Ek Sal Jou Rus Gee

God se Kuur vir Veroordeling, Skuld en Vrees

God het aan Sy kinders ‘n heerlike, onbegryplike rus beloof wat vrede en versekering vir die siel insluit. Toe die Here hierdie wonderlike rus vir die kinders van Israel aangebied het, het dit het ‘n lewe vol blydskap en oorwinning sonder vrees, skuld of veroordeling beteken. Dieselfde rus is beskikbaar vir elke mens in elke geslag.

Tot Christus se tyd, het geen gelowige geslag egter ooit volkome in hierdie belofte van geseënde rus geleef nie. Soos die Bybel dit baie duidelik maak, hulle het dit nooit ontvang nie weens hulle ongeloof. “Dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19).

Weens hulle ongeloof, het God se volk vol ellende, twyfel, vrees en rusteloosheid deur die lewe gegaan, van die tydperk van die konings en profete af tot by Dawid se geslag en verder aan. Hulle het hierdie heerlike lewe nie toegeëien, aangegryp of geniet nie. “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (4:9).

Dieselfde gedeelte van Hebreërs sê vir ons, “dat sommige daar ingaan” (4:6). Dit is bedoel vir hedendaagse Christene en vermaan ons, “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie” (4:1).

Duisende sê dat hulle gevul is met God se Gees, maar steeds is hulle rusteloos en met skuld belas sonder versekering in Christus.

Solank as hierdie Christene omring word met hulle gelowige vriende en alles goed gaan, kan hulle selfvoldaan praat van om in oorwinning te wandel. Maar wanneer die vyand sy woeste winde van teëspoed oor hulle waai, word hulle geruk en gepluk, sonder krag om te weerstaan. Hulle stort heeltemal ineen, uitgewis deur teëspoed.

Christus sê vir ons, “Moenie probeer om ‘n pad saam met My te stap totdat jy rus in jou siel het nie.” “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jule sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Ek glo die sleutel lê in Jesus se woorde, “Leer van My!” Hy sê in wese, “Wanneer jy leer wat Ek vir jou aan die kruis gedoen het, sal jou siel tot rus kom. Dan kan jy my juk en las, wat sag en lig is, opneem.”

Hoe leer ons van Hom sodat ons daardie rus kan binnegaan? Die beste manier is om die Bybelse leerstelling van geregtigheid deur geloof te ken. Hierdie een feit stop alle aanvalle van onsekerheid.

Twee dinge is betrokke in ons regverdigmaking. Eerstens, Christus se werk aan die kruis beskik vir ons alle vryspraak van sonde en dit reinig ons van alle skuld en ongeregtigheid. Tweedens, ons word deur God as regverdig aanvaar in Christus deur geloof. Dit beteken dat God ons aanvaar, nie as gevolg van ons werke of enige goeie dade nie, maar op die verdienste van dit wat Jesus op die kruis gedoen het. “Wie sal beskuldig inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak” (Romeine 8:33).

Nietemin, wanneer ons sondig, word ons aangekla deur twee sterk magte. Die eerste is Satan, wat die Bybel die aanklaer noem: “Want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:10). Die duiwel staan voor die hemelse Vader en kla jou aan van elke nuwe mislukking en eis, “As U heilig is, dan sal U iets hieromtrent doen. U moet hom veroordeel tot dieselfde hel wat U my veroordeel vir my hoogmoed.”

Die tweede sterk mag wat ons beskuldig, is ons eie gewete. “Terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:15). Ons staan voor God met koppe omlaag, omdat ons weet dat ons gewete erken, “Ek staan skuldig voor God.”

God ontken nie ons skuld nie, omdat Hy nie kan lieg nie. Hy sien ons nooit onskuldig nie omdat ons eenvoudig skuldig voor Hom staan, vasgevang in die web van sonde. Trouens, ons regverdigmaking het niks daarmee te doen dat ons onskuldig is nie. Wanneer God ons vryspreek as gevolg van die Kruis, is dit as skuldige wetsoortreders. Hy skeld ons nie kwyt nie, maar in plaas daarvan, vergewe Hy ons en spreek ons vry van ons sonde deur Sy genade en barmhartigheid alleen.

“Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25). “Want U het my sondes agter my rug gewerp” (38:17). “U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19).

Die vryspraak wat God vir ons gee, is volkome onverdiend.

As gevolg van ons sonde, verdien ons oordeel en veroordeling. Hier kom ons Prokureur, ons Advokaat en steek sy spykerletsel hande na die hof toe uit.

Hy glimlag en fluister vir ons, “Moenie bang wees nie, want nie een van hierdie aanklagte sal staan nie. Jy gaan vry en volkome vrygespreek uit hierdie hofsaal loop. Wanneer Ek klaar is, sal jou aanklaer nie een aanklag teen jou oorhê nie.”

Daar is steeds die saak van geregtigheid om af te handel. Wat van die ware beskuldigings teen ons?

Ons luister met absolute verwondering as ons Advokaat ons saak bepleit. “Regter, u weet dat Ek die wet vervul het en ‘n sondelose lewe geleef het. Toe het Ek hierdie mens se plek ingeneem en al die straf vir hulle misdade op My geneem. Deur hierdie spykerletsel hande en my deursteekte sy, het bloed uitgekom om al hulle oortredinge uit te wis. Al hierdie beskuldigings en aanklagte wat u vandag gehoor het, was volkom op My gewerp. Ek het die straf vir elkeen van hulle betaal.

“Satan, aanklaer, jy het geen gronde om my kliënt aan te kla nie. Al hulle sondes was op My geplaas en Ek het alles volkome vergewe. Hulle is nie skuldig nie omdat hulle geloof in die oorwinning van my offer hulle volle, volkome vryspraak gee. Jy het geen saak nie. My kliënt is vry.”

Terwyl die duiwel uit God se hofsaal loop, hoor jy die geseënde Here uitroep, “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? Dit is God wat regverdig maak” (Romeine 8:33).

Die tweede deel van ons regverdigmaking is ons aanvaarding in God se Geliefde.

“Maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Korinthiërs 6:11). Die mense aan wie Paulus geskryf het, was verlos uit ‘n verskriklike sonde. Hoe het hulle voor God regverdig geword? Wat het gebeur dat hulle nie langer goddeloos was nie, maar liewer volkome, liefdevol deur die Here aanvaar?

Die tweede deel van ons regverdigmaking verduidelik dit. Toe Jesus na die kruis gegaan het, het Hy ons “ou mens” gekruisig. Nou is daardie ou mens of ons vlees uitgewis in God se oë. In plaas daarvan, is daar slegs een Mens oor, die een met wie God sal afreken, en dit is sy eie Seun.

Toe Jesus Sy werk op aarde afgehandel het en aan die regterhand van God gaan sit het, het God gesê, “Van nou af erken Ek slegs een Mens as geregtigheid. Iemand wat na My toe kom, moet deur Hom kom, My Seun. Almal wat regverdig sou wees, moet Sy geregtigheid aanvaar en geen ander nie.” Ons word in God se oë slegs aanvaar deur geloof in Christus en Sy werk. “Waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Efésiërs 1:6).

Sien jy hoe belangrik dit is om in Jesus te bly, om gou na Hom te kom wanneer jy misluk? Jy moet leer om na Hom te hardloop en te roep, “Jesus, ek het U teleurgestel. Ek kan nie dit verstaan nie. Maak nie saak wat ek doen nie, ek kan nooit voor die Vader erken word nie behalwe as ek na Hom kom in U. My enigste verweer is u bloed!”

Die enigste ding waarin ons moet roem, is in Jesus – en Sy groot werk vir ons.

“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Korinthiërs 1:30-31).

Regverdigmaking deur geloof is die ding wat ons die nederigste maak in die wêreld. Dit is moeilik om te sien dat God nie ons vlees aanvaar nie, dat ons ons aanhoudende strewes moet laat vaar en rus in Jesus se gehoorsaamheid. Trouens, ons moet leer om volkome op Christus te vertrou vir alle krag om te gehoorsaam.

Ons ou mens is dood en die nuwe Mens in ons is Jesus. En as ons ons geloof in Hom plaas, aanvaar God ons ten volle. Hy beskou ons regverdig, weggesteek in die boesem van Sy dierbare Seun. So, wanneer jy sondig of misluk, gaan gou na jou Voorspraak, jou Advokaat. Bely jou mislukkings teenoor Hom en rus in Sy geregtigheid.

Wanneer jy besef wat Jesus aan die Kruis bewerkstellig het, sal jy sonde meer haat as ooit tevore. Jy sal begin om Hom te gehoorsaam, tot Hom te bid, met blydskap na Hom te smag omdat Hy jou beveilig het op die vaste rots van sy genade. Dan kan jy sê, “Wie kan my nou beskuldig? Christus het my geregverdig! Ek rus in Hom as my geregtigheid.”

“En as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige” (1 Johannes 2:1). Jy het ‘n Advokaat; gaan nou na Hom toe. Laat Hy jou saak bepleit, en gaan sy rus binne deur geloof in sy wonderlike werk wat Hy om jou ontwil gedoen het.