‘n Vrede om Jou Deur Alles te Dra

David Wilkerson (1931-2011)

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:27).

Ons weet dat Christus kwaad kon word en soms was Hy aangedaan tot trane. Maar Hy het sy lewe op hierdie aarde gelei as ‘n man van vrede. Hy het vrede gehad met die Vader, vrede tydens versoeking, vrede in tye van verwerping en bespotting. Hy het self vrede gehad tydens storms op die see en het op die dek van die boot geslaap terwyl ander gesidder het van vrees.

Die dissipels het gehoor hoe mense hulle Here ‘n duiwel noem en godsdienstige leiers het die vinger na Hom gewys as ‘n bedrieër. Sommige groepe het selfs saamgesweer om Hom dood te maak. Deur dit alles heen, het Jesus egter nooit sy vrede verloor nie. Geen mens, geen godsdienstige stelsel, geen duiwel kon Hom van sy vrede beroof nie.

Al hierdie dinge moes ‘n bespreking onder die dissipels veroorsaak het: “Hoe kon Hy in ‘n storm slaap? Watter soort vrede is dit? En hoe kon Hy so kalm wees toe daardie skare op die punt was om Hom oor ‘n afgrond te gooi? Mense bespot Hom, beledig Hom, spoeg op Hom, maar Hy baklei nooit terug nie. Niks ontstel Hom nie.”

Toe Jesus hierdie manne dieselfde vrede belowe het, moes die dissipels in verwondering na mekaar gekyk het: “Jy bedoel ons gaan dieselfde vrede hê as wat Hy het? Dit is fenomenaal!”

Jesus het vir hulle gesê, “Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (14:27). Terselftertyd, het Jesus belowe om die dissipels die Heilige Gees te gee. Christus het verduidelik, “Die Heilige Gees sal julle lei deur dit wat julle gaan beleef. Hy sal julle Vriend wees en Hy sal julle in staat stel om hierdie vrede wat Ek vir julle gee te beleef.”

Jesus het pas hierdie manne onderrig, “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem” (14:3). Maar Jesus se belofte om weer te kom het hulle gees nie opgewonde gemaak nie. Ek kan my verbeel Petrus sê, “Wie het ‘n spoggerige plek nodig om in te leef? Ek het ‘n werk nodig. Ek het ‘n gesin om te voed.”

Jesus het geweet dat die dissipels die soort vrede, wat hulle deur enige en alle situasies kon dra, nodig gehad het. En Hy sê vir ons, net soos Hy vir hulle gesê het, “Julle het my vrede nodig om te verdra wat kom. Kry dit nou, voor dinge erger word. My Heilige Gees woon in julle, vra Hom dus vir my vrede. Hy het belowe om julle siel te anker tydens elke storm.”