Gehate as Gevolg van Jesus se Opdrag

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus sê vir die kerk, “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Matthéüs 5:10-12).

Waarom haat die wêreld die ware kerk, sy herders en gemeentelede? ‘n Ware Christen is liefdevol, vredevol, vergewensgesind en gee om. Diegene wat Jesus se woorde gehoorsaam, is self-opofferend, nederig en vriendelik.

Algemene wysheid sê vir ons dat dit nie natuurlik is om diegene te haat wat vir jou lief is, jou seën en vir jou bid nie. Waarom word Christene dan so gehaat? Jesus sê eenvoudig, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat dit My voor julle gehaat het ... As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:18,20).

Die kerk, bedienaars en gelowiges word gehaat as gevolg van hulle opdrag, wat meer is as net om vir verlore mense te sê, “Jesus het jou lief.” Jy mag terugdeins van verbasing as ek jou daaraan herinner wat ons opdrag is. Eenvoudig gestel, as Christene moet ons van goddelose wegneem wat die kosbaarste vir hulle is: eie-geregtigheid. Dit is om hulle in vryheid, wat vir hulle soos slawerny lyk, in te bring.

Jesus het gesê, “Ek [het] julle uit die wêreld uitverkies” (Johannes 15:19).  Dit tref die hart van waarom ons gehaat word. Toe ons gered was, het ons “uit die wêreld” gekom en ons opdrag aanvaar om daarop aan te dring dat ander ook “uit die wêreld” moet kom.

“Omdat julle nie van die wêreld is nie...daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Christus sê, in wese, “Die wêreld haat julle omdat Ek julle uit julle toestand geroep het. En dit beteken dat Ek julle uit hulle gemeenskap uitgeroep het. Ek het julle egter nie net uitgeroep nie, Ek het julle daarna ook gestuur om al die ander uit te roep.”

Hier is ‘n bemoedigende boodskap. Hoewel die wêreld Christus se ware dissipels haat en vervolg, vind ons toenemende liefde en goddelike geneentheid tussen die lede van sy kerk. Trouens, terwyl die wêreld rondom ons meer chaoties raak, word die ontsaglike liefde van ons mede gelowiges kosbaarder.

Soos Christus gesê het, “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34).