Hou Die Aasvoëls Weg

David Wilkerson (1931-2011)

In Génesis 15 het God ‘n wonderlike ooreenkoms met Abraham gesluit. Hy het die patriarg opdrag gegee om ‘n vers, ‘n bokooi en ‘n ram te neem en almal in twee te verdeel. Daarna moes Abraham ‘n tortelduif en ‘n gewone duif neem en hulle kop-aan-kop op die grond neerlê. Abraham het gedoen soos hy beveel is en terwyl hierdie diere gebloei het, het aasvoëls op die karkasse begin toesak.

Wat het Abraham gedoen toe die aasvoëls daar aangekom het? Die Skrif sê dat hy hulle verjaag het. Dit was ‘n heilige offer wat Abraham nie sou toelaat om verontreinig of ongeskik vir sy Heilige Here gemaak te word nie. Net so, het die Here vir ons ‘n manier gewys hoe om teen “aasvoëls” of versoekings en ydele gedagtes op te tree wanneer hulle ons geestelike offers bekruip.

As daar enige stem wat God bevraagteken of twyfel in my gedagtes opkom, moet ek dit in lyn bring met dit wat ek van my liefdevolle Here weet. Ek kan geen gedagtes as waar aanvaar as dit bloot gebaseer is op hoe ek op die oomblik voel nie. Dit moet gemeet word aan Jesus se beloftes teenoor my oor Homself en oor die oorwinning wat Hy vir my behaal het.

As daar gedagtes by my opkom wat my beskuldig, as dit twyfel en vrees veroorsaak, veroordeel of ‘n gevoel van verwerping meebring, weet ek dat dit nie van God af kom nie. Ons moet almal bedag wees op sulke donker en kwellende gedagtes. Selfs die Here Jesus was onderworpe aan hierdie soort gedagtes van die vyand tydens sy versoeking in die woestyn. Ons hoef egter nie bang te wees vir die aanvalle van die duiwel nie, omdat Christus ons magtige geestelike oorlogswapens gegee het.

As aasvoëls op jou toesak en jou laat peins oor jou eie onwaardigheid en onvastigheid, jaag dit weg met God se Woord. Die offer wat die Here jou gelei het om te bring, is vir Hom aangenaam en Hy sal dit eer.