Die Verlossende Oordele van God

In Jeremia 32, beskryf die profeet ‘n hopelose toneel. Jerusalem was omsingel deur Nebukadnésar en die Chaldeeuse leër. Buite die stad, het die vyand groot stellasies gebou om hulle troepe oor die mure te stuur. Enige Israeliet wat afgekyk het op hierdie toneel moes sekerlik met ‘n gevoel van verdoemenis gevul gewees het.

Jeremia was een van hulle. Terwyl die verskriklike toneel ontvou het, moes die profeet uit ‘n tronksel toekyk.

Al die oordele wat hy oor God se volk voorspel het, was besig om waar te word. Die stad was geteister met hongersnood, pes en verwoesting. Nou was dit op die punt om oorgeneem te word deur ‘n wrede vyand, maar die profeet kon niks daaraan doen nie. Die koning het hom toegesluit weens sy harde profesieë. Jeremia het getrou as God se stem tot ‘n afvallige volk gespreek, maar die koninklike hof het hom stilgemaak deur hom in die tronk toe te sluit.

Hierdie hele tyd, het Israel in ‘n verskriklike verdorwenheid verval. God se huis het besoedel geword met afgodery. Goddeloosheid het geheers, beide in die samelewing en in die tempel. God se volk was op die randjie daarvan om die sewentig jaar van ballingskap binne te gaan. Nadat hierdie tydperk verby was, sou die Here hulle na die land terugbring en sy volk met ‘n verlossingsdaad van genade herstel.

Hoe kan ons Israel se omstandighede op ons huidige tyd toepas?

Die toegesluite profeet verteenwoordig vir ons twee dinge: die oorblyfsel kerk en die stem van God in desperate tye: Die kerk het vandag min of geen invloed op die samelewing nie. In Amerika word die Skrif afgemaak as verouderd: Ware stemme van goddelikheid word bespot. ‘n Gees van gierigheid is buite beheer onder God se kinders. Die gevolg is dat die kerk sy effektiewe getuienis in die samelewing verloor het. Dit het nie langer enige krag om die hel se wildheid te weerstaan nie.

Ek verseker jou dat die Here Hom nie sal laat bespot nie. Petrus waarsku dat die oordeel by God se huis begin en dat die Here sy kerk sal skoonmaak en reinig.

Te midde van Israel se oordeel, het God ‘n vreemde woord tot Jeremia gespreek. Hy het vir hom gesê dat sy oom hom in die tronk sou kom besoek en Jeremia sou vra om ‘n stuk land in Ánatot te koop. Jeremia het die land gekoop, seker gemaak dat die koop wettig voor getuies geseël was en toe het hy die koop laat opteken. Uiteindelik, het hy ‘n kopie van die titelakte in ‘n erdekruik gebêre om te bewaar vir later jare.

Terwyl hierdie klein koop plaasgevind het, het ‘n epiese gebeurtenis oral om hom gebeur. Jerusalem was bestorm en sy hele geskiedenis het vir altyd verander. Waarom sou Jeremia tyd maak om ‘n eiendomstransaksie te beklink? Wat was die betekenis van hierdie klein transaksie?

Ons vind ‘n leidraad in die naam Ánatot. Dit kom van ‘n Hebreeuse stamwoord wat “om te praat, te getuig, om aan te teken” beteken. Jeremia se eiendomstransaksie moes ‘n getuienis wees. Dit sou dien as ‘n kragtige, geïllustreerde boodskap van God se verlossingsplan deur sy oordele.

Die Here het in wese gesê, “Jeremia, elke oordeel wat Ek vir jou gewys het, word waar. Maar nou het Ek ‘n nog ‘n boodskap vir jou om te verkondig. Ja, Ek sal die land reinig met vuur en oordeel, maar Ek gaan ook die land aan my volk teruggee. Dit is die betekenis van die grond wat jy gekoop het. Nadat my oordeel op Israel verbygegaan het, sal die grond weer waardevol wees. Jou koop van daardie grond getuig van my barmhartigheid en genade.

Jeremia se daad het vir die wêreld gewys dat God se oordele meer as uitbarstings van sy toorn is. Hulle is bedoel om te verlos.

Jeremia het iets uit hierdie oordeel sien kom wat so glorieryk was dat hy dit skaars kon glo.

“Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word” (Jeremia 32:15). God het in wese vir die profeet gesê, “Kyk nou na hierdie land, nou geteister met hongersnood. Binnekort sal hierdie huise tot op die grond afgebrand wees. My tempel sal vernietig word. Ek reinig en maak alles skoon want my volk het my geterg, hulle rûe op my gedraai en gruwels in my huis ingebring. Nadat hierdie oordeel verby is, sal Ek egter ‘n hele nuwe ding tot stand bring” (sien 32:28-34).

Verbeel jou wat die volk moes gedink het toe hulle sien dat Jeremia die grond gekoop het: “Is jy mal? God bring oordeel oor die land. Jou grond gaan niks werd wees nie.”

Jeremia het in wese geantwoord, “Julle besef nie dat die Here ‘n verlosser is nie. Hy het geen behae in sy oordele nie. Hierdie huidige uur van toorn is bedoel om die land en sy mense te reinig. Almal sal weet dat God dinge beheer. ‘n Blink nuwe dag is op pad. Die verlosser sal na Sion terugkeer en weer op die ashoop van sy verlossende oordele bou.”

“Die grote, die geweldige God, wie se Naam is HERE van die leërskare, groot van raad en magtig van daad ... Wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe ... en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag is” (32:18-20).

Jeremia sê in wese, “Here, hierdie groot herstel wat U vir my wys, is oorweldigend. Dit is net U wat u volk uit hierdie verskriklike vuur sou kon haal en hulle herstel.”

Toe het die profeet besef, “Maar ons het gruwelik gesondig. Ons het ons verbond verbreek en was aan u Woord ongehoorsaam. Dit is waarom oordeel oral op ons neerkom. Here, hoe kan ons van U verwag om hierdie groot, nuwe ding te doen as ons volk op die punt is om verwoes te word?” (sien 32:17-25).

Die Here het sy gebed onderbreek. “Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?” (32:36-27). Wat ‘n heerlike boodskap het Hy vir Jeremia gegee: “Kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon. En hulle sal vir My ‘n volk wees en Ek sal vir hulle ‘n God wees. En Ek sal hulle een hart en een wet gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders na hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle vam My nie afwyk nie” (32:37-40).

God het in wese vir sy volk gesê, “Jeremia se grond is ‘n goeie belegging. Dit is ‘n getuienis van my genade aan julle. Ek sal met genade verlos, selfs in my toorn.”

Is God se oordele steeds verlossend vandag, op hierdie tydstip  in die geskiedenis?

Hierdie huidige geslag het ons Here selfs meer uitgedaag as Jeremia s’n. Ons samelewing lag vir God, bespot sy Woord en dreig met hulle vuiste in sy gesig. In die tussentyd, leef die kerk asof God swak, hulpeloos en nie langer relevant is nie. Die Here is jaloers op sy Naam en Hy sal dit weer verheerlik op die hele aarde. Sy plan met oordeel is nie net om sy gesag oor trotse mense te laat geld nie; dit is om sy heerlike mag om te red en te verlos te openbaar.

Op die presiese uur van oordeel, sal God sy kerk heilig en al die afgode en onreinheid wat in sy huis ingebring is, sal uitgewerp word. Hy sal sê, “Ek maak ‘n einde aan hierdie verontreiniging van my Naam en Ek sal my volk heilig voor die wêreld. Ek sal hulle red van al hulle onreinheid.”

Dieselfde woord wat tot Jeremia gekom het, is God se woord vir sy kerk vandag: “Gaan koop die grond in Ánatot.” Ons moet getuig en dit opteken dat sy oordele verlossend is. Dit beteken ons moet dit vir eens en vir altyd uitmaak, “Glo ek dat God sy kerk kan herbou in hierdie uur van oordeel? Glo ek dat al hierdie dinge vir Hom moontlik is?” Deur so ‘n verklaring te maak, koop ons hoop met ‘n nuwe en onbeperkte geloof. Ons moenie langer wanhopig wees nie want Hy gaan elke besoedeling vernietig.

God sal sy gees van genade en barmhartigheid uitstort en begin met oortuiging van sonde. Ons Here gaan bonatuurlike werking van die Heilige Gees in ‘n onverdienstelike volk laat plaasvind. Hy het ons ‘n nuwe hart belowe en Hy gaan ‘n kerk bou wat rein en vreesloos is. Dit is hoe Hy sy Naam in ere sal herstel.

Die Here het vir Jeremia gesê, “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondergrondelike dinge wat jy nie weet nie” (33:3). Die oordele, die moeilike tye en die vloed van ongeregtigheid laat menigtes dink aan hulle ewige siele. Noudat hierdie oordele begin het, is daar nog ‘n boodskap vir God se kinders om te verkondig: “Ons het ‘n almagtige God en Hy is ‘n verlosser!”