‘n Christuslose Pinkster

David Wilkerson

Die volgende is ‘n profetiese waarskuwing van Azusastraat 75 jaar gelede, rakende die gevare van ‘n Christuslose Pinkster!

Frank Bartleman was ‘n ooggetuie van die uitstorting van die Heilige Gees in 1907 by Azusastraat, Los Angeles. Hy is bekend as die Verslaggewer van die Azusastraat Herlewing. Amper 75 jaar gelede, gedurende die uitstorting, het hy ‘n traktaatjie geskryf en gewaarsku oor ‘n Christuslose Pinkster.

Hy het gewaarsku: “Ons mag nie ‘n leerstelling onderhou, of ‘n ervaring soek, behalwe in Christus nie. Talle is gewillig om die krag te soek om wonderwerke te verrig, aandag en bewondering van die mense na hulleself te trek, en gevolglik word Christus van sy heerlikheid beroof en word ‘n mooi vertoning in die vlees gemaak. Dit blyk dat die grootste behoefte bestaan vir ware volgelinge van die sagmoedige en nederige Jesus.

Godsdienstige entoesiasme skiet maklik saad. Die menslike gees oorheers so maklik met die vertonerige, godsdienstige gees. Maar ons moet bly by ons teks – Christus!

“Enige werk wat die Heilige Gees of ‘gawes’ bokant Jesus verhef, sal uiteindelik lei tot fanatisme. Wat ook al veroorsaak dat ons Jesus liefhet en verhoog, is goed en veilig. Die teenoorgestelde sal alles verwoes. Die Heilige Gees is ‘n groot lig, maar is altyd op Jesus gefokus vir Sy openbaring.

“Waar die Heilige Gees werklik in beheer is, word Jesus die Hoof verklaar – die Heilige Gees, sy uitvoerende bestuurder.”

Op ‘n ander plek, het Broer Bartleman gewaarsku: “Dit wil voorkom asof die versoeking leë manifestasies is. Dit vereis nie enige spesifieke kruis of dood van die self-lewe nie. Daarom is dit altyd gewild.

“Ons mag nie die kragte, die gawes, die Heilige Gees, of in werklikheid enigiets vóór Jesus stel nie. Enige sending wat selfs die Heilige Gees bo die Here Jesus Christus verhef, is op pad na die rotse van dwaling en fanatisme.

“Dit lyk of daar ‘n groot gevaar bestaan om uit die oog te verloor dat Jesus ‘alles in alles’ was. Die werk op Gólgota, die versoening, moet die middelpunt van ons beskouing wees. Die Heilige Gees sal nooit ons aandag van Christus aftrek na Homself nie, maar Christus liewer op ‘n voller manier openbaar. Ons is in gevaar van Jesus versaak – Hom te ‘verloor in die tempel’ deur die verheffing van die Heilige Gees en die gawes van die Gees. Jesus moet die middelpunt van alles wees.”

Ek neem Broer Bartleman se waarskuwing nie ligtelik op nie. Die gevaar van ‘n Christuslose Pinkster is ‘n groot werklikheid vandag. Ek sê vir jou dit is moontlik om Gees-vervulde mense op een plek te byeen te bring, terwyl hulle God loof en prys met hulle hande omhoog – en steeds kry dat Christus soos ‘n vreemdeling onder hulle wandel!

Dit is waar wat Hy gesê het, “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Matthéüs 18:20). Maar Hy kan in ons midde wees as ‘n vreemdeling! Geïgnoreer, onerkend – selfs deur diegene wat in Sy Naam vergader! Die Jode het elke Sabbat in die sinagoge bymekaargekom om te praat oor Sy Naam, en om oor Sy koms te profeteer. Hulle het die Naam van die Vader, wat belowe het om Hom te stuur, geprys. Hulle het die Messias se Naam met ontsag en eerbied uitgespreek. Toe Hy egter gekom en onder hulle gewandel het – was Hy nie herken nie! Hy was vir hulle ‘n vreemdeling!

Christus, ‘n vreemdeling te midde van ‘n Gees-vervulde gemeente? ‘n Vreemdeling te midde van diegene wat Sy Naam uitgespreek het – wat die Vader, wat Hom gestuur het, aanbid het? ‘n Vreemdeling vir diegene wat Sy hosanna’s besing en Hom “Here” genoem het”?

Ja, Absoluut ja! Dit is nie net moontlik nie – dit gebeur steeds onder God se uitverkore kinders vandag!

Laat my vir jou drie maniere wys hoe ons Christus ‘n vreemdeling in ons midde maak! Mag die Heilige Gees ons geestelike blindheid wegneem sodat ons Hom weer kan sien vir Wie Hy werklik is – HERE OOR ALLES!

I.Ons maak Christus ‘n vreemdeling – deur die Heilige Gees voorrang bo Hom te gee!

 Christus, en Christus alleen, moet die middelpunt van die lewe en aanbidding wees!

“En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon...” (Kolossense 1:18-19).

“Sodat Hy in alles die eerste kan wees...” Dit is – voortreflik en van gepraat bo alle ander. Die eerste plek in alle dinge te hê. Nie eens die Heilige Gees moet verhoog word bo daardie Naam nie! Die bovertrek moet nooit die Kruis oorskadu nie! Ons mag dit nie waag om aan Christus te dink as bloot iemand wat die Heilige Gees gestuur het nie. Met ander woorde nie, “Dankie Jesus, dat U iemand beter gestuur het” nie. Christus het die Heilige Gees gestuur om Sy eie volheid binne-in ons te openbaar.

Wanneer die Heilige Gees die middelpunt van ons aandag word, verloor die kerk sy fokus! Die Heilige Gees het op Christus neergedaal toe Hy uit die doopwaters gekom  en die Vader van Hom gesê het: “Dit is my geliefde Seun – in wie Ek ‘n welbehae het . . . “ Die Gees het neergedaal soos ‘n duif, maar die fokus was op die Lam van God – wat die sondes wan die wêreld wegneem. Nie die duif nie, maar die Lam!

Christus het vir Sy dissipels vertel van ‘n komende Pinkster, toe die Gees uitgestort sou word vir een doel: Dit moes ‘n krag wees wat gegee is om die Naam van Christus te verhoog! “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde...” (Handelinge 1:8).

Jesus het dit duidelik gemaak toe die Gees gekom het. Hy sal nie aandag na Homself trek nie, maar sal fokus op Christus se woorde. Hy sal Christus verhoog.

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid . . . Hy sal nie uit Homself spreek nie . . . Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-15).

Jesus het gesê, “Hy sal vir julle My heerlikheid, My krag, My Koninkryk wys. Hy sal julle herinner aan al My woorde.” Die belangrikste werk van die Heilige Gees is nie gemeenskap nie, hoewel Hy gelowiges saambring as een in Christus. Dit is nie ekstase nie. Dit is nie bloot om ons ‘n ongeleerde taal te leer nie. Die Gees het gekom om Christus te verhoog! Om die hele mensdom in die waarheid dat Christus die Here is te lei! Dit is nie genoeg om te sê dat die Gees ons naby mekaar gebring het nie – Hy moet ons nader aan Christus bring!

Die volheid van die Gees is die volheid van Christus. As jy nie ‘n verterende liefde vir Christus het nie, het jy nie ‘n Heilige Gees doping nie! Christus, die doper, het die Heilige Gees gestuur om ons siele aan die brand te steek vir die verlore mensdom, om ons op die hoofweë en heinings te kry om die ongereddes te bereik. Om ons uit ons lui lewenstyle wakker te skud en ons sover te kry om Sy werk te doen. Die geseënde Heilige Gees sal bedroef wees, en uiteindellik onttrek die oomblik wanneer mense probeer om Hom bo die Seun van God te verhef! Hy sal nie toelaat dat Sy krag misbruik word deur diegene wat slegs die gawe wil hê en nie Christus, die Gewer nie!

Wat is ‘n ware Heilige Gees byeenkoms? Is dit waar alle mense in tale praat? Of waar mense genees word? Waar heiliges opspring van blydskap? Waar heiliges profeteer? Meer – baie meer as dit! Dit is waar Christus verhoog word, waar Sy heilige teenwoordigheid die siel deurdring, waar mans en vroue voor Sy heilige troon neerval, gebroke, nederig, huilend, “Heilig, heilig.” Die beweging van die Heilige Gees is ‘n beweging nader aan Christus, dieper in Christus, met ‘n groter onderwerping aan Sy Heerskappy!

II.Christus word ‘n vreemdeling gemaak wanneer mense Hom prys, maar nie tot Hom wil bid nie!

Ons prys ‘n Christus tot wie ons nie wil bid nie! Ons het lofprysende kinders geword, maar nie biddende kinders nie. Vir baie van God se kinders, is die gebedskamer ‘n oorblyfsel van die verlede. “Waarom God vra vir dit wat Hy reeds belowe het? Neem net daardie beloftes in besit en beveel bloot verlossings!” Ons wil nie langer Christus soveel hê as wat ons wil hê wat Hy vir ons kan doen nie. Ons wil ‘n ontvlugting van pyn en lyding hê. Ons wil hê ons probleme moet verdwyn. En ons is so vasgevang in ons ontvlugting van pyn, dat ons die ware betekenis van die Kruis misloop. Ons weier kruise en verliese – geen Gétsémane vir ons nie! Geen nagte van pyn nie! Ons ken nie eens hierdie lydende, bloeiende, opgestane Christus nie!

Ons wil Sy reddende krag hê. Ons wil Sy beloftes van voorspoed hê. Ons wil Sy beskerming hê. Ons wil meer van hierdie aardse goedere hê. Ons wil Sy geluk hê. Maar ons wil nie werklik Hom alleen hê nie!

Die Kerk het eens sy sondes bely – nou bely dit sy regte.

Hoeveel van ons sou Hom dien as Hy niks anders as Homself aangebied het nie? Geen genesing. Geen sukses. Geen voorspoed. Geen wêreldse seëninge, of wonders nie. Wat as – ons weereens die plundering van ons goed met blydskap moet aanvaar? Wat as – in plaas van ‘n maklike en probleemvrye lewe, ons skipbreuk ly, met vrese van binne en stryd van buite? Wat as ons – in plaas van ‘n pynlose lewe, ly deur wrede bespottings, steniging, bloedvergieting – middeldeur gesaag word? Wat as – in plaas van ons pragtige huise en motors, ons moet dwaal deur woestyne in skaapvelle, en in diere se lêplekke en grotte moet wegkruip? Wat as – in plaas van voorspoed, ons arm, verdruk en geteister word? En die enigste beter ding wat vir ons gegee word, Christus is?

Baie min van God se kinders bid steeds! Hulle is te besig om te werk vir Jesus as om met Hom te praat! Bedienaars veral, het so besig geword om koninkrykswerk te doen, dat hulle min of geen tyd oor het om te bid nie. Daar is tyd om te kuier, te bou, te reis, tyd vir vakansie, om vergaderings by te woon, tyd vir ontspanning, lees, berading – maar geen tyd om te bid nie!

Predikers wat nie bid nie, word promotors. Hulle word gefrustreerde boukontrakteurs. Wanneer hulle voeling met God verloor, verloor hulle voeling met hulle mense en hul behoeftes. Predikers wat nie bid nie, het ego’s wat buite beheer spin. Hulle wil hulle eie manier hê. Hulle verruil sweet vir salwing.

Evangeliste wat nie bid nie, word sterre, storievertellers. Hulle is nie nederig nie, so hulle manipuleer skares met emosionele tierlantytjies. Die roepstem van talle herders is, “O, God, waar kan ek ‘n evangelis vind wat nie begaan is oor geld nie, of wat nie iets bevorder nie? Een wat die hemel kan neerbring en Christus werklik maak! O, God – gee my ‘n biddende man om my gemeente op sy knieë te bring!” Die skande van hierdie geslag is dat ons te veel talentvolle mense van God het en slegs ‘n paar wat God in gebed aangeraak het.

Daar is selfs minder gebed in die gemeente! Ek is 100% daarvoor om gebed terug te bring in ons openbare skole! Maar dit is nie God se ware probleem nie! Sy probleem is om gebed terug te bring in ons huise! Sy probleem is om Sy eie uitverkore kinders sover te kry om te bid! En jy is ‘n skynheilige as jy veg vir skoolgebed en self binnekamergebed verwaarloos!

Bid ons? O, ja! Wanneer ons iets nodig het. Ons het die formule bemeester – “in die Naam van Jesus.” Al wat ons van Hom nodig het, is om ons versoeke voor die Vader te onderteken.

Ek is moeg daarvan om te hoor dat mense sê, “Dit is so ‘n besige tyd – ek het nie tyd om te bid nie. Ek wil graag, maar ek het nie tyd nie.” Nee! Dit is nie ‘n gebrek aan tyd nie; dit is gebrek aan begeerte. Ons maak tyd vir wat ons werklik wil doen. Kyk na ons Christen jongmense! Mors ure deur Pac-man en Galaxy War te speel, hulle ontwyk pligte, is verveeld, rusteloos, en soek net na ‘n bietjie aksie! Maar geen tyd om te bid nie! Geen tyd vir Jesus nie! O, God! Op een of ander manier! Op een of ander wyse! Kry hierdie geslag op sy knieë. Nie net die Here se gebed nie, maar ‘n daaglikse gemeenskap met Christus.

Ons Saligmaker, wat sorg dra en omsien na menigte heelalle, het die tyd om net vir jou te bid! Hy neem tyd om vir jou in te tree voor die troon van God (Hebreërs 7:25), en jy sê jy het nie tyd om tot Hom te bid nie!

Ons werk koorsagtig vir ‘n Christus wat ons ignoreer. Ons sal enige plek gaan, enigiets doen, in Sy Naam. Maar ons sal nie bid nie. Ons sal in ‘n koor sing. Ons sal die siekes en gevangenes besoek. Maar ons sal nie bid nie. Ons sal die wat hartseer en behoeftig is, beraad; ons sal die hele nag wakker bly om ‘n vriend te troos, maar ons sal nie bid nie. Ons sal korrupsie beveg! Ons sal betoog vir sedelikheid! Ons sal opstaan teen kernwapens! Maar ons sal nie bid nie!

Die ergste van alles, ons bid nie, omdat ons nie werklik glo dit werk nie. Gebed is ‘n bloedige slagveld! Dit is waar oorwinnings behaal word! ‘n Plek om te sterf vir self! ‘n Plek waar ‘n heilige God boesemsondes onbloot! Dit is geen wonder Satan probeer gebed verhinder nie! ‘n Biddende man stuur ‘n siddering deur die hel. Daardie man of vrou is gemerk omdat Satan weet gebed is die krag wat sy koninkryk verpletter. Satan is nie bang vir krag-honger heiliges nie, maar hy bewe vir die geluid van ‘n biddende heilige!

III.Christus word ‘n vreemdeling in ons midde wanneer ons Sy krag meer wil hê as Sy reinheid!

Reader Harris, ‘n Engelsman en Direkteur van Die Pinkster Liga van Gebed, het eenkeer ‘n gemeente uitgedaag oor hierdie saak van krag en reinheid. Hy het gesê, “Die wat krag wil hê, staan in ‘n ry aan my regterkant. Die wat reinheid wil hê, staan in ‘n ry aan my linkerkant.” Die gemeente het 10 teen 1 in die ry gaan staan – vir KRAG!

In die boek Handelinge, was Pinkster sinoniem met reinheid, eerder as krag. Petrus het vir die raad by Jerusalem gesê wat God by die huis van Cornelius gedoen het, “En God...aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons...aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof...” (Handelinge 15:8-9).

Wie is die man of vrou van God wat krag het? Is dit die een wat die siekes kan genees en die dooies kan opwek? Is dit die een wat die beste in tale kan praat en profeteer? Is dit die een wat die meeste mense kan trek en die grootste kerk kan bou? Nee! Die een met die krag – is die een met die reinheid! “Die regverdiges voel hulle veilig soos ’n jong leeu...” (Spreuke 28:1).

Die profeet Maleági het geprofeteer van ‘n bonatuurlike reiniging wat na God se huis kom.

“. . . dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek . . . Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ’n offer sal bring” (Maleági 3:1-3).

Dit is ‘n tweeledige profesie. Hy praat van Christus se eerste koms, en ook van Sy tweede! Hy sal skielik weer kom, soos ‘n dief in die nag. Maar eers, sal Hy Sy Kerk reinig.

Ons is nie gereed vir die koms van Christus nie! Is die Kerk triomferend? Gierig, aan die skei, depressief, wêreldsgesind, smagtend na materialisme en sukses, kompeterend, louwarm, owerspelig, ryk en aangewas met goedere, onbewus van geestelike blindheid en armoede, plesierliefhebbend, ingestel op ontspanning, oorheers deur sport, politiek en mag – is dit die Kerk vir wie Jesus kom? Wat dinge bloot hanteer, vol vrees en angs is, tevrede is om goeie gesondheid en geluk te hê?

My Bybel sê Hy kom terug vir ‘n seëvierende Kerk! ‘n Kerk sonder smet of rimpel! ‘n Volk wie se liefdes die dinge daarbo is! ‘n Volk met skoon hande en rein harte. ‘n Volk wat uitsien na Sy koms. ‘n Volk met ‘n “nuwe Jerusalem ingesteldheid.”

Die vraag is nie meer, “Wat kan my geloof vir my kry? Watter wonderwerk sal Hy vir my verrig?” nie. Die vraag is nou – “Hoe sal ek voor Hom staan? Hoe sal ek dit maak by die Oordeel?” “En wie kan standhou as Hy verskyn? (Maleági 3:2).

Die vraag is nie langer, “Hoe voel ek – hoe kry ek geluk? Hoe kry ek die begeerte van my hart?” nie. Die vraag is – “Kan ek staande bly op daardie oomblik wanneer ek voor die Oordeelstroon van Christus staan? Hoe kan ek staande bly as ek so roekeloos, so selfsugtig, so nalatig rakende Sy groot verlossing geleef het?” Die hoofsaak het nou glad niks meer te doen met hierdie wêreld nie. Die saak is – “HET EK CHRISTUS VERWAARLOOS IN HIERDIE MIDDERNAGUUR?”

Die reiniging sal op die kansel begin! “Hy sal die seuns van Levi reinig...” (Maleági 3:3). God gaan dit bereik deur “die hitte aan te draai.” God gaan dinge so warm maak, so vurig, so intens, dat God se kinders op hulle knieë gedryf sal word! Dit is die vuur van die Heilige Gees! Dit is die vuur van vervolging. Dit is die vuur van verdrukking. Die vuur van ongelooflike swaarkry, bespotting, geskinder, finansiële probleme. Hy gaan alles skud wat geskud kan word! Hy gaan skud, en skrop, en brand, en reinig – en suiwer!

Geen man of vrou van God sal die reiniging ontsnap nie! God is vasbeslote om al die drek en vuilis uit ons te kry. Die reiniging sal versprei van die kansel na die kerkbanke! Maak gereed, heiliges! God maak gereed om alle sonde, alle owerspel, alle dwaasheid aan die lig te bring! Die Heilige Gees gaan ons oor sonde berispe. Hoe kan jy speletjies speel as God jou in Sy smeltkroes sit en die vuur aanblaas? Jou Heilige Gees doping gaan nou aangevuur word!

Maleági het gesê – “...WANT kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek...” (Maleági 4:1).

God belowe ook om die vestings van die vyand neer te werp! Hy gaan vir eens en vir altyd die duiwel en die wêreld laat weet wie die mag het!

As God op die punt is om te doen alles wat die profete voorspel het Hy sou doen – WAT ‘N HEERLIKE TOEKOMS WAT VOORLÊ!

*’n Gereinigde, gesuiwerde bediening!

*’n Kerk wat deur God teruggeroep word na bekering en heiligheid.

*’n Volk gewas, gereinig – en lof bring met ware geregtigheid.

*’n Herlewing onder ons jongmense! Dwelmvestings wat val! Alkohol en egskeiding wat nie algemeen is onder God se kinders nie.

*Die klank van gebed – voorbidding!

*’n Volk van God wat sal onderskei tussen die heilige en die onheilige!

*God se kinders wat oral weer terugkeer na die Woord.

*’n Getoetsde, beproefde volk, weer toegewy aan die Persoon van Jesus Christus!

*Sy Persoon wat opgelig word om alle mense na Hom te trek!

*Christus wat nie langer ‘n vreemdeling in ons midde is nie, maar GEKROON – TOONAANGEWEND!

*’n Pinkster wat werklik die Naam en gesag van Jesus Christus, die Here oor alles verhoog.