Help Jouself

You Can Turn Your Life Around
David Wilkerson

Een van die tragieste woorde in enige taal is EENDAG! Dit som die onvervulde hoop en drome op van hierdie hele geslag.

Luister na die verslaafde dwelmgebruiker of alkoholis, “Eendag gaan ek hierdie gewoonte breek! Eendag gaan ek hierdie aap van my rug af kry! Eendag sal ek wakker word en hierdie nagmerrie sal net ‘n slegte droom wees. Eendag – sal ek vry wees.”

Luister na die jong, eensame enkellopende persoon, “Eendag sal my ware liefde in my lewe inkom en al my neerslagtigheid verdryf! Eendag sal ek by ‘n knetterende vuurherd sit, by kerslig, in die arms van iemand wat my sal liefhê en my sal help om deur die eensame nagte te kom. Eendag – sal ek gelukkig wees!

Luister na die hartverskeurde geskeide persoon, “Eendag sal ek iemand vind wat my verstaan – iemand goedhartig, teer, liefdevol – iemand wat al my trane sal afdroog. Eendag sal ek daardie een liefde vind en ek sal gelukkig wees! Eendag sal hierdie gevoel van verwerping verdwyn en ek sal weer lag en liefhê – eendag!”

Luister na die een wat vasgevang is in ‘n liefdelose, skynbaar hopelose huwelik, “Eendag, op een of ander manier, sal daar ‘n uitweg wees! Eendag sal ek vind waarna ek soek! Ek weet daar is geluk en wonderwerke daar buite êrens. Eendag sal ek vry wees om my hart te volg! Eendag sal ek iemand kry wat my sal aanvaar net soos ek is – eendag!

As jy mooi kyk, sal jy vind dat amper die hele mensdom leef vir daardie eendag – wanneer dinge beter sal word, wanneer omstandighede sal verbeter, wanneer die slegte tye sal verbygaan en die goeie tye sal inrol! Ons dink skynbaar dat al wat ons nodig het, net ‘n bietjie meer tyd is; dat iemand sal verbykom en alles beter maak! Ons dink eendag sal ons gebede verhoor word; eendag sal ons gelukkiger en heiliger wees; êrens, op een of ander manier, wag daar ‘n wonderwerk op ons om te gebeur.

My vriend, ek het nuus vir jou. Eendag sal nooit gebeur as jy net rondsit en hoop vir een of ander soort wonderwerk nie. Daar sal geen ridder-op-‘n-wit-perd kom om jou te verlos van jou probleme nie. As jy jou gebede verhoor wil hê, is daar ‘n paar stappe wat jy moet neem om dit te laat gebeur. As die wonderwerk ooit gebeur, sal dit ‘n gevolg wees van iets wat jy doen! Jy kan rondsit en wegteer en sterf in jou vrese, eensaamheid en depressie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy dinge in jou eie hande moet neem. Jy moet optree! Om te sit en te hoop en te droom kan fataal wees!

Vier melaatse manne het buite die stad Samaría gesit. Die Aramese leër was vasbeslote om hulle uit te honger. Hierdie manne kon maklik van honger gesterf het, maar hulle het besluit om iets aan hulle hopelose situasie te doen. Hulle het gesê,

  • “Wat bly ons hier totdat ons sterwe? ...kom dan nou en laat ons oorloop na die laer van die Arameërs...as hulle ons doodmaak, dan sterwe ons...toe hulle  aan die buitekant van die laer van die Arameërs kom, was daar niemand nie...”

Hulle het kos, goud, silwer, klere – alles wat hulle harte begeer het – ontdek, want die Here het ingegryp.

Daar is iets tragies verkeerd met die manier waarop die meeste van ons die Christelike lewe leef. Ons het so ver afgedwaal van God se konsep van wat die lewe veronderstel is om te wees. Ons leef dit glad nie op die manier waarop God dit bedoel het nie!

Beskou die woorde wat God gebruik om die lewe te beskryf wat Hy beskik het vir alle gelowiges: oorvloedige lewe, seëvierende lewe, bevredigend, vol blydskap, met die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan; ‘n lewe van lig met geen duisternis nie, volheid, lewend, waarlik vry; wysheid, blydskap, seëninge, leiding, krag, salwing, vryheid, versekering, kalmte, oorwinning!

Dink nou aan die negatiewe beskrywende woorde wat rondgeslinger word deur Christene vandag: tred hou, depressie, vrees, angs, slapeloosheid, eensaamheid, neerslagtigheid, wanhoop, oorlewing, leegheid, rusteloosheid, onderdrukking, verslaafdheid, vasbyt, af wees, hartseer, senuagtig, verdwaas, uitgebrand!

Nie in die wildste uithoeke van die verbeelding het God vir Sy kinders bedoel om te leef soos vandag nie – asof God die aarde verlaat het; asof Satan besig is om beheer oor te neem; asof die gelowiges een vir een afgetakel en afvallig gaan word; asof depressie, vrees en angs die Christelike manier is; asof Christene swak, sonder krag of mag is, en gereed is om oor te gee aan die magte van hierdie eeu!

Ons leef asof ons dink Satan kan net soos wat hy wil oor ons loop en dat hy ons kan beroof van die dinge wat God gegee het. Die getrouste onder ons raak nou moeg en swak; selfs die sterkes verloor moed! Dit moenie toegelaat word om so aan te gaan nie!

Christus het nie gesê Hy sou terugkom na ‘n kerk wat depressief, neerslagtig, verslaan, senuagtig, uitgeput is, en net probeer om die lewe te hanteer nie. Hy het gesê Hy kom terug na ‘n seëvierende kerk, oorwinnend, triomferend oor al die krag van die vyand. Luister na Sy Woord:

  • “Juig tot eer van God met ’n stem van gejubel...” (Psalm 47:2).
  • “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei” (2 Korinthiërs 2:14).
  • “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp...” (Psalm 98:1).
  • “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof...” (1 Johannes 5:4).
  • “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het...” (Romeine 8:37).

Net voor Sy dood, het Christus oor Jerusalem gestaan en ween as gevolg van die mensdom se weiering om te verstaan wat God vir hulle beskik het. Jesus het in stilte gekyk hoe die menigtes rondgedwaal het soos skape wat geen herder het nie: Vreesbevange, moedeloos, hartseer, rusteloos. Hy moes verdwaas gedink het, “Dit is so onnodig. Hulle kon met blydskap, vrede en tevredenheid gelewe het!”

“En toe ... het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek...” (Lukas 19:41,42).

As ‘n mens terugkyk, lyk dit nie ongelooflik dat mense so blind kon wees nie? Dat hulle kon rondgaan, hulle lewens met soveel vrees en depressie geleef het, terwyl Christus in hulle midde uitgeroep het, “Kom na My toe. Ek sal julle rus en vrede gee. Ek is die weg, kyk na My en word gehelp!”?

Maar is ons nie net so blind soos daardie arme siele nie?

  • “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie...” (Johannes 5:40).

Is dit nie genoeg om net tevrede te wees met ewige verlossing nie. Sommige Christene dink dat dit al is wat God beskik het. Jy word gered, dan volhard jy tot die einde toe. Dit is selfs nog tragieser dat ons met soveel geestelike armoede leef as jy besef dat God vir ons selfs beter beloftes gegee het as in die Ou Testament.

  • “Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Hebreërs 8:6).
  • “...Omdat God iets beters oor ons beskik het...” (Hebreërs 11:40).

Wat is die beter verbond met beter beloftes. Dit is Christus wat in ons leef, eerder as tussen ons! Ons moet ons oë oopmaak vir Sy grootheid in ons!

  • “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte...” (Efésiërs 1:17-19).
  • “En salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien...” (Openbaring 3:18).

Die koning van Aram het ‘n leër kavallerie en strydwaens en ‘n groot battaljon soldate gestuur, en hulle het in die nag by Dotan gekom en daardie stad omsingel om die profeet Elisa gevange te neem.

  • “En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa...” (2 Konings 6:8-17).

Ons moet ook ons oë oopmaak, want ons het selfs groter krag:

  • “Omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4).

Ek glo dit is vir jou moontlik om jou te lewe te verander. Ek glo daar is ‘n weg om ‘n lewe van blydskap en vrede te ontdek bo enigiets anders wat bekend is. Ek glo daar is drie sake waaraan jy aandag moet gee, drie stappe na ‘n nuwe lewe van krag en vrede.

I – Jy moet eens en vir altyd leer dat jy nie op iemand anders kan vertrou vir jou eie geluk nie!

  • “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie..” (Jeremia 2:13).

Hierdie twee booshede is die oorsaak van al die onrus en rusteloosheid in die wêreld vandag. Ons kyk nie meer na God vir hulp nie. Ons wend ons tot mense: mans, vroue, vriende, bedienaars, raadgewers, sielkundiges. Die vrou verwag dat die man haar gelukkig moet maak, al haar neerslagtigheid verdryf, haar behoeftes vervul. Die man is ‘n emosionele verlamde en steun op sy vrou, met die hoop dat sy sy innerlike behoeftes sal vervul. Ander hardloop van een berader na ‘n ander, van boek na bandopname na seminaar na ‘n vertroueling. Ons is gedurig op die uitkyk vir die regte persoon, die regte woord, die regte bemoediging.

Dit is belangrik om leerbaar te wees, om ons te onderwerp aan gesonde lering. Maar daar is party dinge wat jy by geen mens kan leer nie. Daar is party krisisse waaruit slegs die Heilige Gees die pad kan aanwys. Soms is daar nêrens antwoorde in die menslike verstand nie, dan moet die Heilige Gees ons leer om uit die krisis te kom! Ons moet binnewaarts keer en alle stemme en geraas van buite uitsluit. Hier is bewyse:

  • “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie...” (1 Johannes 2:27).
  • “Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korinthiërs 1:25).

Die dinge wat God vir ons wil doen het nog nie eens die gedagtes van die wyse, wêreldse raadgewers binnegekom nie.

  • “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet...” (1 Korinhiërs 2:9).

Hulle is deur die Gees in ons geopenbaar!

  • “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Korinthiërs 2:10).

As die dinge wat God vir ons voorberei het nog nie eens “in die hart van ’n mens opgekom het nie,” hoe kan iemand vir my sê wat hy nie weet nie?

  • “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God...” (1 Korinthiërs 2:11).

Ek is nie teen Christene wat goeie raad soek nie. Ek is nie teen Christelike sielkunde nie. Maar niks daarvan is selfs die moeite werd om oor te praat as dit die mens nie by hierdie absolute waarheid bring nie: Geen ander mens kan jou bron van geluk en vrede wees nie!

Diegene wat op die arm van die vlees vertrou, grawe putte wat water nie kan binne hou nie. Hulle het gedurig iemand nodig om raad in hulle te giet, maar hulle kan dit nie hou nie. Hulle is gebroke waterbakke.

II – Die antwoord op al jou probleme kan slegs in jouself gevind word!

Ek praat nie van die goddelose self nie, maar van die herskepte self, wat in besit geneem is deur Christus. Een van die belangrikste verse in God se Woord is Johannes 4:14:

  • “Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe...” (Johannes 4:14).
  • “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei...” (Johannes 7:38).

Hierdie lewegewende water sal in hom wees en uit hom stroom! Waaruit? Sy innerlike wese!

Laat my vir jou bo enige twyfel bewys dat alles wat jy nodig het in hierdie lewe, reeds aan jou gegee is toe Christus ingekom het! Hy is in ons met al die krag vir alle behoeftes!

  • “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug...” (2 Petrus 1:3).
  • “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee...” (Efésiërs 1:17).
  • “En wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo...” (Efésiërs 1:19).
  • “Julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid!...” (Hebreërs 13:21).
  • “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk...” (Efésiërs 3:20).
  • “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang...” (Galásiërs 3:16).
  • “En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus..” (Efésiërs 2:6).
  • “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Romeine 8:11).

Ek weet daar is groot, onbeskryflike krag binne-in my! Ek beleef dit. Dit wag om uit te bars; dit is ‘n gevoel dat ‘n ontploffing van grootheid kan gebeur.

Ek weet dat die Gees alles weet en alles sien en dat Hy alleen al die antwoorde het wat ek nodig het. Ek weet ek hoef nie na ‘n mens of enigeen buite myself te gaan nie. Ek weet ek moet myself help. Almal wat Christus Here noem en wat op Hom vertrou, het die Heilige Gees in hom om te help om die lewe oorvloedig en vol blydskap te maak.

  • “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees...” (1 Korinthiërs 12:3).
  • “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God...” (1 Johannes 4:2).
  • “Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie...” (Romeine 8:9).

Noem jy Jesus die Here van jou lewe? Jy kan nie in Christus glo tensy die Gees IN jou is nie! Jy hoef nie te wag vir een of ander bonatuurlike gevoel of vir ‘n spesiale openbaring nie. Jy is gereed om in die volheid van die Gees te lewe die oomblik wat jy Hom as Here bely en Hom absoluut volg!

Dit lyk amper ongelooflik wat die Gees in ons en vir ons kan doen! Luister:

  • “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16,17).
  • “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het...” (Johannes 14:26).
  • “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig...” (Johannes 16:13).
  • “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon...” (Romeine 8:11).
  • “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree...” (Romeine 8:26,27).
  • “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het...” (1 Korinthiërs 2:12).
  • “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32).
  • “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?...” (1 Korinthiërs 3:16)
  • “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing...” (Galásiërs 5:22).
  • “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus” (Galásiërs 4:6,7).
  • “Want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).
  • “In wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid...” (Efésiërs 1:13,14).

Is jy gereed om hierdie waarheid te ontvang en daarop te reageer? Wat het ons pas gelees? Hy is in jou: Om jou te vertroos; om jou rigting te gee; om jou in al die waarheid te lei; om jou dinge te wys wat kom; om jou lewend te maak; om jou in jou swakhede by te staan; om jou te laat begryp wat al die dinge van God is wat Hy vrylik vir jou gegee het; om vir jou blydskap, liefde, vrede, geduld, goedhartigheid, selfbeheersing te skenk; om jou alles te gee wat aan ‘n seun van God beloof is; om jou pligsgetrouheid te beloon; om jou te verseker van jou vryheid; om jou toegang tot die Vader te gee, om jou by ‘n plek van stille rus en waarheid te bring.

III – Daar is slegs een manier om al hierdie krag te gebruik – slegs een manier om dit te gebruik om jou lewe te verander!

Dit is nie genoeg om op te hou om op die arm van die vlees te steun nie! Dit is nie genoeg om ‘n openbaring van God se magtige krag in ons deur Christus te hê nie! Dit is nie genoeg om jou te bekeer en te glo nie! Dit is nie genoeg om al hierdie seëninge op te eis nie! Dit is nie genoeg om geloof uit te oefen nie! Ook is dit nie genoeg om te vas en te bid nie. Ook is dit nie genoeg om rond te gaan en daarin te roem dat jy gedoop is met die Heilige Gees en in tale praat nie. Dit is nie genoeg om rond te gaan en goed te doen, te getuig en jou Bybel te lees nie.

Ek ken baie sogenaamde “Gees-gedoopte” Christene wat ellendige lewens leef. Sommige skei. Sommige leef in owerspel. Sommige is heeltyd eensaam en depressief. Sommige leef in voortdurende vrees en skuld.

Praat met die tale van mense en engele is nie genoeg nie! Geld gee is nie genoeg nie.

God wag op ons om iets te doen wat ons haat om te doen! Ons praat daarvan om dit te doen. Ons beplan om dit eendag te doen. Sommige van ons dink ons het dit reeds gedoen, maar nie regtig nie. Om dit te doen, is eintlik die geheim van die volheid van God. Om dit te doen, open die sluise van al God se seëninge. Om dit te doen, bring nuwe krag, vrede en vertroue.

God wil ‘n absolute, onvoorwaardelike oorgawe van ons lewe aan Hom hê. Niks minder nie as algehele onderwerping sal ons lewens bring in die krag en heerlikheid van God. Die grootste, hoogste toestand wat ‘n mens kan beleef is ‘n lewe volkome oorgegee aan God!

Die Heilige Gees mag in jou wees, maar het jy jou volkome aan Hom onderwerp, sodat Hy deur jou kan werk? Toe jy tot bekering gekom het, het die Gees ingekom. Wanneer jy oorgee, neem Hy in besit! Die verhouding waarmee jy jou aan die Gees onderwerp, is die verhouding waarmee jy gevul word en deur Hom besit sal wees.

  • “Stel julleself tot beskikking van God...aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie...want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking...” (Romeine 6:13,16,19).

Ons moet dit wat ons die graagste begeer oorgee, om genees te word van dit wat die seerste is. Die mens wat begeer om ryk en beroemd te wees kan nie langer sy huidige toestand hanteer nie. Sy obsessie om ryk te word maak dat hy sy armoede verag. Hy kan nooit gelukkig wees waar hy is nie, todat hy dit wat hy die graagste wil hê, oorgee.

Die vrou wat vasgevang voel in ‘n liefdelose, onvervulde huwelik begeer vryheid. Sy droom van ‘n man wat sag, goedhartig en liefdevol is. Sy begeer ‘n nuwe lewe – vryheid! Sy kan nooit genees word van haar huidige hartseer nie totdat sy die ding oorgee wat sy die meeste begeer.

Die persoon wat slegs lewe vir voorspoed en bevordering, om aanvaar te word deur mense en die lof van ander begeer, leef in ellende! Hy kan nooit vrede met homself hê nie totdat hy sy gees van hebsug oorgee.

Die eensame enkellopende, wat slegs leef vir die dag wanneer daar ‘n liefde sal verbykom, wat ‘n maat begeer, sal nooit genees word van eensaamheid nie todat die ding oorgegee is wat hy of sy die graagste wil hê.

Die ding wat jy begeer, is die ding wat jou hartseer veroorsaak. Gee dit prys! Lê dit neer! Besluit om net God se wil te doen, en genesende krag sal vrygestel word in jou lewe!

Ons moet ook oorgee wanneer ons die regste is!

“Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God...” (1 Petrus 2:19,20).

Die krag van God word in jou lewe vrygestel die oomblik wanneer jy leer om oor te gee wanneer jy reg is! Wanneer jy weet dat jy reg is! Iemand anders is verkeerd. Jy weet dit; miskien weet hulle dit. Die vlees raak opstandig en redeneer, “Moenie weer toegee nie. Moenie op getrap word nie. Moenie rondgestoot word nie. Staan op vir wat reg is.”

Waneer jy jou trots kan sluk, jouself verneder, jou regte vergeet en toegee – dit is groei! Dit is die manier om die sluise van krag, vrede en blydskap oop te maak! Leer om te ly wanneer jy reg is, en God sal jou seën met geestelike krag!

Die motivering vir oorgawe moenie vrees wees nie, maar die blydskap van die lewe! Die meeste van ons probeer om sonde te vermy. Ons probeer om ons te onderwerp en te gehoorsaam, net om hel en veroordeling vry te spring. Ons onderwerp ons omdat ons bang is vir God se toorn.

Maar dit is die verkeerde motief. Ons behoort oor te gee sodat ons ‘n vol lewe in die Gees kan leef; sodat ons deel kan hê aan Sy goddelike natuur op hierdie oomblik; sodat ons kan leer hoe om te lewe – en nie net hoe om te sterf nie!

Daardie besoemsonde in jou lewe is die een hindernis vir die vloei van al God se genesende krag. God wil hê dit moet oorgegee en laat staan word om een rede: Hy wil iets groot in jou lewe doen. Hy wil hê jy moet in ‘n nuwe lewe van oorwinning, heerlike vrede en bruikbaarheid beweeg.

Word kwaad vir jou sonde; praat daarmee; verklaar oorlog daarteen en sê, “Ek sal nie langer toelaat dat my sonde my beroof van alles wat God vir my het nie. Dit het my lank genoeg teruggehou! Dit het my geestelike groei vir te lank laat stilstaan! Ek wil vry wees. God, neem dit weg!”

Die verantwoordelikheid is alles in jou hande! Jou bestemming is in jou hande. Jy kan Sy krag hê! God het reeds alles gedoen wat Hy kan doen; al waarvoor Hy wag is vir jou volle oorgawe!

Help jouself!