Jabbok

A Place of Total Surrender
David Wilkerson

Jabbok! Dit mag dalk nie vir jou iets beteken het voor nou nie – maar nadat jy hierdie boodskap gehoor het, behoort dit een van die belangrikste boodskappe in jou geestelike woordeskat te wees.

Jabbok is die plek waar Jakob gestoei het met die Here. Dit is waar hy sy algehele oorgawe aan God gemaak het. Dit is waar hy sy nuwe karakter, en nuwe naam – Israel – gekry het. Dit was die plek waar hy sy laaste afgod neergelê het en sy grootste oorwinning behaal het.

“En hy het dieselfde nag opgestaan...en deur die drif van die Jabbok getrek...” (Génesis 32:22).

Jabbok beteken “’n kruising, ’n plek van oorsteek”. Dit staan ook vir stryd; om leeg te maak en uit te giet. Wat ‘n heerlike waarheid word geopenbaar in hierdie plek genaamd Jabbok. Dit het alles te doen met ons vandag. Dit is die plek waar God se kinders die geheim van krag oor elke boesemsonde ontdek. Dit verteenwoordig ‘n lewe en dood krisis – een wat tot absolute oorgawe lei.

Daar kan geen glorieryke oorwinning wees oor self en sonde totdat jy na die Jabbok gaan nie. Daar kom ‘n tyd wat ons “alles met God moet uitmaak”. Ons moet na onsself kyk en ontledig word van alle goddelose begeertes en selfsugtige ambisies.

In die verlede, is gelowiges geleer dat daar twee kruisings in die lewe van ‘n Christen is – die Rooi See en die Jordaan. Die Rooi See kruising verteenwoordig uit die wêreld kom. Dit praat van ‘n nuwe begin. Dit simboliseer “gered word.” Baie van God se kinders kom uit Egipte uit, maar hulle kom nooit by die Beloofde Land uit nie. Hulle raak vasgevang in die woestyn van ongeloof, vrees en verwarring. Hulle verlaat die wêreld maar betree nooit die blydskap van die Here nie.

Nog ‘n kruising is nodig – die Jordaan! Die Jordaan verteenwoordig ‘n verbintenis om verder te gaan met die Here. Waterdoop! Bybellees! Getuig! ‘n Begeerte om in Christus te groei! Dit is ‘n kruising na ‘n lewe van lof. Vir talle, verteenwoordig die Beloofde Land die volheid van die Heilige Gees. ‘n Doop in, en met die Heilige Gees.

Is dit nie al wat daar is nie? ‘n Beloofde Land? ‘n Geestelike Kanaän vir die kinders van God? Gered, gedoop en gevul met die Heilige Gees? Die kinders van Israel het hulle Beloofde Land binnegegaan. Hulle het hulle erfdeel gekry. Maar hulle het nooit die rus wat God vir hulle wou hê, binnegegaan nie! Hierdie God-vresende kinders van God, Gees-vervuld, het steeds sonde in hulle harte gehad! Hulle het harte gehad wat aan ‘n geheime begeerte en afgodery vasgehou het.

Hoe tragies is dit dat dieselfde waar is vandag. Menigtes Gees-vervulde, Gees-geleide gelowiges het nog nooit die ware rus van God geken nie! Hulle vrede word versteur deur ‘n skuldige gewete. God het gesê dat Israel “deur ongeloof nie kon ingaan nie...Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God...” (Hebreërs 3:19-4:9).

Dit is moontlik om gered, Gees-vervuld, volkome toegewyd te wees aan die werk van die Here, en steeds verslaaf te wees aan ‘n boesemsonde! Dit is moontlik om duiwels uit te dryf in Christus se Naam – en steeds ‘n sondeverslaafde werker van ongeregtigheid te wees.

Slegs God weet hoeveel Christene die las van ‘n geheime boesemsonde of oorweldigende begeerte dra. Menigtes het nog nooit volkome oorwinning oor en verlossing van boesemsondes beleef nie. Talle toegewyde Christen jongmense stry ‘n verlore stryd teen ‘n gewoontevormende sonde. Hulle stry teen ‘n drang na dwelms, alkohol en seks. Hulle het die Here hartlik lief – maar daar is “een ding in hulle lewens.” Hulle haat dit maar hou daarmee aan. Hulle wil nie Christus prysgee of teruggaan wêreld toe nie. Maar daar is steeds een afgod wat hulle skynbaar nie kan los nie.

En, o, die mans en vroue van God – insluitend bedienaars van die Evangelie – wat stry met ‘n boesemsonde! Hulle het ‘n honger na God. Hulle dink nooit daaraan om terug te keer na die armoedige beginsels van die wêreld nie. Hulle verlang na die volheid van Christus. Hulle roep uit om heiligheid! Hulle is werklik toegewyde kinders van die Allerhoogste God.

Maar daar is steeds hierdie een ding. Die voortslepende probleem. Hierdie klein afgod! Dit veroorsaak vir hulle droefheid en trane. Hulle is verskeurd met skuld en veroordeling. Hulle voel hulpeloos, onwaardig, en verward. Hulle vas, hulle bid, hulle maak beloftes – maar skielik word hulle oorweldig en soos ‘n lam ter slagting gelei.

Jarelank het ek gesukkel met die teologie van volkome oorwinning oor sonde! Ek bedoel nie “sondelose volmaaktheid nie.” Ek bedoel vryheid van slawerny aan enige boesemsonde! Min mense het al meer as ek die leerstelling van heiligmaking bestudeer. Ek het jarelank heiligheid bestudeer en daaroor gelees.

Ek werk met sommige van die slegste sondeslawe op die aarde. Daarom het ek antwoorde nodig. Ek het ‘n duidelike en eenvoudige boodskap nodig gehad oor hoe om oorwinning te kry en te handhaaf oor die sondes van dwelms, alkohol, geweld, rook, dobbel, ongeoorloofde seks en verskeie ander soorte verslawings. Totdat die Gees vir my die Jabbok gewys het, was my begrip onvolledig.

Wat van al daardie Christene, insluitend bedienaars wat geheime buite-egtelike verhoudings het? Wat van mans en vroue wat moed verloor met hulle huwelike en hoop om iemand anders te vind wat hulle meer sal behaag? Dikwels lieg hulle oor hoe verskriklik dinge by die huis is – net om hulle geheime liefdesverhouding met iemand anders te verskoon. Hulle word dikwels hopeloos betrokke by iemand anders.

Seksuele begeertes – owerspel, hoerery – versprei vandag deur die kerk soos die swart pes. Is daar geen oorwinning oor al hierdie weghol begeertes nie? Moet ‘n ware kind van God altyd soos ‘n slaaf van ‘n boesemsonde deur die lewe gaan? Is daar geen plek vir algehele oorwinning nie? Ek bedoel nie vryheid van versoeking nie, maar vryheid van toegee aan begeertes.

Daar is ‘n derde kruising – Jabbok!

Die Jabbok was ‘n sytak van die Jordaan. Dit was ‘n eensame plek. Ons Jabbok moet alleen beleef word. Jy kan die Rooi See oorsteek saam met ‘n magtige leër van die verlostes wat Egipte verlaat. Jy kan die Jordaan oorsteek saam met die seëvierende leër van die Here oral rondom jou. Maar jy sal die Jabbok alleen oorsteek! Geen beraders, geen vriende, geen helpers nie. Dit is jou private stryd – tussen jou en die Here alleen.

“Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek” (Génesis 32:24).

Jabbok is waar die Jakob in ons sy finale doodslag gegee word. Dit is waar God met ons afreken nie net oor sonde nie, maar oor ons karakter.

Jakob was ‘n bekommerde, desperate man. God het hom met sy rug teen die muur gehad by wyse van spreke. Na baie jare, het hy teruggekeer om sy erfenis op te eis. Esau, die broer wat hy uit sy geboortereg verkul het, was in sy rigting op pad met 400 manskappe.

Jakob het op baie maniere volwasse geword. Hy was nou ‘n liefdevolle vader. Hy was gehoorsaam aan die Here en het die Here se opdrag om terug te keer huistoe uitgevoer. Hy het die waarheid liefgehad. Hy was ‘n nederige, biddende man. Luister na sy gebed:

“O God...ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het...” (Génesis 32:10).

Maar hierdie nederige, gehoorsame, biddende, God-vresende, waarheid-liefhebbende dienaar van God het steeds ‘n paaibeleid gehandhaaf! Dit beteken, “toegee aan ‘n gevaarlike mag om moeilikheid te vermy.” Vrede ten alle koste sluit kompromie in!

In plaas daarvan om God te vertrou in sy krisis, het hy verskillende benaderings probeer. Hy het probeer om sy pad deur sy probleem te dink. Hy het sy beeste in verskeie groepe verdeel en hulle vooruit gestuur om sy broer se hart sag te maak. Hy wou Esau bombardeer met golf na golf geskenke van bokke, kamele, bulle, skape, donkies en ramme.

“Want hy het gedink: Laat ek hom versoen...” (Génesis 32:20).

Versoening! Dit is wat menigtes Christene doen! Hulle gee toe aan ‘n gevaarlike mag, omdat hulle bang is hulle is hulpeloos! Jy hoor dit oral deesdae, “Ek kan dit nie help nie! Ek wil dit nie doen nie. Ek haat my sonde. Maar ten spyte van hoe hard ek ook al probeer, ek gee toe en misluk!

Daarom versoen ons oor en oor! Ons sondig en bely, ween en bely, probeer ons pad daaruit dink. O, die benaderings, skema’s, regverdigings, verskonings, planne – alles verniet. Ons lyk magteloos teen oorweldigende behoeftes en begeertes.

Gehoorsaam! Biddend! Soekend na die waarheid! Nederig! Liefdevol! Goedhartig! Maar daar is steeds daardie vlieg in die salf! Daar is steeds ‘n geheime uithouplek diep in die hart. Daar is steeds ‘n paaibeleid – een afgod wat steeds staande bly – en nog nie heeltemal oorgegee is nie. Nog nie onder die volkome Heerskappy van Christus is nie.

Laat my vir jou wys wat by die Jabbok moet gebeur!

1.By die Jabbok – maak godsdiens plek vir geestelikheid!

Iemand kan baie godsdienstig wees maar glad nie geestelik nie. Jakob het ‘n baie godsdienstige belewenis gehad by Bet-El. Op pad na Paddan-Aram om ‘n vrou te kry onder sy eie mense, het hy ‘n wonderlike godsdienstige ervaring gehad.

“En hy het gedroom — daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het...” (Génesis 28:12).

God het verskyn en ‘n verbond met hom gesluit! Dit was ‘n belofte van materiële seëninge –

“Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee...en jou nageslag...sal geseën word...” (Génesis 28:13,14).

Jakob het uitgeroep – “Waarlik die HERE is op hierdie plek...Hoe vreeslik” (Génesis 28:16,17).

Jakob het die plek Bet-el genoem en voortgegaan om met God te onderhandel. Die seëning gedeelte het vir hom baie goed geklink!

“As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees...en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan...” (Génesis 28:20-22).

Klink hierdie transaksie bekend? Seën my, Here! Maak my voorspoedig in al my weë! Gee vir my oorvloed om te eet! Klee my goed! Sorg goed vir my, dan sal ek U dien! Dan sal ek my tiende betaal! Gee dit vir my sodat ek dit aan U kan teruggee!

Dink daaraan! God is in hierdie plek – die hemele is oop! Engele verskyn! God spreek! Wat ‘n bonatuurlike, godsdienstige belewenis! En al wat Jakob daarin kon sien, was ‘n transaksie vir grond, kos, klere, voorspoed en sukses in al sy weë! Dit was ‘n streng godsdienstige belewenis.

Bet-el is die gewilde godsdiens van ons dag. Net soos Jakob, interpreteer ons gierige ingesteldheid God se beloftes op materialistiese maniere. Ons gaan so ver as om die kosbare versoening van die Here Jesus Christus te ontheilig! In hoogdrawende godsdienstige woorde praat ons van die krag van Christus se gestorte bloed. Maar wat ons sê is ‘n tragiese wanindruk van wat Sy offer werklik tot stand gebring het.

Al wat sommige mense kan sien, is wat hulle daaruit kan kry. Vir hulle, beteken die versoening bloot gesondheid, rykdom, voorspoed en verlossing van die vloek van armoede. Hulle is blind vir die ware betekenis van Christus se oorwinning aan die Kruis. Sy krag oor sonde! Die vryheid om op te offer, te ly en gewillig te dien om Sy koninkryk op aarde te bevorder! Om swaarkry te verduur en die verlies van alles te ly, indien nodig, om ‘n onverderflike kroon te kry.

Wat van die menigtes wat by Bet-el aanbid? Wat van al die predikers en leraars wat vassit by Bet-el – en die Bet-el beloftes opeis?

Ek sê hulle is godsdienstige mense. Sommige is moontlik baie godsdienstig. Soos Jakob, kan ons dalk daardie groot openbarings beleef, engele sien en miskien van God hoor. Maar by Bet-el – is die vlees steeds in beheer – Dit is ‘n plek van godsdiens – maar nie ware geestelikheid nie. Dit is ‘n gedeeltelike openbaring. Dit jaag al die seëninge na terwyl die diep innerlike stryd geïgnoreer word! Dit is om in die teenwoordigheid van die Here te wees sonder om met die Jakob-natuur af te reken! Dit kom slegs by die Jabbok.

2.Jabbok is ‘n plek van absolute oorgawe!

Dit is ‘n plek van volkome oorwinning oor alle boesemsondes! Jy is nie gereed vir die Jabbok totdat jy desperaat is nie! Jy moet raadop wees. Jou las van sonde moet jou bring by ‘n lewe of dood krisis.

Wat ‘n krisis het Jakob beleef. Aan die een kant, het Esau op hom afgekom. Aan die ander kant, het die Here self gestaan, saam met ‘n leër hemelse getuies. Hy kon nie verder nie. Dit was die absolute einde! Buiten ‘n wonderwerk, was hy ‘n dooie man. Sy sondes het hom ingehaal. Vir meer as twintig jaar kon hy sy weg oop bluf. Hy het oorleef deur sy skelm toesmeerdery. Hy kon nie verder gaan nie – selfs nie nog een dag – soos in die verlede nie.

Jakob was gedwing om homself voor die ontsagwekkende teenwoordigheid van die Here te openbaar – en homself te sien vir wie hy was! Die hele nag lank het die stryd gewoed. Hierdie keer was Jakob ernstig! Hy wou vry wees. Hy wou die Here en die wêreld in die oë kyk en weet hy was eerlik en heilig. Hy wou sy skande verwyder hê. Hy wou verlossing hê.

“En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob” (Génesis 32:27).

Jakob het geweet waarvoor sy naam staan: “hakskeengryper.” Iemand wat sy broer en homself verneuk, en probeer om dit vir God se vlammende oë weg te steek. Wat die Here vir Jakob gesê het, was die volgende:

“Kyk na jouself – na wat jy geword het! Daar is nou geen verskonings meer nie! Vir een keer in jou lewe, kyk die werklikheid in die oë! Kyk die waarheid in die oë – wees dodelik ernstig – of daar sal geen oorwinning wees nie!”

Uit dit alles kom – al die opgekropte vrese en belydenisse: “O, Here! Ek is skynheilig! Ek is uiterlik só godsdienstig, maar innerlik is ek ‘n bedrieër! Ek is ‘n gryper! Ek het met vuur gespeel vir te lank! Ek het my dade verskoon, my sondes regverdig. Vergewe my, O Here...”

Daar kan geen oorwinning oor enige boesemsonde wees sonder om ‘n finale afsnypunt by Jabbok te beleef nie! Die vrees van God se geregtigheid en oordeel oor jou sonde moet jou met finaliteit aangryp. Jy moet die werklikheid in die oë kyk dat jy nie ‘n spesiale mens is wat immuun teen ontbloting en oordeel is nie. Jy moet die feit in die oë kyk dat God, in Sy liefde, vir jou ‘n spertyd moet gee – ‘n laaste kans om volkome te gehoorsaam!

Nie dat Sy genade onttrek word, of Sy liefde en barmhartigheid beperk is nie. Maar daar kom ‘n tyd wanneer God nie langer die loon van jou sonde kan terughou nie! Daar is ‘n wet wat sê, “Ontwikkelde sonde bring die dood!” Jou sonde moet jou uitvind.

Jy moet die werklikheid in die oë kyk dat jy nie kan voortgaan om ‘n leuen te lewe nie. Dit maak nie saak hoe geseënd jy is nie, dit maak nie saak hoe gesalf jy is nie, dit maak nie saak watter groot dinge in Sy Naam gedoen word nie – God sal nie ‘n oop, onbeperkte lisensie om verder te sondig duld nie! Jy moet gehoorsaam of ontbloot word – en begin om te maai wat jy gesaai het.

Kyk die waarheid in die oë! Bely dit in al sy aaklige besonderhede! “O, Here, ek is ‘n owerspeler, ‘n hoereerder. Ek is niks beter as die hoere en homoseksuele wat op die strate besigheid doen nie! Ek is die ergste soort leuenaar in U kerk! Ek het my familie verneuk. Ek is nie wat mense dink ek is nie. Ek weet ek sal ontbloot word. Ek weet ek sal die prys moet betaal vir wat ek doen – so neem dit weg, Here! Neem dit nou weg! Nie nog een dag van hierdie verskriklike las dra nie! Maak my vry! Ek is moeg vir ‘n rolspelery!”

By Jabbok, het Christus ons verlos van ons boesemsonde deur ons karakter te verander.

“Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin...” (Deuteronómium 32:28).

Oorwinnende krag deur ‘n nuwe karakter! Oorwin beteken, “om die oorhand te kry, die triomf, superioriteit.” Jakob het nou geweet dit was binne sy vermoë om te gehoorsaam, omdat die Here sy verbintenis om homself te onderwerp, aanvaar het.

Ons Here is nie het daarin geïnteresseerd dat ons bloot oorwinning oor sekere sonde kry nie. Hy wil ons verander in nuwe mense met rein harte en skoon hande. Ons het ‘n karakterverandering nodig.

Dit het slegs een desperate nag van die waarheid in die oë kyk, geverg! Jakob het ‘n diepgaande verandering in sy liggaam en siel gehad. Hy het met die Here gestry en oorwin. Die Here het sy desperaatheid gesien en sy jammerlike pleidooi gehoor – en hom aangeraak! Die Here het hom doelbewus verswak! Hy het sy heup uit potjie uit geslaan!

Een van die grootste wonderwerke wat die Here om ons onthalwe kan doen, is om al ons menslike pogings te verlam en ons heeltemal afhanklik van Hom te maak. Jy sal van Jabbok af wegstrompel, verneder en kreupel – en uitroep, “O, Here, ek het my volkome oorgegee. Ek het al my sonde neergelê. My afgod is verpletter. Maar ek kan nie in oorwinning bly sonder bonatuurlike hulp nie. U het my na hierdie plek van absolute gehoorsaamheid gebring, handhaaf nou my verbintenis bonatuurlik. Maak my gewillig en bekwaam om U volmaakte wil te doen.”

3.Jabbok is die plek van ‘n oop hemel

God openbaar Homself slegs aan diegene wat “ontslae raak van hulle bedrog.” Bedrog is misleiding, oneerlikheid, boesemsonde!

Luister na die heerlike belofte wat Jesus gegee het vir Natánael, een van die twaalf:

“Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie...Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens...” (Johannes 1:47-51).

Aan Hom alleen was hierdie heerlike belofte gegee – Natánael, daar is geen bedrog of oneerlikheid in jou nie. Jy is ‘n oop boek. Geen verborge werke van sonde nie! Niks om jou in jou lewe te verhinder nie. Jy sal ‘n oop hemel gegee word! Jy sal dinge sien wat min ander sien. ‘n Volle openbaring is joune want jy het geen bedrog in jou nie!

Ons Here smag desperaat daarna om Sy hart vir ons oop te maak, en ons te lei in al die waarheid. Maar bedrog verhinder dit. Dit is waarom Jabbok so noodsaaklik is! ‘n Plek om die laaste oorblyfselfs van bedrog, misleiding en oneerlikheid neer te lê! Sodat die hemel vir ons oop sal bly! Dit is waar dat ons sonde Sy aangesig vir ons verberg.

Jakob het Jabbok “Peniël hernoem. Peniël beteken “die aangesig van God.”

“Want...ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered...” (Génesis 32:30).

Jakob is nou ‘n geestelike mens. Geen gepraat meer van materiële seëninge – grond, kos, klere en sukses nie. Hy het God gesien en hy is aangeraak. Dit gaan nie nou oor beeste nie; dit gaan oor Christus.

Die hemele het weereens oopgegaan. Die leër het weer verskyn, met engele wat op-en-af klim. Maar nou het hy die diepste betekenis van daardie oop hemel verstaan. Dit beteken toegang tot die Vader! Dit beteken om Hom te leer ken. Dit beteken om in die hemelse plekke te sit. Onuitspreeklike blydskap. Die gloed van Sy teenwoordigheid. Die geluid van Sy stem. Net geestelike waardes nou!

Jakob het twintig jaar vermors. Hy kon jarelank ‘n oop hemel geniet het. Hy kon eenheid met sy broer en met Laban geniet het. Maar die hemel het vir hom toegemaak – weens sy bedrog. Ek weet ek het ook kosbare jare vermors met die hemele soms soos koper. My innerlike afgode – my onoorgegewe bedrog – het die hemele gesluit. Dit het die openbaring van Christus se volheid uitgesluit. Ek het maar net ‘n gedeeltelike visie gehad.

Maar by Jabbok, het die Here my geroep verhoor en my verlos! Ek het ‘n verbintenis gemaak om Hom met volkome oorgawe te volg. En toe was die hemele weer vir my oop! Ek word steeds versoek – en soms val ek. Maar ek weet dat gehoorsaamheid weer die hemel vir my sal oopmaak.

“...As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet...” (Johannes 7:17).

Is die hemele vir jou oop? Openbaar die Here Homself aan jou in waarheid en heiligheid? Indien nie, is jy dalk besig om dit alles toe te sluit deur aan ‘n afgod vas te hou! Boesemsonde mag dalk die oorsaak wees van ‘n geestelik droogheid en blindheid. En daar kan geen liefde en eenheid in die kerk wees totdat God se volk rein, gehoorsame lewens leef nie.

Ja, ons word liefgehê! Maar ons gaan ook geoordeel word! Oordeel begin in die huis van die Here! Die hele kerk van Jesus Christus word na die Jabbok gelei! Nie een van ons sal hierdie krisis ontsnap nie.

“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

“Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God...” (Hebreërs 10:26-31).

Voor jy na Christus se Oordeelstroon gaan – gaan na die Jabbok! Oordeel jouself by die Jabbok en jy sal nie geoordeel word nie! Hoor wat die Woord van die Here sê oor gehoorsaamheid:

“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18).

“En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self ’n ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie...” (Josua 7:12).

“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring...” (2 Korinthiërs 7:1).

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!...” (Jakobus 4:8).

“So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word... Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red...” (Jakobus 1:19,21).