Die Geheim van Geestelike Krag

‘n Boodskap vir Vandag

Die profeet Jesaja het ‘n wee oor Israel uitgespreek: “Wee die opstandige kinders, spreek die HERE” (Jesaja 30:1). Die Hebreeuse woord wat Jesaja gebruik vir “opstandigheid” beteken afvallig, hardnekkigheid, ‘n wegdraai van. Waarvan presies het God se mense weggedraai? En wat het hulle afvalligheid veroorsaak?

Die antwoord is in die volgende frase: “Wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie” (30:1). Dit beteken hulle maak hulle eie planne. Eenvoudig gestel, God het gesê, “My volk kyk nie meer na My vir leiding en raad nie. In plaas daarvan, leun hulle op die arm van die vlees. En elke keer wat hulle optree sonder om My te soek en hulle na die wêreld wend om hulp, stapel hulle sonde op sonde. Hulle het hulle vertroue in my sterk arm laat vaar.”

God se volk het maar al te goed geweet dat hulle op die Here moes vertrou in elke situasie, maak nie saak hoe nietig dit was nie. Die Psalms het hulle gedurig herinner, “Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels” (Psalm 36:8). “By U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil” (Psalm 57:2). “Want U was ‘n hulp vir my en in die skaduwees van u vleuels sal ek jubel” (Psalm 63:8).

Jesaja het gesê dat God alle selfbeskermende mure sou afbreek: “Daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ‘n los stuk wat wil val...waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal die verbreek soos die kruik van ‘n pottebakker verbreek word; wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word...nie” (Jesaja 30:13-14). God het in wese gesê, “Ek gaan elke valse ding waarop julle vertrou in stukke breek. Julle planne gaan in duie stort.”

Maar toe het Jesaja God se deernisvolle hart teenoor sy mense geopenbaar. Hy het by Juda aangedring. “Julle hoef nie meer in verwarring te leef nie. En julle hoef nie hierdie skielike ineenstorting te beleef nie. God het vir ons ‘n weg daaruit voorsien.” “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag” (Jesaja 30:15).

Hier is kortliks God se geheim vir geestelike krag: “In stil wees en vertroue sal julle krag wees.” Die woord vir stil wees in Hebreeus beteken rus, wat dui op kalmte, ontspanne wees, vry van alle angs, om te gaan lê met ondersteuning van onder.

Nie baie Christene het vandag hierdie soort stil wees en vertroue nie.

Menigtes gelowiges is betrokke by ‘n waansin van aktiwiteite en ‘n dolle gejaag agter dinge aan. Selfs in die bediening, is God se dienaars vol bekommernis en vrees en hulle soek antwoorde in konferensies, seminare en topverkoper boeke. Almal soek leiding, oplossings en iets om hulle gees te kalmeer, maar hulle soek dit in alle bronne behalwe die Here.

Hulle besef nie God het reeds deur Jesaja ‘n woord tot hulle gespreek nie. Hy beskryf wat God se geregtigheid veronderstel is om binne-in ons te doen: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (Jesaja 32:17). As ons waarlik in geregtigheid wandel, sal ons lewens die vrug van ‘n kalm gees, ‘n rustige hart en vrede met God dra.

Petrus praat van “die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” (1 Petrus 3:4). So ‘n gees het niks te doen met ‘n temperament of persoonlikheid nie. Sommige mense is natuurlik geneig om kalm en skaam te wees, terwyl ander bloot morbied is. Nee, die sagmoedige, stille gees waarna Petrus verwys, kan slegs deur die Heilige Gees in ons geplant word. Hy gee dit aan almal wat die Here ten volle vertrou in alles.

Toe Jesaja egter rondom hom kyk, het hy gesien hoe God se volk na Egipte gevlug het vir hulp, terwyl hulle op mense vertrou en op perde en strydwaens staatgemaak het. Die profeet het gewaarsku, “Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde” (Jesaja 31:3).

Ambassadeurs het gekom en gegaan. Leiers het noodstrategievergaderings gehou. Almal was paniekerig en het gekerm, “Wat kan ons doen? Die Arameërs gaan ons uitwis.”

Maar Jesaja het hulle gerus gestel, “Dit hoef nie so te wees nie. Keer terug van julle afvalligheid af. Bekeer julle van julle opstandigheid om op ander te vertrou. Wend julle tot die Here en Hy sal julle met ‘n kombers van vrede bedek. Hy sal julle stilte en rus gee te midde van alles wat julle beleef.”

Die Heilige Gees gee ons krag wanneer ons al ons behoeftes in God se hande oorgee en op sy mag vertrou.

Rut is ‘n voorbeeld van hierdie soort vertroue. Nadat haar man gesterf het, het Rut by haar skoonmoeder, Naomi, wat heel bejaard was, gewoon. Naomi was begaan oor Rut se welstand en wou haar skoondogter se toekoms verseker. Sy het Rut geadviseer om by die voete van die welgestelde Boas te gaan lê en hom te vra om sy verpligting teenoor haar as haar losser na te kom.

Daardie aand, na die dag se gewan klaar was en Boas gaan lê het “by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê” (Rut 3:7). Die volgende oggend het hy verskrik wakker geword toe hy ontdek dat ‘n vrou by sy voete lê. (Daar was niks onsedelik oor Rut se teenwoordighed daar nie; dit was ‘n algemene gebruik van die tyd.) “En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser” (3:9). Sy het in wese gesê, “Sal u die verpligting van ‘n losser vir my aanneem? Sal u vir my sorg?” Kortliks, sy het gevra, “Sal u met jy trou?”

Dit was geensins manipulering nie. Rut en Naomi het alles in goddelike orde gedoen. Ons kan daarvan seker wees, want Christus se bloedlyn kom deur Rut. Toe Rut vroeg daardie oggend teruggekeer het huistoe, het Naomi gevra, “En toe, my dogter?” (Rut 3:16). Met ander woorde, sy het gevra, “Sal ek jou verloofde Rut noem? Of is jy steeds weduwee Rut?”

Rut het vir Naomi alles vertel wat gebeur het. Luister nou na haar goddelike skoonmoeder se raad: “Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie” (3:18). Naomi het oor die saak gebid en God se leiding gesoek, en God het haar raad gegee. Hy het haar herinner aan die wet van die losser uit die familie (wat ‘n tipe en skaduwee van Christus was). Naomi was vol vertroue dat sy en Rut hulle deel gedoen het. Nou was dit tyd om stil te sit en God te vertrou om te doen wat Hy belowe het.

 Sy het in wese gesê, “Dit is nou alles in die Here se hande, Rut. Ontspan net en wees rustig. God sal bonatuurlik vir jou optree, so jy hoef jou nie te bekommer, angstig te wees, of enigiets te manipuleer nie. Laat rustigheid en vertroue jou sterkte wees. God sal Boas nie laat rus totdat hy ‘n ring aan jou vinger gesit het nie.”

‘n Kalmte en vrede het oor Naomi se huis neergedaal. Niemand was tot raserny gedryf, het vingernaels gebyt en gewonder, “Sal God dit doen? Wanneer sal dit gebeur?” nie. Hierdie twee getroue vroue kon ontspan, sing en die Here vir sy goedheid prys.

Wat van jou huis? Is jou huis ‘n rustige, vredevolle woning? Of is dit ‘n plek van twyfel, vrae, angs en rusteloosheid? Hardloop jy bekommerd heen en weer rond, “Hoe gaan ek die rekeninge betaal?” Wanneer moeilikheid kom, soek jy God pligsgetrou voor enige ander bron? Gehoorsaam jy dan alles wat Hy vir jou sê om te doen? Laastens, is jy stil, rustig en vertrou jy Hom vir die oplossing? Indien wel, sal jou huis kalm en rustig wees.

Jesaja lys die goeie dinge wat kom na diegene wat in alles op die Here wag.

“Welgeluksalig is almal wat op Hom wag...jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep...en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan...Die lied sal by julle wees soos in die nag...en julle sal vrolik wees van hart” (Jesaja 30:18-19,21,29). Jesaja het in wese gesê, “As jy net op die Here wag – as jy Hom sal aanroep en terugkeer daarna om Hom te vertrou – sal Hy vir jou alles doen wat ek gesê het en meer.”

God kan net ‘n woord spreek en die vyand sal voor ons val: “Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan” (30:31). Daar is geen saak wat ons Vader nie kan oplos nie, geen stryd wat Hy nie vir ons met ‘n eenvoudige woord van sy lippe kan wen nie. Jesaja sê, “die asem van die HERE” sal alles in ons pad verteer (sien 30:33).

Dierbare gelowige, Hy wil alles hê: jou gesondheid, jou familie, jou toekoms. Hy wil hê jy moet Hom vertrou met alle sake, en Hy wil hê jy moet met kalmte, vertroue en rus leef. Gaan na jou binnekamer en sonder jou alleen met die Here af. Bring alles na Hom toe. Hy het belowe. “Jy sal my woord agter jou hoor en jou wys watter pad om te volg. Dit is die weg – wandel nou daarin.”