Skakel met God se Kinders

Gary Wilkerson

“Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink ... oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe” (Filippense 1:3-5).

Paulus dank God vir die gemeenskap van die heiliges; die koinonia — om saam te deel — wat hy en die Filippensiese kerk geniet het soos hulle saam in geloof gewandel het. Hierdie gemeenskap in die evangelie is soos geen ander nie. Dit is sterk omdat dit gebore is aan die voet van die kruis van Jesus Christus. Deur Hom, het mense uit verskillende gebiede, stamme en tale almal as een liggaam saamgekom.

Ons lees verder: “Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus. En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus” (1:8-10). Paulus het hom verheug in die deelgenootskap van sy medegelowiges — hulle was getrou en konsekwent van die eerste dag af wat hy hulle ontmoet het. Hulle het met hom gekommunikeer en hom ondersteun toe hy alleen in die tronk was, en hy was innig dankbaar.

Paulus het God gedank vir sy vriende wat konsekwent was deur die jare. Die Heilige Gees het hulle harte saamgesnoer en hulle het een in Christus geword. Paulus wou hê sy liefde vir hierdie gelowiges moes meer en meer oorvloedig word.

Net so, vandag, wil die Here hê sy kinders moet gemeenskap hê, om mekaar lief te hê en te ondersteun. Nie net sal dit ons wandel met Hom versterk nie, maar Bybelse gemeenskap kan ‘n kragtige getuienis vir die wêreld wees.

Sukkel jy om by medegelowiges in te skakel? Ek moedig jou aan om op die uitkyk te wees vir geleenthede om op ‘n nuwe manier met God se kinders te skakel. Nie net kan jy vir ander gee nie, maar hulle kan ook jou wandel met die Saligmaker verryk – en saam kan julle ‘n sterk band van geloof vorm. Die Here sal jou pogings kroon met sy seën sodat “julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word.”