Die Eensame Stryd wat Jy Voer

David Wilkerson (1931-2011)

“Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamhied volkome is” (2 Korinthiërs 10:4-5).

Op die oomblik juig Satan se magte van die duisternis regoor die wêreld. Hierdie demoniese magte het hoë plekke van menslike mag binnegedring: die media, politieke ampte, hoë howe. Dit gebeur selfs in godsdienstige denominasies.

Al hierdie demoniese owerhede het ‘n agenda. Hulle werk om morele waardes af te takel en die reddende krag van die evangelie te vernietig. Dit lyk asof elke instansie, elke agentskap nou deur hierdie goddelose geestelike magte geïnfiltreer en oorheers word. Ons weet egter hoe hierdie stryd eindig: aan die kruis, in die oorwinning van Jesus Christus.

Daar sal beslis tye van oorlog wees – oorloë wat die uitgebreide Liggaam van Christus wêreldwyd nie sal betrek nie, maar privaat sal wees – gevegte en stryd wat net aan jou bekend is. Dit is vleesoorloë en dit bring ‘n las wat jy met niemand kan deel nie. Dit is eensame oorloë, net oor Jesus en jy.

As Christen kan jy jouself dikwels oortuig dat dit die regte ding is om op jou tande te kners deur jou stryd. Maar God wil nie hê dat jy ‘n valse front moet voorhou nie. Hy weet waardeur jy gaan en Hy wil saam met jou daardeur gaan.

Toe koning Dawid owerspel gepleeg het en daarna in ‘n private stryd van veroordeling en spyt verval het, het hy nie probeer om dinge op sy eie reg te stel nie. Wat het hy dus gedoen? Eerstens het hy die Here aangeroep: “O, Here, help my gou! Ek is op die punt om te val, so maak gou en verlos my. U Woord beloof dat U my sal verlos, doen dit dus nou” (sien Psalm 70).

Vervolgens het David ‘n besluit geneem: “Leef of sterf, ek sal die Here groot maak in hierdie stryd.” “Groot is God” (Psalm 70:5). En hy het homself ten volle op die genade van die Here gewerp: “As ek dink: My voet wankel – dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE ... dan verkwik u vertroostinge my siel” (Psalm 94:18-19).

Geliefde, jy kan dit jou getuienis maak. Kyk na al jou benoudhede, teëspoed, bekommernisse en versoekings, en met geloof sê: “Deur die genade van God sal ek nie ondergaan nie.” En Hy sal vir jou sê: “My genade is vir jou genoeg” (2 Korintiërs 12:9).