Die Ware Jesus

Ek glo dat dit nog nooit belangriker vir die kerk was om die ware Jesus te ken nie. Met die “ware Jesus” bedoel ek die enigste bron wat in staat is om elke menslike behoefte en verlange te bevredig, elke begeerte om liefgehê te word, om geken en aanvaar te word, elke hoop om ‘n lewe van waarde en betekenis te hê.

Hierdie dinge vind ons nie in die wêreld nie. Ons kultuur is ten volle gefokus op ‘n American Idol-tipe roem, wat vir ons vertel dat ons bevrediging sal kry deur geld of deur mooi en aantreklik te lyk of deur polulariteit. As liefhebbers van God weet ons van beter — dat ons diepste begeertes nie deur enigiets anders as deur Christus bevredig kan word nie.

En terwyl ons dit weet, probeer ons wat in die kerk is, dikwels Jesus afmaak tot ons eie beeld. Baie van ons wil ‘n Jesus hê wat ons pas — ‘n regse Republikeinse Jesus of ‘n liberaal Demokratiese Jesus. Daar is ‘n swart Jesus, ‘n bruin Jesus, ‘n wit Jesus, wat ek die Holiday Inn Jesus noem, die een met die drooggeblaaste, blonde hare wat deur die lug sweef.

Wanneer ek van die “ware Jesus” praat, bedoel ek die Een wat elke menslike honger en dors kan bevredig. Hy kan nie afgemaak word tot ‘n beperkte idee van hoe Hy is nie, omdat die Bybel sê dat Christus net in sy volheid geken kan word. Dit neem die hele raad van God — die volle Bybelse beeld — vir ons om Jesus te ontvang, te ken en getrou te dien. “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade” (Johannes 1:16). Kortliks, ons is in staat om in Christus se genade te wandel slegs as ons Hom ten volle ken. Enigiets anders is ‘n afgewaterde geloofswandel.

Johannes sê ook, “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11). Dit getuig van Christus se verwerping deur die Jode, maar hoeveel van ons Here ignoreer ons vandag? Lê ons meer klem op sekere van sy leerstellings bo ander omdat sommige ons ongemaklik laat voel? Tot watter graad het ons Jesus nog nie in sy volheid aanvaar nie?

Johannes sê dat daar drie ware dinge omtrent Jesus is wat ons moet weet.

In die eerste hoofstuk van sy evangelie, stel Johannes dit dat daar drie maniere is om Jesus in sy volheid te ken: Hy is die ware Woord van God, die ware lig van God en die ware heerlikheid van God.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Johannes 1:1). Johannes se vernaamste gehoor vir sy evangelie was die Griekse kultuur. Dit is waarom hy dadelik Jesus as “die Woord” geïdentifiseer het en na Hom verwys het met die Griekse term “logos.” Grieke het hierdie konsep van logos vir eeue bestudeer: die idee wat spreek van wysheid, kennis, rede, die betekenis van lewe, die filosofie van menslike bestaan. Nou het Johannes hulle uitgedaag:

“Wil julle werklik weet wat die betekenis van die lewe is, om die doel van die mens op die aarde te verstaan? Die logos wat julle soek, word gevind in die letterlike Woord van God — sy Seun, Jesus. Christus is die logos waarna almal honger! Jy soek kennis, maar logos — ware, kenbare wysheid en lewe — is ten volle uitgebeeld in Jesus.”

Die meeste lesers ken my as ‘n prediker van genade. Tog, elke belangrike teologiese term waaroor ek preek en skryf – genade, liefde, die Nuwe Testament – is alles in Jesus gegrond. Jy sien, om Christus in sy volheid te ken, beteken meer as om net teologiese waarheid oor Hom te ken; dit beteken om Hom toe te laat om ons te verander na sy beeld. Ons word nie vrygemaak deur ‘n idee nie; Jesus is die Een wat ons vrymaak, genees, reining en ons lei, nie net een keer nie, maar elke dag van ons lewe.

Toe ek omtrent twaalf jaar oud was, het ek gehoor hoe ‘n joernalis ‘n onderhoud voer met ‘n inwoner van Teen Challenge. Sy het hom gevra, “Wat is anders in hierdie program? Wat bied dit wat jy nie by enige ander sekulêre inrigting sal kry nie?” Die jongman het geantwoord, “Ons kry die Heilige Gees in die oggend, Jesus in die middag en die Vader in die aand.” Daardie reaksie mag miskien geyk klink vandag, maar dit was nie veertig jaar gelede nie. Ek onthou die jongman se opgewondenheid terwyl hy haar vertel het, “Teen Challenge gaan alles oor God. Net Hy kan my op hierdie manier vrymaak. Net Hy kan vir my ‘n doel en hoop gee en my gelukkig maak. Dame, dit is waaragtig!”

Dit is die presiese woord wat Johannes gebruik het om Jesus aan die Grieke te beskryf: waaragtig. “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Johannes 1:9) Die woord “waaragtige” kom van die Griekse woord “alethea,” Maar Johannes gebruik eintlik die woord “altheonos,” wat “ware” beteken. Die Grieke het gedink “logos” was onkenbaar, maar Johannes het hulle vertel, “God steek Homself nie weg nie. Hy het na die aarde toe gekom om tussen ons te leef. Die verborgenheid van God is aan julle geopenbaar in Jesus!”

Hoe presies is hierdie verborgenheid geopenbaar? Jesus het gekies om Homself aan die wêreld bekend te maak deur sy mense. Waar Johannes sê dat Christus in ons kom woon, beteken die werkwoord wat hy gebruik “tabernakel.” Jesus “tabernakel” in ons, net soos God in die Ou Testament gedoen het toe sy heerlikheid uit die hemel neergedaal het om tussen sy mense te kom woon. Hy kies om sy woning in ons te maak, en maak ons — beide as indiwidue en as gemeentes — die woonplek van sy heerlikheid.

Dit was die kern waarheid vir my vader, David Wilkerson, wat dikwels gesê het, “Ek wil nie ‘n besoek van God hê nie, ek wil ‘n inwoning hê.” Daardie waarheid het reguit van Johannes gekom, wat vir die Grieke gesê het: “Die logos is meer as net inligting, meer as net verstandelike instemming tot ‘n idee. Dit is God wat self kom om by jou woning te maak!”

Johannes was self verander deur Christus se volheid.

Johannes en sy broer, Jakobus, was dissipels van Johannes die Doper, die vurige profeet wat ‘n nasionale gevolg gehad het. Hulle het in hulle vader se visbesigheid gewerk en die twee rowwe broers het die bynaam van “seuns van die donder” gekry. Met ander woorde, hulle het nie maklik vir enigiets teruggestaan nie.

In my tyd het ek seuns van die donder geken. Die wonderlike bediening van Victory Outreach reik uit na baie mense wat rowwe agtergronde het, heiliges wat ‘n mens mag sê rof aan die buitekant gebly het nadat hulle na Christus gekom het. Dit asof sommige van hulle uit die bendelewe gekom het om in God se bende te begin — ongeïntimideerd, sê hulle wat hulle op die hart het, preek hulle met vrymoedigheid.

Dit was hoe Jakobus en Johannes was. Selfs nadat hulle Jesus vir ‘n tyd gevolg het, wou hulle vuur uit die hemel bring om iemand wat die evangelie verwerp het, te vernietig. Dekades later toe Johannes sy evangelie geskryf het, het hy gepraat van ‘n verandering wat in hom plaasgevind het. Hy het homself nou as “die geliefde dissipel” gesien, nie meer die tawwe ou nie. Hy het die Grieke vertel dat Jesus nie net waarheid was vir kopkennis nie, maar waarheid vir die verandering van die hart.

Vind jy dat jy jou kop vul met kennis oor Jesus, maar tog ervaar jy dat jou hart nie verander word nie? Word jy aangekla dat jou lewe nie veel verander van dag tot dag soos die Gees in jou werk nie? Jesus het gekom om in jou te “tabernakel,” om jou te verander deur sy teenwoordigheid. In daardie sin, is die ware Woord nie net inligting nie, maar die lewende God wat in jou woon.

Jesus is ook die ware lig wat verlig en alle waarheid openbaar. Carter Conlon, die pastoor van Times Square Church, vertel van ‘n ondervinding wat hy gehad het by ‘n konferensie waar hy passievol gepreek het oor die heiligheid van God. Na die diens, het hy langs ‘n man gaan sit wat gesê het, “Ek stem nie saam met enigiets wat jy gepreek het nie.” Toe Carter vir hom vra, waarom nie, het die man geantwoord, “My God sal nooit sy stem teenoor my verhef nie.” Verbaas het Carter die Bybelse gedeelte waar Jesus ‘n sweep geneem het en in die heilige tempel ingegaan het om die geldwisselaars uit te dryf, as voorbeeld genoem. Die man het gereageer, “Ja, Hy het dit gedoen, maar dit is nie wie Jesus nou is nie.”

Carter het vir ‘n oomblik gedink en die man gevra, “Sê my vriend — het jou pa op jou geskree toe jy grootgeword het?” Op daardie oomblik het die man ineengestort. “My pa het heeltyd op my geskree,” het hy deur sy trane gesê. Carter het die man bedien met genade en waarheid en geëindig deur sag te sê, “Daar is nie ‘n ding soos ‘my God’ nie. Daar is net een God, en Hy kan nie joune of myne wees nie. Ons is almal syne.”

Daar is baie kampe binne die Christelike kerk. Sommige gelowiges word groot in harde of geweldadige huise en aanvaar net ‘n teddiebeer Jesus. Ander wat in deurmekaar huise grootword, soek ‘n God van orde wat vir hulle wettiese grense gee. Maar ons grootwordproses kan nie vir ons die volle beeld van die ware Jesus gee nie. Sy ware Woord bring ware lig en wys ons die waarheid wat ons vrymaak. Ons moet getrou wees om die volle lig te ontvang, nie net die deel van die lig wat ons wil sien nie.

Johannes skryf dat toe hy die ware lig in Jesus gesien het, het hy geweet dat dit waar was. Die woorde wat hy Jesus gehoor preek het en die werke wat hy Hom gesien doen het, het sy honger gestil en sy dors geles. Dit was toe dat hulle opgehou het om Johannes die Doper te volg en begin het om Jesus te volg.

Laastens, Johannes skryf in sy evangelie van Christus se ware heerlikheid.

“En ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol genade en waarheid” (Johannes 1:14). Die Griekse woord hier vir “heerlikheid” is “doxa.” Dit is die bron agter die Doksologie, die gesang wat so baie kerke sing waarin God se veelvuldige heerlikheid besing word.

“Doxa” is eintlik Johannes se vertaling van ‘n Hebreeuse woord “kavod,” wat gewigtige, sustantiewe, intense, dik beteken. Dit is wat in elke volgeling van Christus woon: God se gewigtige, betekenisvolle, passievolle heerlikheid. Sy heerlikheid skei jou af — van ligtelikheid, van eiebelang, van gemaklike gelowigheid. Dit is hoe die wêreld weet dat jy vir God bestaan. Jy dien nie net ‘n Jesus wat jou gelukkig maak nie; jy dien die ware Jesus, wat die krag het om ‘n lewe te verander en dit betekenisvol, doelgerig en vervullend te maak.

Al hierdie staan teenoor die verheerliking van self. “Weer neem die duiwel Hom [Jesus] saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid [doxa]” (Matthéüs 4:8). Daar is baie heerlikhede in die wêreld wat roep dat ons hulle moet najaag: reputasie, oorvloed, invloed. Maar hoe meer ons daardie heerlikhede soek en ontvang, hoe minder ontvang ons van God se ware heerlikheid — en hoe minder van sy heerlikheid skyn uit ons lewens.

Hierdie geneigdheid het in die kerk ingesluip. Soms kan ons aanbidding meer leun tot pronkerige vertoon en emosionele ervaring as om God se majesteit te loof en sy volle, gewigtige teenwoordigheid te ken. Johannes het met reg God se heerlikheid selfs voor sy genade geplaas: “Ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid” (Johannes 1:14). Johannes wys uit dat genade en waarheid in God se heerlikheid bevat word; dit kom daaruit.

Tog lewe baie Christene asof genade en waarheid eindpunte is, die einde van alles in ons wandel met Jesus. Hulle hou op wanneer hulle weet dat hulle in Christus is (posisionele waarheid), maar laat na om in sy volheid in te gaan. Maar ons lewens is bedoel om Jesus in al sy heerlikheid uit te beeld — en dit vereis dat Hy ons verander.

As ons dink dat ons alles verstaan – dat ons God se genade ten volle begryp en dat niks meer nodig is nie — dan stop ons kort van sy heerlikheid. Moenie dat dit in jou lewe gebeur nie. Soek die ware Jesus in sy volheid — en ontvang die volheid van sy genade en heerlikheid!