Hoe om te Kry Wat Jy Begeer

Nie lank gelede nie, was ek genooi na ‘n rojale middagete in ‘n ruim New York Stad woonstel. Dit was ‘n pragtige woning, 20 vloere op met ‘n wye balkon en ‘n pragtige uitsig oor die stad. Die gasvrou van die geleentheid het ‘n heerlike feesmaal bedien met heerlike groente, slaaie en varklende.

Enige gas daardie dag sou gedink het hierdie vrou is ‘n vermoënde, ryk New Yorker met ‘n uitvoerende pos by ‘n Fortune 500 maatskappy – of ten minste ‘n groot erfenis. Maar die teenoorgestelde was waar. Sy was ‘n sukkelende enkelma wat amper haar vorige woonstel verloor het – en toe skielik hierdie een gekry het.

Terwyl ons die pragtige uitsig bewonder het, het sy vir ons vertel hoe haar begeerte waar geword het.

“Ek was in ‘n kleiner woonstel in hierdie selfde gebou en die huur sou verhoog,” het sy gesê. “Ek kon dit nie bekostig nie. Ek was reeds styf gespan. Al die dele van New York word duurder en ek het iets verskrikliks besef: Ek sou my dogter moes ontwortel en uit die stad uit trek. Ek sou na ‘n plek buite die stad moes soek en sou dan ‘n lang ent moes pendel na my werk in die stad.

“My dogter sou al haar vriendinne verloor,” het sy voortgegaan. “En ons sou nie in staat wees om sonder baie moeite hierheen kerk toe te kom nie.” Toe het haar situasie erger geword: Al die dorpe binne die pendelafstand het ook buitensporige huur gehad. Sy het wanhopig begin raak.

“Ek het dit alles in God se hande oorgegee,” het sy gesê. “Ek het gesê, ‘Here, U weet wat ek nodig het: ‘n plek om te bly saam met my dogter. Maar U weet ook wat ek wil hê. Ek wil hê my kosbare dogter moet haar vriende behou. En ek wil in ons kerk bly – om die lewe te deel met die mense wat ons liefhet en ondersteun. Ek wil hierdie goeie en volmaakte gawes waarmee U ons geseën het, nie verloor nie.’”

Sy het dit gebid terwyl sy die hysbak in haar gebou gery het. Toe sy in die portaal ingestap het, het die opsigter haar nader gewink. “Jy is die een wat na ‘n nuwe plek soek, reg?” het hy gevra. “Wel, iets het pas beskikbaar geword.” Hy het haar geneem na die woonstel waarin sy nou woon, met die wye balkon wat uitkyk oor die stad. “Ek weet nie hoekom nie,” het hy gesê, “maar die huur vir hierdie plek is laer as jou huidige woonstel. Wil jy dit hê?”

Wou sy dit hê? Sy was verstom oor God se oorvloedige barmhartigheid! Sy het blyplek nodig gehad – maar sy wou meer hê vir haar dogter, vir haarself en haar verhoudings. Die Here het haar behoeftes aangespreek, soos Hy vir ons almal doen, volgens sy rykdom in heerlikheid: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

God het egter dit wat sy begeer het ook aangespreek. Sy het haar goeie begeertes aan die Here bekend gemaak – en sy antwoord het nie net haar nie, maar ook haar dogter en hulle geliefde geloofsgemeenskap geseën.

Om te praat oor dinge begeer, is taboe vir baie Christene.

Om te kry wat ons wil hê, is nie ‘n algemene onderwerp onder baie Jesus volgelinge nie. Maar in werklikheid, het dit alles te doen met God se karakter en hoe ons Hom verstaan. Baie van ons nader die Vader asof Hy slegs gebede verhoor vir “geestelike” dinge. Maar Paulus sê, God se sorg sluit elke aspek van ons lewe in: “My God sal elke behoefte van julle vervul” (my beklemtoning)

Paulus voeg daarby: “En aan Hom wat mag het om vir ons te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20, my beklemtoning). Ek was nog nooit goed met wiskunde nie, maar ek weet dat “ver bo alles” beteken “baie.” Die Nuwe Lewende Vertaling brei dit selfs verder uit en sê dat God “oneindig meer...doen as wat ons vra of dink om te vra.” Ek weet “oneindig” is selfs meer as “baie”; dit is heeltemal bokant ons begrip.

Kortliks, God is in baie, baie meer geïnteresseerd as om ons behoeftes aan te spreek. Waar Paulus die woord “bid of dink” gebruik, verwys hy na ons behoeftes en begeertes. Trouens, Paulus sê God wil meer doen as om ons begeertes te skenk – Hy wil dit oortref. So, as ons bid om ons beker vol te hê, sal God dit laat oorloop – net soos Hy gedoen het met die vrou se woonstel. Jy sien, om vir ons begeertes te bid, gaan nie net oor ons en ons behoefte nie. Dit gaan daaroor om ‘n goeie, liefdevolle Vader te ken wat Hom daarin verbly om oorvloedig te skenk.

Ons is veronderstel om God op hierdie manier te sien. Trouens, Hy seën ons met ‘n verbeelding sodat ons kan droom en goeie dinge van Hom kan begeer. Toe ek grootgeword het, was my held die New York Knicks basketbalspeler, Willis Reed. Terwyl ek my ringvaardighede geoefen het, het ek my verbeel ek speel soos hy. Toe ek ouer geword het en my jeugdige drome opsy geskuif het, het ek my ander dinge begin verbeel: om God se Woord aan mense te bring, ‘n goeie vrou te ontmoet met wie ek sou trou, kinders groot te maak wat goedhartige en vrygewige harte gehad het. Nie een van hierdie dinge was “behoeftes” nie; dit was begeertes, diep passies van my hart. En ek dank God dat hulle almal in vervulling gekom het deur sy liefdevolle hand.

Daar is ‘n wonderlike werklikheid agter my getuienis hier. Dit is dat baie van ons begeertes hulle oorsprong by God het. Dit is deel van sy voorgesette werk om ons te heilig: Soos ons met Hom wandel, plaas sy inwonende Gees ‘n begeerte in ons om goeie dinge te begeer. Soos enige liefdevolle ouer, wil God hê ons harte moet met syne ooreenstem, sodat ons geseën kan word. En volgens Paulus, bereik Hy dit “nie deur ons rond te stoot nie, maar deur in ons te werk, deur sy Gees diep en sag binne-in ons” (Efésiërs 3:20, direk uit The Message vertaal).

Ek het oor die jare geleer dat Satan ‘n sekere soort strik stel vir getroue Christene.

Ek praat van volgelinge van Jesus wat die duiwel weet hy nie kan versoek met openlike, groot sondes nie. As hy hulle nie sover kan kry om goddelose begeertes na te jaag nie, sal hy hulle laat glo dat alle begeertes goddeloos is. As hy dit kan regkry, sal hulle alle begeertes laat staan – en hulleself afsny van God se oorvloedige seëninge.

Jakobus spreek goddelose begeertes in Christene aan: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lewe stryd voer nie?” (Jakobus 4:1). Maar Satan verdraai hierdie vers in sommige Christene se gedagtes. Hy verander bloot die woord “welluste,” sodat die vers lees, “Kom hierdie vegterye onder julle nie van julle begeertes af nie?” Met ander woorde, alle begeertes is goddeloos. Dus, as ons niks wil hê nie, het ons nie konflik nie.

Wat ‘n demoniese leuen. Ons is bestem om passievolle mense te wees en te begeer om God se koninkryk op die aarde te beleef, soos dit in die hemel is. Trouens, dit was presies een van my begeertes as ‘n jong man: om in staat te wees om God se Woord te verkondig om mense in ‘n oorvloedige lewe in te lei. Nie een van my begeertes as ‘n jongman – vir ‘n godelike vrou, vir goeie kinders, vir sy salwing om te preek – was goddeloos nie. Almal was goed. En Hy het my lewe geseën met dit alles, omdat dit Hom behaag het om dit te doen.

Jesus sê dit eenvoudig en reguit in sy Bergpredikasie: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid(Matthéüs 7:11, my beklemtoning). Dink hieraan: In een van sy heel eerste openbare preke, moedig Jesus ons aan om goeie dinge te soek – en om ons begeertes voor ‘n Vader te bring wat dit geniet om ons te verhoor.

Dink jy om iets te begeer bewys jy is selfsugtig of materialisties? Jakobus wys die tragedie hiervan uit: “Julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:2). Miskien is jy bang om tot God te nader en dink Hy sal sê, “Sjoe, dit is selfsugtig! Jy vra vir heeltemal te veel. Ek sal jou behoeftes aanspreek, maar niks meer nie.” Nee, dit is nie God se manier nie. Paulus sê die teenoorgestelde: “God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie!” (Efésiërs 3:20, Die Boodskap).

Ons Vader is nie een of ander suinige vrek wat seëninge opgaar en dit weerhou omdat ons dit nie verdien nie. Dit is tyd vir sy kinders om te sien hoe Hy werklik is – die vrygewige, liefdevolle God van ons wildste drome!

Ek skryf hierdie aan elke Christen wat voel dat hy of sy dalk ‘n nuttelose lewe leef – en wat wil verander.

My passie is om te sien hoe mense hulle lewens ten volle leef in die oorvloed van God se seën en genade. Terwyl die wêreld sug, “Dank God dit is Vrydag,” verbeel ek my elke Christen word wakker en sê, “Dank God dit is Maandag! Ek kan my verlustig in die blydskap wat God vir my gegee het. Ek kan mense dwarsdeur die week liefhê. Ek kan die Goeie Nuus van Jesus met almal deel.”

Ons almal weet nie elke week is so nie. Sekere seisoene in die lewe is ‘n stryd. Maar God gebruik selfs daardie seisoene om ‘n ontevredenheid in ons harte te plaas, ‘n honger om sy oorvloedige goedheid te beleef – net soos die vrou in die nuwe woonstel. Soms duur hierdie seisoene langer as waarvan ons hou, en ons leer om Jesus daardeur te vertrou. Ja, selfs daardie seisoene is ten goede vir ons bedoel. As jy in daardie soort seisoen is, moedig ek jou aan om drie dinge te doen:

1. Elimineer alle selfsugtige begeertes. Weerstaan alle bitterheid oor dit wat jy nie het nie. Soek die Here om hierdie moeilike tye te gebruik om jou begeertes en jou begrip van Hom as ‘n goeie Vader te reinig. Hy sal jou bitterheid vervang met hoopvolle begeerte.

2. Werp die lig op alle goeie, rein begeertes. Maak soos Jakobus ons aanmoedig en vra die Here om jou begeertes te vervul. Identifiseer duidelik wat jy begeer – en sê dit vir God. Elke ouer wil hê hulle kind moet goeie dinge soek, en dit behaag die Here om dit vir ons te gee.

3. Aktiveer jou begeertes. Moenie net sit op jou begeertes nie; tree op. Dit mag dalk beteken om daarvoor te gaan studeer, jouself te dissiplineer, jouself te beproef:  “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (1 Timótheüs 2:15)

Ek kan dit nie eenvoudiger sê nie: God wil meer vir ons hê was wat ons vir onsself wil hê. Dit is tyd vir jou om alle skaamte en vrees neer te lê, en al jou begeertes voor die Vader wat jou liefhet te bring. Vra Hom vir daardie dinge – en kyk hoe Hy sy oorvloedige liefde vir jou demonstreer voor ‘n verstomde wêreld. Hy sal jou seën ver bo enigiets wat jy kan dink!