Hongersnood in die Land

David Wilkerson

“En daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte...” (Markus 13:8).

Daar is ‘n verskriklike hongersnood in die land vandag. Dit is nie ‘n voedselhongersnood nie. Trouens, die Verenigde State produseer so ‘n oorvloed van kos dat die regering tans besig is om ‘n aantal aansporings vir boere te gee om van hulle grond uit produksie te haal.

Dit is nie ‘n hongersnood van die Woord van God, die soort wat genoem word deur die profeet Amos nie. Nog nooit in die hele kerkgeskiedenis was daar so ‘n volle openbaring van die Woord van God nie. Profete, jonk en oud, word opgewek en bring ware openbaring tot ons harte.

Die hongersnood is een van menslike nood. Dit die menigtes van mense wat smag na liefde en toenadering en daarna verlang om vervul te word en benodig te word deur iemand.

Die woord hongersnood beteken eintlik “uiterste skaarste, onversadigde honger, enige soort honger.” Dit som die vrees wat so baie beleef in hierdie laaste dae baie goed op.

Ek het onlangs daardie angs eerstehands in ‘n hotel in Dallas, Texas gesien, waar ‘n dinee vir enkellopendes aan die gang was. Ek het na die gaste gekyk terwyl hulle met mekaar gemeng het, likeurglase in die hand, en ek gedink hoe eensaam hulle gelyk het – soveel uitgehongerde, hartseer gesigte; sulke leë oë. Later daardie aand het ek afgegaan na die toebroodjiewinkel vir iets om te eet. Die partytjie was pas verby. Ek het hulle sien uitkom en dit het my hart gebreek. Daardie mense het urelank gedrink en partytjie gehou, terwyl hulle gesoek het na iets om die lewe betekenis te gee. En daar was ‘n leegheid, ‘n kyk van ware verskrikking in hulle oë. Dit was die verskrikking van eensaamheid en dit het in wese gesê, “Ek wil nie alleen wees nie! Asseblief, iemand, help my om dit deur die nag maak!”

Hierdie toneel word oral in Amerika herhaal. Absolute vrees en verskrikking vir hongersnood; duisende smag na iets waarop hulle nie hulle vinger kan lê nie. Ry verby enige restaurant gedurende “Gelukkige Uur.” Van 4 tot 7 elke dag, sal dit gepak wees met eensame mense wat dit pas deur die dag gemaak het. Hulle drink om dit te maak tot aandete. Dan ná aandete, gaan hulle terug na een of ander kroeg toe. Hulle soek – en soek – en probeer iets vind om die hongersnood van hulle siele te stil.

Jy sal nie net in die kroeë hierdie wanhopigheid sien nie; jy kan dit in gemeentes ook sien. Ek het buite kerke gestaan en kyk na die gesigte van mense as hulle binnekom. Ek dink die grootste droefheid in my bediening is om te luister na tragiese stories van Godvresende, toegewyde Christene wat eensaam is en ly. Die meeste van die tyd is hulle enkellopendes. Hulle kom na my en sê iets soos: “David, wat is verkeerd daarmee om liefgehê te wil wees? Daar is niks sondig daaraan nie, is daar? Net om nodig te wees? Ek wil nie seks hê nie; ek soek ‘n vriend, iemand om my lewe mee te deel.”

Een dame het die volgende nota geskryf: “Is ek verdoem tot ‘n lewe van eensaamheid? Is ek nie meer iets werd vir iemand nie? Die nagte maak my bang. Ek lewe vir God; Ek is vol van Christus en ek het Hom lief. Maar op die menslike vlak is ek so hartseer dat ek nie kan slaap nie. Soms wonder ek of dit alles die moeite werd is! Wanneer ek kerk toe gaan en ander mense gelukkig getroud sien, maak dit regtig hartseer. Is ek verdoem om so te leef vir die res van my lewe? Sal my behoeftes ooit aangespreek word?”

Dan kry ek briewe van getroude mense wat vasgevang is in ‘n hopelose, liefdelose huwelik. Sommige met ‘n man of vrou wat hulle verkul; ander met ‘n homoseksuele maat; of diegene met ‘n maat wat nie veel meer as ‘n vreemdeling vir hulle is nie. Hulle sê, “Jy praat van eensaamheid – enkellopendes weet nie wat eensaamheid is nie! Jy sal nie weet nie tot jy in ‘n posisie kom waar almal dink dat jy gelukkig is en alles in orde het. Jy hou ‘n front voor en hulle weet nie dat dit die ergste soort eensaamheid kan wees wanneer jy vasgevang is saam met iemand in jou huis wat jou nie liefhet nie!”

Ek luister na storie op storie en ek huil. Ek het tot die Here gebid om vir my Sy antwoord te gee op hierdie hongersnood van eensaamheid. Ek wou nie sielkundige teorië hê nie – geen Freud of Jung nie. Daarom het ek na die Woord van God gegaan en die roepstem van die Here se hart gehoor.

Laat my ‘n paar van die pragtige waarhede met jou deel. As jy hartseer is, as jy te midde van ‘n persoonlike hongersnood is, het God ‘n gerusstellende boodskap vir jou. Ek praat nie net van liefde  nie. Ek praat van die gevoel van nodig en vervul wees.

Beskou Josef

Die Here het my gelei na die storie van Josef. Josef het gesien hoe ‘n pragtige droom in duie stort, en wat ‘n droom was dit! Hy het gedroom dat sy koringgerf gestaan en al die ander neergebuig het. Dat selfs die sterre en die maan voor hom neergebuig het! Dit het beteken hy sou die hoogste punt van vervulling bereik, die toppunt van sukses. Ek weet van geen ander mens in die wêreld wat so ‘n droom gedroom het nie! 

As ek praat van “die toppunt bereik,” praat ek van blydskap, vrede en persoonlike vervulling. Nie materiële dinge nie – want dit vervul nie. Dít is nie ‘n droom nie: dit is fantasie. Nie werklikheid nie. Die ware droom het te doen met blydskap en vervulling en nodig voel.

As jy Josef se storie bestudeer, sien jy dat alles vir ‘n rukkie goed gegaan het. Sy droom het reg voor sy oë begin ontvou. Hy het daarvan gehou om vir sy meester te werk. Alles wat hy gedoen het, was voorspoedig; hy was in beheer van sy bestemming. Gelukkig, geseënd, nodig, gerespekteerd en geliefd. Maar skielik, het dit alles in duie gestort. Net toe sy droom gelyk het of dit in fokus kom en hy die soort geluk beleef wat hy gedink het die lewe behoort te bring, het ‘n ramp hom getref:

“Die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was...” (Génesis 39:20).

Die ironie was dat hy in hierdie penarie beland het, omdat hy nie toegegee het nie! Dit was nie ‘n gevolg van sonde nie. Dit was omdat hy nie wou toegee aan sy meester se vrou en met haar owerspel pleeg nie. Eendag was hy in beheer en almal het hom gerespekteer. Die volgende dag was hy toegesluit en vasgebind in ‘n donker kerker van wanhoop!

Toe Josef tronktoe gegaan het, was God steeds met hom. Die Bybel sê dat alles wat hy daar gedoen het, ook voorspoedig was (Génesis 39:23). Maar wat ‘n beproewing vir hierdie man van God! Hy het ‘n droom in sy hart gehad. Hy was duidelik ‘n man van groot nood en groot honger omdat jy nie sulke hoogtes sou kon bereik het tensy hy gedrewe was deur hierdie behoeftes nie. Hy was bekwaam, talentvol – maar nou het hy gekwyn in die tronk en gewonder of die deur van bruikbaarheid ooit weer vir hom sou oopgaan.

Die verhaal gaan verder,

“...tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het...” (Psalm 105:19).

As jy saam met Josef in daardie tronk was tydens daardie lang maande van pyn en die droom onthou het, sou jy sy wanhoop verstaan het. Hou in gedagte dat die droom te doen gehad het met goddelike, geestelike dinge. Josef het ‘n droom gehad om bruikbaar te wees – nodig!

Is dit nie wat ons almal regtig wil hê nie? Om nodig te wees? Is dit nie die roepstem van ons hart: “God, is ek nie vir U iets werd nie? Kan ek nie gebruik word nie? Is daar geen plek vir my nie? Niks vir my om te doen nie?”

Dit was die roepstem van Josef se hart terwyl hy vergete in die tronk gesit het. As ons by hom was, dink ek sou ons hom gehoor sê het, “Dit is nie dat ek nie glo God is werklik nie, of dat ek Sy Woord nie glo nie. Ek glo. En ek het Hom lief. Maar ek het een of ander bewys nodig dat Hy daar is – dat my gebede verhoor word. Ek gaan week na week aan in dieselfde kerker van wanhoop. Niks verander nie. God, doen iets asseblief – enigiets – om my uit hierdie verskriklike penarie waarin ek is te kry!”

Klink dit bekend? Beproef die Woord van God jou? Jy tel jou Bybel op en jy lees die beloftes en dit lyk of hulle jou terg. Gebede vir verlossing word nie verhoor nie. O, wat ‘n toets vir hierdie groot man van God! Jy sien, God het Josef steeds liefgehad; Hy was steeds met hom. Maar op die menslike vlak, was hierdie dienaar van God in groot pyn en ellende. O, hoe hartseer was hy!

Nodig – ‘n Vriend!

Die skinker en die bakker was ook in die tronk gegooi. Hulle het beide ‘n droom gehad wat hulle vir Josef gevra het om uit te lê. Josef het vir die skinker gesê, “Jy gaan jou werk terugkry – jy gaan herstel word in jou vorige posisie!” Luister dan wat Josef vir hom gesê het:

“Bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie...” (Génesis 40:14,15).

Gaan jou hart nie uit na Josef nie? ‘n Goddelose man kom uit die moeilikheid uit, terwyl die man van God wat werklik glo, in slawerny agtergelaat word. Dit klink nie regverdig nie. Hy word agtergelaat in die tronk; sy droom vernietig; eensaam en hartseer. En die ergste van alles is dat hy nie eens geweet het waarom dit met hom gebeur het nie! Het jy al ooit so gevoel? Het jy al ooit uitgeroep in jou desperaatheid, “Iemand, êrens! Is daar iemand wat voel wat ek voel? Help my! God, ek soek uitkoms!” En dit lyk net erger wanneer dinge goed gaan vir ander wat minder verdienstelik is.

Nog twee jaar het verbygegaan terwyl Josef in die donker gat van wanhoop gely het. Kan jy jou indink hoe vergete hy gevoel het? Hulle op wie hy gehoop het sou help, het opgegee op hom. Hy het geen vriend gehad om mee te praat nie, om sy innige hartseer en eensaamheid mee te deel nie. Sy familie was nie naby om hom te help nie. Die Woord van God het sy hart beproef. Jou hart gaan uit na hierdie heilige man van God soos hy uitreik na menslike aanraking en probeer om te verstaan hoekom hy nie verlos word nie.

Ek glo daar is baie Christene vandag wat eerlik kan sê, “Ek dink regtig nie ek verdien die omstandighede waardeur ek nou gaan nie. Nie hierdie soort wanhoop nie!” Soos Josef, is hulle onskuldig en ly as gevolg van ‘n ernstige beproewing.

Wat van die skuldige?

Maar miskien is jy nie onskuldig nie. Miskien is jy die een wat ander skade aangedoen het. Jy is die een wat die fout gemaak het. Jy sê, “Dit is goed en wel vir jou om te praat oor die liefde van Jesus vir ‘n man soos Josef, wat eerlik kon sê, ‘Ek ly om geen rede nie.’ Enigeen kan hoop bied aan daardie soort mens. Maar ek verdien dit waardeur ek gaan. Dit is alles my skuld dat ek in hierdie gemors sit! Ek het God teleurgestel en baie mense skade aangedoen.”

Die meeste van die tyd het die kerk nie baie geduld met die een wat verkeerd gedoen het nie – soos die man wat sy familie verlaat en owerspel pleeg. Ons verag daardie man. Toe die Ajatolla ons Amerikaanse burgers onder huisarres geplaas het, het hoeveel Amerikaners het geglo dat Jesus die Iranese liefgehad het? Hoeveel van ons sou ons seuns en dogters as sendelinge na Iran stuur? In plaas daarvan, wou ons hê God moes vuur uit die hemel stuur en hulle verteer! Ons het nie baie liefde of medelye gehad nie.

Laat my vir jou iets vertel wat moeilik is om te aanvaar: As ‘n skuldige hom bekeer, homself verneder en gebroke voor God is – is hy net so geregtig op die barmhartigheid en genade van Jesus Christus as die een wat hy skade aangedoen het.

In die Ou Testament, het Jeremia gepraat van mense wat siek is van hongersnood – ‘n innerlike hongersnood. Hulle soek vrede, maar al wat hulle vind, is ellende; vir ‘n tydperk van genesing en verlossing van hulle probleme, maar wat hulle ook al kry, is nie goed nie. Daar is verskrikking in hulle gedagtes en in hulle gees en in hulle liggaam:

“...Ons vel gloei soos ’n oond vanweë die gloed van die honger...” (Klaagliedere 5:10).

Iemand wat deur die eensaamheid van skuldgevoelens gaan, sal vir jou vertel hoe dit voel om te versmoor, om te voel hulle siel droog op en word swart van wanhoop. Absolute angs in hulle harte! Ek kan nie begin om te raai hoeveel oor hierdie skuld gehuil het by die altare tydens my veldtogte nie. Hulle vertel vir my hulle kan nie in die nagte slaap nie. Hulle sê, “Dit is nie dat ek bang is ek is nie gereed wanneer Jesus kom nie – dit is op die menslike vlak wat ek vreesbevange is! Ek het soveel vrees en eensaamheid oor myself gebring.”

Sommige ween oor aborsies en kan nie die oorweldigende skuldgevoelens hanteer nie. Hulle roep uit, “Ek het my baba vermoor. Ek het ‘n onskuldige lewe geneem – kan God my ooit vergewe?” Een arme meisie was op die punt van ‘n senuwee-ineenstorting nadat sy drie aborsies gehad het. Sy was oorweldig met goddelike droefheid, maar tog histeries oor skuldgevoelens. Daar was geen vrede in haar bekommerde gemoed nie, en sy het soveel leegheid en ontevredenheid beleef.

Ons sondes haal ons weldra in

Daar is tye wanneer God pyle van hongersnood stuur teen die ongehoorsames en wederstrewiges. Esegiël het namens God gepraat teen die ongehoorsame kinders van Israel, wat die tempel van God verontreinig het deur met heidense vroue te trou. Hulle het met openlike, uitgestalde sonde gelewe! Eségiël, onder die gedonder van God se salwing, het uitgeroep,

“As Ek strafgerigte in jou oefen in toorn en grimmigheid en in grimmige strawwe. As Ek die verderflike pyle van hongersnood teen hulle uitstuur...dan sal Ek die hongersnood oor julle vermeerder...Omdat julle...in my insettinge nie gewandel en my verordeninge nie betrag het nie...daarom...Ek sal strafgerigte in jou midde oefen, voor die oë van die nasies!” (Eségiël 5).

Baie van julle betaal die prys vir ‘n verskriklike fout wat jy gemaak het. Jy kan voortgaan en probeer om God te bedrieg, maar jy gaan maai wat jy saai. Daar is geen twyfel daaraan nie.

“Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai...” (Galásiërs 6:7).

Baie beleef depressie. Hulle is neerslagtig, eensaam – omdat hulle ‘n fout gemaak het en daarvoor betaal – duur. Die Bybel sê, “Die loon van die sonde is die dood.” En die ellende, pyn en verwerping wat ons voel, is omdat ons êrens op ons pad God teleurgestel het. Ons was ongehoorsaam, hardkoppig en eiesinnig. En die prys van ongehoorsaamheid is baie hoog.

Maar ek het goeie nuus vir jou! God het die laaste paar maande my oë oopgemaak vir Sy groot wonderlike liefde en Sy krag van versoening. Soms kan ek myself skaars beteuel!

Daar is ‘n pragtige waarheid in Eségiël, in dieselfde gedeelte waar God pyle van hongersnood skiet teen fouteerders. Eségiël sê vir die volk in wese, “Dit is nie dat God dit doen nie; liewer, dit is die gevolge van wat júlle doen! As julle voortgaan in julle eie weë nadat Ek julle liefgehad het en by julle gepleit het, sal julle die prys betaal. Julle sal eensaamheid en vrees beleef, omdat dit die natuurlike gevolge van julle sonde is!”

Dit is nie dat God met opset mense seermaak nie. Maar julle betaal die natuurlike gevolge van sonde. Luister egter na hierdie heerlike boodskap:

“Mensekind, toe die huis van Israel [God se volk] in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge... Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil.. Ek doen dit nie om julle ontwil nie...maar ter wille van my heilige Naam...[en Ek is barmhartig met hulle wie Ek barmhartig wil wees. Ek het soveel jammerte vir julle]...” (Eségiël 36:17ff).

Wanneer God praat van “ter harte” neem – is dit nie smart nie. Nee! Omdat God diegene wat Hy ter harte neem, herstel. Hy kry nie iemand jammer en doen niks daaromtrent nie. Hy mors nooit Sy medelye nie. Hy genees altyd diegene wat Hy jammer kry:

“Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word...En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee ...’n hart van vlees...En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede...en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie” (Eségiël 36:25-30).

Ek glo daar is sommige mense wat hulle nie bekeer en terugkom na God toe nie, omdat hulle dink hulle het te erg gesondig en God kan hulle nie vergewe nie. Honderde het vir my deur die jare gesê, “As jy maar net geweet het wat ek gedoen het!” Hulle voel hulle lewens is totaal vernietig. Hulle droom is weg, dood! Maar God sê vir hulle, “Ek sien alles wat jy gedoen het en Ek kry jou steeds jammer. Ek kan jou met rein water besprinkel, Ek kan jou ‘n nuwe begin gee; Ek kan jou ‘n nuwe gees en ‘n nuwe hart gee. Ek kan jou ‘n nuwe mens maak – jou oor laat begin asof dit nooit gebeur het nie.”

Ons dien so ‘n God! Dink daaraan! Die deernis van God vir mense wat ly – insluitend vir hulle wat verkeerd gedoen het! Jy hoef nie deur die lewe te gaan en te betaal vir jou foute nie. As jy dit doen, glo jy nie dat Hy vir jou sondes betaal het nie. Waarom het Christus na die Kruis gegaan? Om vir ons foute te betaal – as ons ons bekeer en dit laat staan en gewillig is om terug te kom na Sy genadige liefde.

Daar is ‘n uitweg uit die hongersnood

Dikwels, hoe meer gekompliseerd ‘n waarheid klink, hoe minder waarheid is dit! Die ding wat die Evangelie so diepgaande maak, is sy eenvoud. Dikwels gaan ons oral rond, soek na uitkoms. Ons hardloop na mense; ons tel die telefoon op; ons lees boeke en luister na bandopnames. Ons word desperaat in ons ontsteltenis en vrees en soek orals. Dan, wanneer ons wel die antwoord hoor, is dit so eenvoudig – dat ons dit nie verstaan nie!

Dit sou ‘n goeie idee wees om al die Christelike sielkundige boeke en bandopnames en plate vir ‘n rukkie te bêre en net te fokus op een eenvoudige woord. Die uitweg uit die tronk waarin jy is, kom net op een woord neer.

Daar is ‘n eenvoudige, Bybelse uitweg – Hoop!

Jarelank, soek ek na ‘n eenvoudige oplossing vir die ernstige probleem van eensaamheid en depressie. Soms, ná ‘n stadswye veldtog, gaan ek huistoe en slaan my vuis in die kussing en ween oor die vele behoeftes van hartseer mense. Ek kon nie eens al die probleme wat ek gehoor het, prosesseer nie; my kop het gedraai. Ek sou bid, “O, God, daar is soveel probleme, soveel hartseer mense! Here, is daar werklik ‘n antwoord vir almal? Of is dit soos Sarfat – so baie verhongerde, lydende mense en verligting word slegs aan twee gebied (sien 1 Konings 17)?

Maar dit is die Ou Testament. Onder die Nuwe Testament, werk dit nie so nie. In die Nuwe Testament, is dit vir “Elkeen wat kom.” Dit is vir almal wat glo. God laat niemand uit nie. Dit is nie dat Hy iemand uitlaat in die Ou Testament nie – maar Israel het so donker geword, dat slegs twee mense die lig kon sien! Nou is aan ons die heerlike lig gegee; dit is oral uitgestraal. God is geen aannemer van persoon nie; Hy het geen gunstelinge nie. Hierdie heerlike hoop is vir elke mens wat eensaam is; vir enigeen wat liefde soek of ‘n behoefte het. Daardie behoefte kan aangespreek word! God sal niemand uitsluit nie!

Ek het die Here gevra om vir my te wys wat hierdie boodskap beteken.

Daar is vyf dinge wat ek wil deel:

1.Hoop – dit is die wete dat dit wat jy hoop moontlik is.

Dit is ‘n groeiende innerlike geloof dat dit wat jy nodig het moontlik is. Ek het die kern as volg opgesom: wat is moontlik by God? En dit laat ons met geen verskoning nie – omdat ons weet “alle dinge moontlik is by God.” Jy gaan nie enige geloof hê as jy nie glo dit is moontlik vir God om jou lewe om te keer en jou oor te laat begin; jou trane in blydskap te verander – en ‘n hele nuwe wêreld vir jou oop te maak nie. As jy nie glo dit is moontlik nie, kan jy net sowel uit die stryd tree en moed opgee. Jy kan nie aangaan nie. Dit is wat hoop is: om te kan sê, “Ek glo in my hart dat wat ek nodig het, in Christus moontlik is.”

2.Hoop – is die versekering dat alle dinge ten goede vir my sal meewerk op God se tyd.

Wat sê die Skrif?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Miskien dink jy dat jy een van daardie uitverkore mense is wat verdoem is tot wanhoop; en dat God het jou uitverkies het om wanhoop en eensaamheid te ly nie. Jy dink die hemele is vir jou toegesluit, Sy beloftes is nietig. Dit is nie wat God se Woord sê nie – ek daag jou uit om dit vir my in die Skrif te wys! God het belowe om reg aan jou te doen, op Sy tyd, op Sy manier. Dit sal perfek wees wanneer dit kom.

3.Hoop – is ‘n absolute oortuiging en aandrang dat die oplossing reeds op pad is.

“Tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het...”

Is jy nie bly oor daardie woorde “tot op die tyd” nie? Dit beteken jou verlossing kom! Dit waardeur jy tans gaan is nou die “tot op die tyd”. Moenie dink die vurige beproewing waardeur jy gaan vreemd is nie (1 Petrus 4:12). Daar is niks wat jy my kan vertel wat ek nie al ‘n dosyn keer gehoor het nie! Jy mag dalk moontlik op ‘n spesiale manier ly; maar Christus het gesê dat alle versoekings menslik is. Joune is nie uniek nie. Daar is baie in dieselfde bootjie as jy.

Hierdie woord hoop beteken jy glo God het reeds begin werk. Hy doen dinge wat jy nie kan sien nie, maar jy sê met vertroue. “God, U werk dinge uit. U sal dit doen – en dit reg doen!”

4.Hoop – dit is ‘n vertroue in die aangesig van geen sigbare bewyse nie.

Dit is die vertroue wat sê, “Ek sien dit nog nie, maar ek gaan God nou begin dank en prys. Ek weet dat Hy in my uur van beproewing reeds vir my voorsiening gemaak het.” Dit is ook ‘n algemene vertroue dat ten spyte van al die teëstand, God om jou onthalwe sal werk. Dit is nie ‘n wankelrige hoop nie – maar een wat gebou is op ‘n vaste fondament. Kyk na wat God belowe Hy sal doen:

  • God gaan jou sterk hou so lank as wat hierdie beproewing aanhou.

Jy gaan nie val nie. Jy sal nie ‘n senuwee-ineenstorting hê of jou verstand verloor nie. Luister na wat die psalmis sê:

  • ‘Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood...” (Psalm 33:18,19).

God sê vir jou Hy sal jou lewendig hou so lank as wat die hongersnood aanhou. Sê dit nou ook vir die duiwel!

  • Jy gaan oorvloedige goddelike versadiging beleef totdat jy die menslike versadiging kry wat jy nodig het.

God gaan jou goddelike versadiging handhaaf:

“Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly....en in dae van hongersnood sal hulle versadig word. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand” (Psalm 37:18,19,24).

Die Here sal jou ondersteun met Sy hand – deur alles heen! Jy sal ‘n goddelike, versadiging gegee word wat veel heerliker sal wees as alle menslike behoeftes.

  • Nie vir een minuut sal jy afgesny word van Sy wil, onder Sy oë uit, of uit Sy liefde uit nie.

“Want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar...Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie...” (Psalm 37:28,31).

Het jy geweet Hy sal selfs jou bed opmaak in jou beproewing!

“Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is...” (Psalm 41:3).

Hy sê vir jou, “Gaan rus; laat dit aan my oor.”

  • Jou dag van verlossing kom as jy net hou hoop in Sy Woord sal vestig.

Moenie hoop op mense nie; moenie op jouself hoop nie. Vertrou net in die Woord van God:

“Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig!” (Psalm 42:6).

“Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit...” (Psalm 37:34).

Dit beteken Hy sal jou in die belofte laat inkom! Hy sal veroorsaak dat jy erf!

5.Hier is die vlagskip van hoop – die geseënde hoop van verlossing uit al die wanhoop in jou hart:

Memoriseer hierdie verwysing, Romeine 8:35-39:

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger...?”

Sal daardie hongersnood waardeur jy gaan jou van Christus se liefde geskei hou? Nee!

“..Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het...” (Romeine 8:37).

Paulus het gesê, “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie...” (Romeine 8:38,39).

Nou as Hy jou so liefhet, wat het jou ooit laat dink Hy sou jou teleurstel of faal? As jy nie van die liefde van Christus geskei is nie, hoe kan jy geskei word van jou verlossing? Jy kan nie! Jy kan nie die Here dien – jy kan nie eerlik na God se huis kom, sonder om hierdie hoop in jou te hê nie: “God sal my deurdra; Hy sal my verlos deur Sy krag. Hy sal reg aan my doen!”