie van ons wat Jesus volg, dink ons is nie veronderstel om emosies soos vrees te ervaar nie. Persoonlik, as ek swaar tye sien kom, net soos die tydperk waarin ons is, dan kan ek myself nie keer om bekommerd te raak nie. Die Here verstaan dit en stel ons gerus deur sy Heilige Gees.

God se heilige teenwoordigheid in ons oortref alle vrees wat met ‘n beproewing soos die coronavirus gepaardgaan.

Drie weke nadat Daniël hierdie verskriklike openbaring ontvang het, het God hom ‘n heilige besoek gegee. Hierdie goddelike verskyning het die profeet se vreesbevange gerouklaag oorweldig. Toe “het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ’n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ’n menigte” (10:5-6).

Die glansende besoek het Daniël sonder krag gelaat. “Toe het ék ...hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie” (10:8).

So, wat was die eerste woorde wat tot Daniël gespreek was? “En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man” (10:11). Die eerste ding wat God doen as ons in ‘n krisis is, is om ons van sy liefde te verseker. Hy wil hê ons moet weet dat Hy oor ons waak, op die uitkyk is vir ons, dat sy magtige hand ons te alle tye bedek.

Die tweede ding wat vir hierdie geëerde man gesê was, is, “Gee ag op die woorde wat ek met jou spreek” (10:11). In krisistye, het ons onderskeiding nodig om te hoor wat God sê, veral as ons emosies vir ons sê om terug te trek en weg te kruip. Ons moet verstaan wat rondom ons aan die gang is as ons met wysheid in geloof moet optree sonder om bang te wees.

Die man het vir Daniël gesê, “Gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur” (10:11). God het vir die bejaarde profeet gesê, “Ek het steeds planne vir jou, ‘n opdrag vir hierdie oomblik, ‘n boodskap vir jou om te verkondig in ‘n baie ernstige tyd.”

Die man het toe vir Daniël die ewige waarheid van die oomblik gewys. “En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom” (10:11-12).

Wat ‘n diepgaande les vir ons. Daniël het vir drie weke lank gebid en hierdie man het die volgende aan hom geopenbaar, “Jy was in die hemel gehoor die eerste dag toe jy gebid het.” Terwyl Daniël getreur het oor die moeilike tye wat sou kom, was God reeds besig om dinge in die hemel en aarde te beweeg. Veranderinge was onderweg as gevolg van Daniël se getroue gebede.

God se Woord bly dieselfde in tye van wêreldwye krisisse, net soos in tye van vrede.

Die Bybel het nie verander as gevolg van COVID-19 of politiese of ekonomiese probleme nie. Jesus het ook nie verander nie. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Christus is steeds op die troon en sit aan die Vader se regterhand, alomteenwoordig oor alles wat gebeur. Dit gee ons sekerheid dat die Here se planne vir ons nooit verander nie. “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).

As virusse, geweld en ontnugterende probleme tref, gaan Jesus nie gou na sy nuusvoer kyk nie. Hy weet presies wat aangaan. Trouens, Hy het alles, wat ons beleef vooruit gesien. Hy het nie gesê, “Wel, Ek het spesifieke planne vir jou gehad, maar hierdie virus het alles verander. Ek sal nou aanbeweeg na Plan B” nie. Nee. God het heeltyd geweet wat sy planne vir jou gedurende hierdie tyd sou wees. Dit is planne, nie vir ramspoed nie, maar vir jou beswil en tot jou voordeel, selfs in moeilike tye.

Nie een van ons weet presies wat die planne is wat God vir ons het nie; ons weet selde. Hy sê, Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester’ (29:11, my beklemtoning). As ons kan vertrou dat Hy ons beter ken as wat ons onsself ken, dat Hy al die hare op ons hoof tel, kan ons Hom sekerlik vertrou as Hy sê, “Die planne wat Ek vir jou eie beswil, vir jou jou welstand het, se doel is dat jy nie net oorleef nie, maar floreer. Ek het gekom sodat jy meer oorvloedige lewe kan hê.” Sy ewige beloftes verander nie in ‘n pandemie nie.

Ek vrees niks wat vandag in die wêreld gebeur nie. Maar ek moes besluit, “Selfs al moet ek lyding verduur, sal dit met blydskap in my hart, moed in my siel, vasberadenheid in my gedagtes en met al die gesag wat Jesus vir my gegee het, tot my laaste asemteug wees. Satan sal nie wen nie. Dit maak nie saak wat met my gebeur nie, ek behoort aan Christus.”

Gebaseer op hierdie gedeeltes, het ek myself drie wenke gegee wat ek glo enige Christen deur hierdie tyd kan help.

Eerstens, moenie net oorleef nie; floreer. Jy is dalk steeds angstig om by die huis uit te gaan. Hierdie seisoen hoef egter nie een van hibernering te wees wat gerig is op oorlewing alleen nie. Dit is ‘n geleentheid om te floreer.

Soos ek genoem het, was Daniël ouer toe God vir hom sy opdrag gegee het. Hy was getrou om te bid, en daardie eenvoudige daad het veranderinge aan die gang gesit. Trouens, die besoek wat Daniël ontvang het, het dit vir hom duidelik gemaak dat sy gebede beide die hemel en aarde geskud het.

Vriend, jy kan gedy deur voorbidding. Bid vir jou wederhelf, jou familie, jou vriende, jou bure, jou mede-Christene. Hou aan bid vir werkers in die voorste linies om veilig te bly en vir leiers om met wysheid op te tree. Bid dat vrede in jou stad sal heers en dat mense se vrese, frustrasies en woede sal verdwyn en verander in naasteliefde en sorgsaamheid. Die Heilige Gees kan dit doen.

Nog ‘n manier om te floreer, is om jou studie van God se Woord te vernuwe. Om selfs ‘n minimum tyd in die Bybel deur te bring, kan jou daaglikse gedagtes van vrees na waarheid verskuif.

Tweedens, moenie net moeilike belewenisse verduur nie; verbeter dit. Laat God se krag werk te midde van jou probleme. God se doel vir ons is om altyd ‘n toename te sien, of dit in tye van beproewing of seën is.

Toe die kinders van Israel op die rand van Kanaän, ‘n Beloofde Land vol ongeëwenaarde seëninge geposisioneer was, het God nie vir hulle gesê, “Okei, nou is dit tyd vir julle om julleself te vestig, af te skaal en julleself te vermaak’ nie. Nee, Hy het gesê, “Wanneer julle daar aankom, wil Ek hê julle moet toeneem, bou en groei.” Ons passie vir Jesus kan toeneem gedurende hierdie tyd, beide in toewyding aan Hom en in sorgsaamheid teenoor ons naaste, veral teenoor die kwesbares en behoeftiges.

Derdens, moenie net verandering uitwag nie; bid verandering in. Ons is geroep om bewerkers van verandering te wees. Boeddhisme moedig passiwiteit aan, om dinge te aanvaar soos dit is. Christene is geroep om te sien hoe dinge verander deur Christus, om veranderinge “in te bid” en om met geloof op te tree om verandering te beleef. Ons kan bid vir wonderwerke van genesing in ons siek geliefdes, vir ons land om genees te word van armoede en onreg, sowel as vir ons eie harte om onsself heeltyd tot Jesus te wend.

Op hierdie oomblik in die geskiedenis, is daar menigtes vreesbevange, smagtende harte wat hulle na Christus wend.

Toe die gebeure van September, 2001 plaasgevind het, het my vader, David Wilkerson, by my gesin in ons Colorado tuiste gekuier. Hy wou so vinnig moontlik teruggaan New York Stad toe, maar alle vlugte was gestaak en daarom het ek daarheen met hom gery.

Toe ons daar aankom, het ons ontdek dat die stad se kerke vol was met mense wat vertroosting, doel en antwoorde gesoek het. Dit gelyk na ‘n ware geestelike ontwaking, maar op die ou end, was dit korstondig, ‘n neiging wat slegs ‘n paar weke geduur het.

Vandag se probleme wat toeneem en erger word, het reeds ‘n impak gehad en sal nog hê vir maande wat kom. Trouens, dit sal dalk ‘n permanente afdruk laat op die manier van hoe ons leef. Ek bid dat hierdie seisoen ons sal stuur op ‘n nuwe manier van lewe in Jesus, dat mense na Hom getrek sal word deur die manier waarop Christene kies om te leef – om te floreer in plaas daarvan om slegs te oorleef, toe te neem in plaas van net te verduur, seën in te bid in plaas van dinge uit te wag.

Mag hierdie tye van groot swaarkry, maak nie saak hoe lank dit duur of hoe intens dit word nie, ons “een-en-twintig dae” van passievolle gebed wees net soos Daniël s’n om die hemel en aarde deur God se hand te sien beweeg. Jesus is steeds op die troon, en sy planne vir jou is bedoel om vervul te word in ‘n tyd soos hierdie!