Hou Vas aan die Realiteit van God se Beloftes

David Wilkerson (1931-2011)

Vandag leef ons in angswekkende tye soos min van ons al ooit beleef het. Slegs ‘n persoonlike woord van die Here kan ons regtig deur sulke tye lei met die blywende hoop wat ons nodig het. En God was nog altyd getrou om sy kinders deur die geskiedenis heen ‘n woord te gee.

In die Ou Testament lees ons herhaaldelik hierdie frase: “Die woord van die Here het gekom...” Die Bybel sê oor Abraham: “NÁ hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom” (Genesis 15:1). Ons lees van Josua: “Volgens die woord van die HERE wat Hy Josua beveel het” (Josua 8:27). En so was dit ook met Dawid en die profete.

Jy kan nie die geloofstryd voer sonder om die gerusstellende stem van die Here vir jou te hoor nie. Toe Dawid en sy krygers teruggekom het uit die oorlog en vind dat hulle dorpie geplunder en hulle gesinne ontvoer was, het hulle beangs uitgeroep: “Hoe kon dit gebeur? Waarom sou God dit toelaat?” Toe het hulle “hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie” (1 Samuel 30:4).

Hierdie toneel uit Dawid se lewe wys vir ons dat daar beslis ‘n tyd is om te huil wanneer die rampspoed tref. Maar toe bemoedig hy homself. “Dawid het homself versterk in die HERE sy God” (30:6). In plaas daarvan om toe te gee aan vrees, het David besluit om sy vrese teë te staan. Ek glo dat hy dit gedoen het deur te onthou van al God se verlossings in sy lewe in die verlede. Elke oorwinning het plaasgevind as gevolg van sy onwrikbare geloof.

“Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos” (Jesaja 35:4).

Terwyl die wêreld gons – as dit lyk asof alles heeltemal buite beheer raak – is God besig om ons te red. Hy gebruik selfs die chaos van wêreldgebeure om sy verlossing te bewerkstellig. Hy is getrou om te red en sy volk te bewaar, deur elke ramp heen.

Wat die volk van God betref, ons het die inwonende Heilige Gees om ‘n woord uit die hemel tot ons te spreek. Ek glo dat die uitdaging vandag vir elke gelowige is om die Skrif te bly lees totdat die Heilige Gees maak dat dit lyk asof God se beloftes vir hulle persoonlik uit die bladsye spring. Ons kan weet wanneer dit gebeur, want ons sal die sagte, rustige stem van die Gees hoor fluister: “Hierdie belofte is joune. Dit is God se Woord wat net aan jou gegee is om jou deur hierdie moeilike tye te dra.”