Die Verlosser Kom na Sion Toe

David Wilkerson

Ek bring vir jou ‘n profetiese boodskap van die Here. Die Verlosser van Sion is op die punt om te verskyn in Sy heerlikheid, in ons dag, in sy kerk!

“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE...” (Jesaja 59:20).

Die visioen van Jesaja die profeet is op die punt om volbring te word. God is op die punt om met toorn te kom teen almal wat die waarheid verdraai het, en almal wat hulle tot gierigheid gewend het. Jesaja het oor die toestande in die kerk van die laaste dae gepraat:

  • “...die waarheid struikel op die mark...Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder...” (Jesaja 59:14).
  • “...Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie...” (Jesaja 59:15).

Jesaja sê in wese vir ons, “Laat dit bekend wees dat die waarheid verdraai en vertrap word. Die kerk van Christus het slagoffers geword van diegene wat valse leerstellings verkondig. God is ontevrede omdat niemand sal opstaan en die verdraaiing van die waarheid en geregtigheid veroordeel nie.”

God se bedienaars sit ledig terwyl die waarheid op die grond gewerp word. Leuengeeste het ‘n stem in die kerk gekry en niemand staan dit teë nie! Die ware kinders van God weier om dit te veroordeel. Daarom, sal die Here dit self veroordeel! Die Verlosser van Sion gaan nou opstaan en die vleeslikheid, goddeloosheid en gierigheid – die bespotting van die waarheid – oordeel!

“En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie...” (Jesaja 59:16).

Waar is diegene met onderskeiding? Waar is diegene wat die mense die waarheid sal wys? Die waarheid struikel en min mense lyk of hulle omgee of verstaan. Die Here wonder hoekom!

Die Verlosser is op die punt om Homself te beklee met wraak en ywer. Hy sal binnekort met toorn en heiligheid deur die kerk beweeg?

“En Hy het geregtigheid aangetrek soos ‘n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ‘n mantel. Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders...” (Jesaja 59:17,18).

Hy kom, kerk van Jesus Christus! Hy kom na ons en dra Sy borsplaat van heiligheid en Sy helm as Saligmaker. En wraak, toorn en oordeel sal binnekort in die huis van die Here begin.

“...want die HERE sal aan sy volk reg verskaf...” (Deuteronómium 32:36).

Glo dit, gelowiges van God! Iets nuuts – iets wonderbaarliks – iets ewigs – is op die punt om plaas te vind in God se huis! Dit sal skielik en glorieryk wees!

Jy het gehoor dat Hy alles wat kan skud, gaan skud. Nou, laat ons God vra vir begrip omtrent die skudding. Waarom die wraak en toorn. En waarom moet die Here self na Sion terugkeer. Waarom sal die Here die saak uit die hande van Sy dienaars en bedienaars neem en die werk in sy eie soewereine krag doen?

Dit word alles vir ons duidelik gestel deur die profete.

I.Eerstens, die Verlosser kom na Sion omdat die vyand soos ‘n stroom teen sy kerk gekom het.

“...kom soos ‘n saamgeperste stroom...” (Jesaja 59:19).

In die afgelope paar jaar, het Satan die kerk oorstroom met een nuwe leerstelling na ‘n ander – met ‘n gees van gierigheid en vleeslikheid. Hy het ‘n demoniese vloed van owerspel, onsedelikheid en vuilis uitgestort!

Johannes het dit sien kom. Hy het gewaarsku, “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het... En die slang het uit sy bek water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier....” (Openbaring 12:13-15).

Dit is Satan se laaste aanval teen God se heiligste, mees toegewyde kinders. Hy is nou vasbeslote om selfs God se uitverkorenes te mislei, sy uitverkore min – die oorblyfsel wat die Here aanroep in waarheid.

“...om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei...” (Markus 13:22).

Daniël dui aan dat Satan vir ‘n kort rukkie sal heers:

  • “Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin...totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het...” (Daniël 7:21-22).

Heers Satan vir ‘n seisoen? Ons weet die poorte van die hel sal op die ou end nie die kerk oorwin nie – maar heers hy nou? Satan het ‘n brugge hoof, ‘n vesting gevestig – in die kerk! Talle van God se uitverkorenes word op hierdie oomblik mislei! Satan het met ‘n ander evangelie gekom. Paulus het presies vir ons gesê hoe hy teen God se heilige kinders sou kom om te mislei:

  • “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie...” (2 Korinthiërs 11:14,15).
  • “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.” (2 Korinthiërs 11:13).

Satan se vesting in die kerk is ‘n leërskare leraars en bedienaars wat verander is deur ‘n evangelie van die vlees! Hulle kom as die Here se mees verligte bedienaars! Hulle klink soos predikers van Christus. Hulle kom voor as predikers van geregtigheid. Hulle gebruik die Skrif. Hulle dryf duiwels uit, genees die siekes in die Here se Naam en doen baie wonderlike werke. Maar hulle boodskap is ‘n ander evangelie! Dit is ‘n misleiding van Satan! Dit is van die vlees – nie die Gees nie!

Hierdie leraars is so mislei deur die Satan, dat hulle blind is vir wat hulle verkondig. Hulle verkondig leuens en glo dit asof dit die waarheid is. Hulle is nie eens bewus dat hulle werktuie van Satan is nie.

Op hierdie oomblik, is hierdie valse leerstellinge van Satan so algemeen in die kerk. Menigtes stroom na konferensies en byeenkomste om hierdie ander evangelie te hoor – die evangelie van self en sukses. Die evangelie van die vlees vier hoogty – vir nou!

Word wakker, heiliges! Word julle mislei? Is julle vasgevang in die leerstellings van ‘n engel van die lig van Satan? Word julle meegesleur deur die stroom? Raak bekend met God se Woord. Hoor die evangelie van Christus, en beoordeel wat julle sien en hoor. Vergelyk dit wat Jesus gesê het met dit wat hulle sê.

Die Skrif bewys, bo alle twyfel, Satan se nuwe evangelie is, “Winsgewendheid is Goddelikheid”! Dit is ‘n boodskap van kompromie, sonder bekering of goddelikheid. Dit is ‘n evangelie van winsgewendheid. Dit is gebaseer op die veronderstelling dat hoe goddeliker jy is, hoe meer winsgewend sal jy wees. Luister na Paulus se waarskuwing:

  • “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie... van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is...” (1 Timótheüs 6:3-5).

Paulus roep uit, “Skei julle af van hulle!” Bly van hierdie ander evangelie af weg!

Luister na die woorde van Jesus. Dit is die ware evangelie!

“Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag. Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens...” (Lukas 6:20-22).

Hier is wat die evangelie sê oor materiële dinge najaag. Dit kom van die lippe van die Here self – “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween. Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen...” (Lukas 6:24-26).

Die evangelie van winsgewendheid verag armoede. Dit verwerp en verag die armes.

“Maar julle het die arm man oneer aangedoen....” (Jakobus 2:6).

Jakobus openbaar hierdie skynheiligheid. Hy sê van hulle:

  • “En as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit...” (Jakobus 2:2,3).

Hoe blind kan ons wees, heiliges van God? Is dit die evangelie vir ‘n sterwende wêreld? Winsgewendheid is goddelikheid? Geloof is vir voorspoed!? Arm mense het te min geloof!? Christus het arm geword sodat ons ryk kan word, in goedere? Neem – gebruik jou geloof om alles te kry wat jy wil hê?

Een biljoen mense op hierdie aarde is naby daaraan om te sterf van die honger. Die hart van God breek om te sien hoe wenende moeders uitgeteerde baba’s met opgeblase mae sus. Miljoene is werkloos. Die eindes van die wêreld kom op ons af. Die wêreld is op pad na Armaggédon. Stede is op die punt om in betogings uit te bars. Vervolging en verdrukking kom. Die elemente sal binnekort smelt met ‘n vurige hitte. Die wêreld is aan die brand! God se kinders word oral in die wêreld in tronke gegooi, vervolg en hulle verloor alles wat hulle besit.

Moet ek glo dat die Gees van God ware dienaars gaan stuur na hierdie desperate, honger wêreld om sukses en voorspoed te verkondig? Wanneer mense nie genoeg het om te eet nie, gaan God vir my ‘n boodskap stuur dat ek die reg het om aanspraak te maak op ‘n groter huis en ‘n beter kar? Sal dit ‘n man van God gestuur wees wat dit vir my sê? Slegs valse leraars sou my gesondheid en rykdom belowe – en die res van die wêreld laat sterf!

O, nee – broer, suster. Ons verstaan heeltemal verkeerd. Die ryk man het in die hel beland! Dit was die arm man wat hemel toe gegaan het! Jesus self het arm geword, sodat ons ryk kon word in geloof.

Luister na Paulus en vlug weg van hierdie predikers van sukses en voorspoed: “Keer jou ook van hierdie mense af...” (2 Timótheüs 3:5).

Hulle het geen las vir bekering nie. Hulle preek nie teen sonde nie. Hulle bied seëninge sonder goddelike berou. Hulle is gaarders van hierdie wêreld se goedere. Hoe kan hulle omgee vir die armes as hulle verkondig dat winsgewendheid goddelikheid is? Hulle teologie wek nie liefde op vir sending en ‘n besorgdheid oor die armes van hierdie wêreld nie.

Amos die profeet het uitgeroep, “Wee die gerustes in Sion ... julle wat die dag van onheil veraf stel... Wat op bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke en die lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet... Wat uit offerkomme wyn drink...maar hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie...” (Amos 6:1-6).

Ek sidder om te dink hoe dit sal wees om voor God te staan en rekenskap te gee vir bymekaarmaak, eerder as om te verkoop en vir die armes te gee.

II.Die Verlosser kom terug om alle sataniese vestings neer te werp en die standaard van die waarheid terug te bring na Sion toe!

“Want Hy sal kom soos ‘n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jesaja 59:19).

Wat is hierdie asem wat hierdie vloed sal weerstaan en dit sal insluk? Watter soort soewereine toorn sal losgelaat word in die kerk? Wat is hierdie wraak waarvan die profeet praat? Dit is ‘n openbaring van die teenwoordigheid van God self! Die kerk in hierdie laaste dae gaan sien hoe God in hulle midde verskyn!

“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser...”

Die Regter self gaan hierdie keer kom! Die Generaal van die leërskare van God, persoonlik, onder Sy volk. Met krag, gesag en ontsagwekkende heerlikheid!

Ons weet dat daar waar twee of drie saamkom in sy Naam, is Hy in hulle midde! Maar net soos die son warmer en helderder word hoe nader dit kom, so sal dit wees wanneer Hy sy troonsaal verlaat en verskyn in ware teenwoordigheid. Hoe warm gaan dit wees! Hoe helder!

“...die Here kom...wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak...” (1 Korinthiërs 4:5).

Daar sal nie ‘n profeet opgewek word om die kerk terug te bring na waarheid en bekering nie. Geen nuwe leerstelling nie. Geen nuwe openbaring nie. Die Verlosser self sal verskyn en saam met die krag van sy heilige teenwoordigheid, sal Hy alle vleeslikheid en vlees in sy tempel verslind. Ons gaan ‘n herlewing beleef van die ware teenwoordigheid van God!

“...het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God...” (Psalm 68:9).

“...dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek...Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?” (Maleági 3:1-2).

Alle afgodery, al die verkondiging van “winsgewendheid is goddelikheid”, al die trots van sukses, al die boesemsondes – sal wegsmelt soos was voor die teenwoordigheid van God!

“Soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.” (Psalm 68:2).

“Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter... En Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ’n offer sal bring...” (Maleági 3:2-3).

Miga, die profeet, het ook geprofeteer van ‘n glorieryke openbaring van God se heilige teenwoordigheid wat alles in sy pad sou smelt:

  • “Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde. En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom!” (Miga 1:4).

Jeremia het uitgeroep, “Sou julle vir Mý nie bevrees wees nie, spreek die HERE, of voor my aangesig nie bewe nie” (Jeremia 5:22).

God het vir Eségiël gesê, “...en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val...” (Eségiël 38:20).

As die goddelose gaan skud en bewe voor sy heilige teenwoordigheid, hoe sal iemand kan staande bly voor daardie teenwoordigheid in die huis van God?

Weg met al die grootpratery! Weg met al die afgode van self! Weg met self-bevordering! Weg met die handeldrywe met die evangelie! Weg met al die diewe in God se tempel!

Geen skuilings van ongeregtigheid meer nie! Geen najaag van die dinge van hierdie wêreld meer nie. Geen vermorsing van kosbare geloof op tydelike dinge meer nie. Geen kompetisie in God se huis meer nie. Geen afbreek van skure om groteres te bou meer nie. Geen strewe na die dinge van hierdie aarde meer nie. Geen naam vir self probeer maak meer nie.

Die oordeel sal begin in Sy huis! Sy teenwoordigheid gaan alles wat self verhef in Sy oë smelt. Die Here gaan al Sy dienaars nederig maak. Geen bedienaar van die evangelie sal toegelaat word in te roem in Sy teenwoordigheid nie. Diegene wat weier om hulle te bekeer, sal opsy geskuif word, verteer deur Sy toorn.

Wanneer die teenwoordigheid van God uitbars, word dit fataal om ‘n boesemsonde te herberg! Alle owerspel sal geopenbaar word, alle oë vol wellus, alle bose gedagtes! Sy vlammende oë van vuur sal alle skynheiligheid openbaar!

Ons gaan talle dienaars sien wie se liggame vernietig sal word sodat hulle siele gered kan word. God gaan ons óf verneder – of wegneem!

“...sodat geen vlees voor Hom sou roem nie...” (1 Korinthiërs 1:29).

Nie almal wat jonk sterf, is weggeneem omdat hulle gesondig het nie. Sommige van ons het ‘n doodsvonnis van die Here – wat weet dat hulle tyd kort is. Maar baie mense gaan sterf wanneer Sy teenwoordigheid volkome geopenbaar word, omdat sonde nie voor Hom kan staande bly nie! Hulle sal gedwing word om hulle sonde te laat staan, of vernietig word. Soos Jona, gaan hullle “...van die aangesig van die HERE af wegvlug” (Jona 1:10).

Bedienaars, leraars en evangeliste roem almal oor die teenwoordigheid van die Here in hulle midde! Maar ons weet nie waarvan ons praat nie. Laat my vir jou sê wat gebeur wanneer God se teenwoordigheid die huis vul.

1.Mense word oortuig van sonde en val op hulle aangesigte om hulle te bekeer. Selfs God se uitverkorenes sien hulle ongeregtighede raak. Niemand kan in Sy teenwoordigheid staan nie. Almal moet op hulle aangesigte val.

“In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het... En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword... Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Jesaja 6:1,5).

2.Alle sukses, selfvertroue, boesemsondes, menslike vermoë en krag verdwyn. Dit word verderflik!

Toe “het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ’n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ’n menigte...

“En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ’n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.

“Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie. En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval...

“En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword” (Daniël 10:5-9,15).

3.Die hele gehoor sal op hulle knieë wees, gesmelt, gebroke, belydend, restitusie doen en al hulle wêreldse goedere oorgee by die voete van Christus. Mense sal ween, “Wee my. Ek is nie ‘n sukses nie. Ek is nie ‘n wenner nie. Ek is verlore! Ek is ‘n wurm. Ek is trots, ek weet niks. Maar sonder Sy bloed, is ek verdoem.” En hoofde sal in die stof wees, nie in die lug nie! Hulle sal uitroep soos die apostel Paulus, “maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld – die nietiges – het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam” (sien 1 Korinthiërs 1:27,29).

III.Die Verlosser kom om Sy bruid gereed te maak vir die bruilof!

“Blaas die basuin op Sion...Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek...” (Joël 2:16).

Ons Verlosser kom uit Sy slaapkamer na Sy bruid toe! Die bruid kom nou uit die binnekamer. Die bruilof gaan begin! Hy het gekom om Sy bruid uit die wêreld te roep, om haar af te sonder, om haar te versterk en te reinig – om haar gereed te maak!

“Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam...” (Openbaring 19:9).

Johannes het gesê, “Sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Openbaring 19:7,8).

Heiliges van God, dit is die evangelie van Jesus Christus vir hierdie laaste dae – “Trek geregtigheid aan! Lê alle laste af en die sonde wat jou so maklik verstrik. Moenie verstrengel raak nie. Gaan uit om Hom te ontmoet. Kry julle lampe aan die brand. Kry jou olie vooraad. Moenie meer skatte op die aarde bymekaarmaak nie!”

Die Verlosser moet na Sion kom, omdat menigtes nie gereed is om Hom te ontmoet in die ewigheid nie.

Verstaan ons werklik – glo ons werklik – ons (God se kinders) moet almal verskyn voor die oordeelstroon van Chrisus?

“Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee...” (Romeine 14:10-12).

Paulus het van daardie dag gepraat as “die vrees van die Here.” Vir hom was dit ‘n skrikwekkende, ontnugterende gedagte. Dit het hom laat sidder om te dink dat al God se kinders voor die oordeelstroon moet verskyn om “rekenskap te gee.”

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn... Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig” (2 Korinthiërs 5:10,11).

God wil ons “sonder gebrek voor sy heerlikheid ... stel met gejuig...” Ons Verlosser kom na Sy kerk om Sy kinders vir oordeel gereed te maak. Om ons vlees te verbrand. Om al die hooi, hout en stoppels te verteer. Om al die boesemsondes en verborge motiewe uit te brand.

Laastens, en die belangrikste van alles, die Verlosser kom om Sy heerlikheid in Sy kerk te herstel! Die Here se grootste begeerte vir Sy kinders, is om Sy heerlikheid te deel!

“...sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het...” (Johannes 17:24).

God het gesê. “Ek sal my heerlike huis heerlik maak...” (Jesaja 60:7). Die profete het hierdie naderende heerlikheid gesien en daarin gejuig! Jesaja het geskryf, “En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek...” (Jesaja 40:5).

“Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op...en sy heerlikheid sal oor jou gesien word...” (Jesaja 60:1,2).

Hoor hierdie profetiese woorde: Geopenbaardie heerlikheid – alle vlees sal dit sien – dit sal op jou gesien word!

Ons gaan hemel toe, met die heerlikheid op ons! Die heerlikheid wat ons s’n is in die ewigheid – sal nou ‘n voorsmaak wees! Jesus het vir Martha gesê, “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?...” (Johannes 11:40).

Wat is Sy heerlikheid? Wat is Sy rykdom? Dit is daardie heerlikheid wat Maria en Martha aanskou het! Opstandingskrag! ‘n Openbaring van ewige lewe hier op aarde! Die Bybel sê ons Verlosser bring “baie kinders na die heerlikheid” (Hebreërs 2:10). Dit beteken Christus bring Sy kerk om hulle ware erfenis te ken – ewige, opstandingslewe! God gaan Sy kinders ‘n nuwe hart vir ewig waardes gee. Ewige waardes sal alle tydelike waardes uitdryf.

Wanneer ek sê opstandingsheerlikheid, verwys ek nie na die dag wanneer ons uit die graf sal kom nie. Ek praat van die veranderende krag van die opstanding, nou! Opgewek uit die dood van die self – na nuwe lewe, nou! Dit is die krag van God wat ons wegneem van lewe vir self, om elke oomblik vir Hom te lewe. Dit is die vernuwing van ons gedagtes, wat ons opwek uit wêreldsheid tot goddelikheid.

Volgens Paulus, is daar “baie...[wat] wandel as vyande van die kruis van Christus...hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.” (Filippense 3:18,19). Maar God se kinders het ‘n ander heerlikheid! Hulle gesprekke, alles waaroor hulle praat, is hemels – “ons burgerskap is in die hemele...” (Filippense 3:20). Hulle smag na opstandingsheerlikheid:

“...sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Filippense 3:10).

Geliefdes, dit is waar my geloof nou geoefen word – op die openbaring van Sy opstandingsheerlikheid: “As jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien...” (sien Johannes 11:40).

Laat die blindes hulle misleide geloof op die dinge van hierdie wêreld spandeer. Laat hulle smeek vir gesondheid, rykdom en sukses. Ek wil Sy opstandingsheerlikheid beleef!

“Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.

“Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare — Hy is die Erekoning!” (Psalm 24:7-10).