Van die Bergtop na die Vallei

David Wilkerson (1931-2011)

“Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ‘n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof. En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter- en aan hulle linkerkant” (Exodus 14:21-22).

Dit is een van die grootste openbarings van God in die hele wêreldgeskiedenis. Nie een gebeurtenis wat deur die mensdom opgeteken is, kan ooit hierdie een as ‘n toonbeeld van God se heerlikheid ewenaar nie. Probeer jou indink: hoë mure van water wat by die minuut nog hoër word en ‘n see in twee kloof.

Die Israeliete het op droë grond na die ander kant deurgegaan. Toe hulle veilig daar aangekom het, het hulle teruggedraai, net om te sien hoe hulle Egiptiese onderdukkers verpletter word deur die golwe wat oor hulle breek. God het sy volk wonderbaarlik verlos en laat seëvier, en nou het hulle met blydskap gedans en lofsange uitgejubel.

“Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe ... Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef” (15:1-2).

Wat het daarna met Israel gebeur? Dis ongelooflik, drie dae na hulle verstommende oorwinning, was hulle heeltemal moedeloos. Hulle het gedors na water in die woestyn en God het hulle na die poel by Mara gelei. Maar die water was bitter! “En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter” (15:23). En toe die volk die water uit hul mond spoeg, was hulle geloof verpletter. Binne net drie dae het hulle van die grootste oorwinning op die bergtop van alle tye na die laagste dal van wanhoop gegaan.

Wat was besig om te gebeur? By die Rooi See en by die poel van Mara het God sy volk beproef: “Daar het Hy ... hulle ... beproef” (15:25). Eenvoudig gestel, God was saam met sy volk in hul geestelike hoogtepunt, maar Hy was egter net soveel met hulle in hulle lae tyd. Hulle moes net die Here bly volg totdat hulle uiteindelik die Beloofde Land bereik het.

God sê vir jou in jou droë tye: “Ek wil hê dat jy moet leer om met geloof verder te gaan, want Ek is besig om jou êrens heen te lei!”

Tags