Die Volle Seën van God se Teenwoordigheid

Gary Wilkerson

Baie van ons het ‘n verkeerde idee van wat dit is “om in God se teenwoordigheid te wees.” Ons is geneig om daaraan te dink as ‘n gevoel of ‘n emosie of ‘n bonatuurlike oomblik. Al hierdie dinge kan God se teenwoordigheid vergesel, maar dit word nie daardeur gedefinieer nie. God se teenwoordigheid is bloot Hy self, sy wese.

Met die Heilige Gees wat in ons woon, het ons altyd God se teenwoordigheid met ons – en dit is ‘n fenomenale ding, soos Paulus sê: “Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kolossense 1:27).

In Ou Testament tye, het die Here sy teenwoordigheid bekend gemaak deur die hemele oop te skeur of Homself met ‘n vuurkolom of ‘n rookwolk te openbaar. Toe Jesus gekom het, het die manier waarop ons God se teenwoordigheid beleef, verander. Deur Christus, kon ons werklik die teenwoordigheid van God sien. Jesus se lewe het presies geopenbaar hoe God is – hoe uiters vol liefde, genade, barmhartigheid, waarheid en geregtigheid Hy is. Die Seun van God het na die aarde toe gekom as ‘n eksakte voorstelling van die hemelse Vader se natuur.

Selfs meer fenomenaal, is dat deur die Heilige Gees wat in ons leef, ‘n verandering plaasvind wanneer ons Jesus aanvaar: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:3-4).

Om God se natuur in ons te hê, beteken ons hoef nie te probeer om heilig te wees nie; ons is heilig, op grond van sy teenwoordigheid in ons. Ons hoef nie te probeer om vir Hom aanvaarbaar te wees nie; ons word deur Hom aanvaarbaar gemaak. Ons hoef nie te probeer om goed te wees nie; ons is reeds goed deur sy goddelike natuur wat in ons woon deur sy Gees.

Jesus het vir jou ‘n lewe sonder vrees of skande of vrees gekoop. Jy kan leef sonder hindernisse of veroordeling. Dit is waarom Paulus ons leer: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14-15).