Gekwel deur “Wat As”

David Wilkerson (1931-2011)

Ons vertroue in God behaag Hom, en ons word soos Abraham as regverdig gereken omdat ons gehoor gee aan die oproep om al ons môres in sy hande oor te gee (sien Romeine 4:3). Jesus roep ons ook tot hierdie manier van lewe. “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:31-33).

Jesus voeg dan by, “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (6:34). Jesus bedoel nie dat ons nie vooruit moet beplan nie. Liewer, Hy sê bloot, “Moenie angstig of bekommerd oor môre wees nie.” As ons daaraan dink, gaan meeste van ons vrese oor wat môre kan gebeur. Ons word heeltyd geteister deur twee klein woordjies: Was as?

Wat as die ekonomie misluk en ek my werk verloor? Hoe sal ons gesin oorleef? Wat as ek my gesondheidspolis verloor? Wat as my geloof my in die steek laat in moeilike tye? Ons het baie “wat as” angste.

Jesus onderbreek ons “wat asse” en sê vir ons, “Jou hemelse Vader weet hoe om vir jou te sorg. Jy hoef nie bekommerd te wees nie omdat jou Vader weet dat jy al hierdie dinge nodig het en Hy is getrou om jou te voed, te klee en in al jou behoeftes te voorsien.”

“Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? ... Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie” (Matthéüs 6:26-29).

Ons gee met blydskap al ons gisters aan die Here oor, so ook ons vorige sondes, mislukkings, vertwyfelinge en vrese. Waarom doen ons dus nie dieselfde met ons môres nie?

Paulus sê, “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Ek moedig jou aan om die Here te vertrou met al jou môres en jou huidige beproewing die boodskap van sy getrouheid te laat verkondig.