Dit is die Moeite Werd om in die Strate uit te Gaan om Teenoor Verlore Siele te Getuig

David Wilkerson

Hier is net drie van die talle getuienisse van diegene wat tot saligheid gekom het tydens ons onlangse San Francisco uitreik. Hierdie bekeerlinge het daardie stad verlaat en is nou omring met Christene in ‘n goddelike omgewing. Party gaan deur ons Teen Challenge program in verskeie sentrums dwarsdeur die Verenigde State. Lees asseblief hulle getuienisse – bestudeer hulle foto’s – en bid baie vir hulle voortgesette groei in Christus.

Billie Burnette

[Billie is die jong dame wat Mev. Wilkerson vir Christus gewen het. Sy was eens strydlustig en verhard teen die Evangelie. Vandag woon Billie by Christelike vriende – en maak gereed om skool toe te gaan om haar skoolopleiding te voltooi.]

Sy skryf: “Ek dank die Here dat Hy my uit die verskriklike lewe wat ek geleef het gehaal het – die gay toneel van San Franciso. Ek het oral gesoek na liefde; ek het gesmag om liefgehê te word en om nodig te voel. My hart was so vol liefde om te gee, maar ek kon nooit ‘n manier vind om my hart uit sy tronk te bevry nie. Ek het ongeliefd en oorbodig gevoel. Ek was altyd hartseer toe ek op die strate was. Daar was nooit enige ware liefde nie.

“Ek het so hard probeer om te verander. Ek wou God so graag ken en liefhê. Maar ek het altyd so onwaardig gevoel, en ek was bang dat God my nooit kon vergewe of liefhê ten spyte van al my sonde nie. Ek het soveel menslike maniere probeer om vir God te wys dat ek Hom liefhet, maar vrees sou my oorweldig en ek sou net erger voel. Ek weet nou dat God my heeltyd regtig wou liefhê en my wou verander in ‘n waardige kind van Hom.

“Toe Mev. Wilkerson en al die World Challenge mense na ons strate toe gekom het, het hulle vir my ‘n God gewys wat regtig gelyk het of Hy my diepste behoeftes verstaan. Toe het ek ontdek dat Hy wou hê ek moes ophou stry en ophou probeer om Hom te behaag op my eie nietige manier. Hy wou net my geloof hê om my vry te maak – geloof in dit wat Hy op Gólgota gedoen het.

Ek het die rein liefde gevind waarna ek gesoek het. Ek is so dankbaar dat God iemand na die Tenderloin gestuur het om my te kom haal. Hy hoef dit nie te gedoen het nie – maar Hy het – en hoe dankbaar is Ek.

“Nou wil ek Hom my hele lewe gee. Na alles wat Hy vir my gedoen het, is dit nie te veel nie. Ek het die gebed van broers en susters in Christus nodig.”

Billie

Gene Hopkins

[Net ‘n paar weke gelede, was Gene ‘n eensame, verlore gay persoon – wat bedwelm geraak het saam met homoseksuele vriende. Vandag dien hy Christus as ‘n student in ons Los Angeles Teen Challenge Sentrum. Hulle berig dat hy geestelik groei en ‘n roeping op sy lewe het vir die bediening.]

Gene skryf uit Los Angeles: “Teen die negende graad, het ek baie keer dronk geword en marijuana begin rook saam met vriende. Ek was amper nooit deur my ouers uitgevang nie. Vir hulle, was ek goed gemanierd.

“Ek het voortgegaan met hierdie dubbele lewe tot die ouderdom van negentien. Die Gene wat my ouers geken het, het nou voltyds kollege toe gegaan gedurende die nag en gewerk gedurende die dag. Die kant van my persoonlikheid wat hulle nie gesien het nie, was egter besig om beheer van my lewe oor te neem.

“Teen hierdie tyd, het ek met acid, pille, angel dust, en ‘n paar ander dwelms geëksperimenteer. Ek het heeltyd probeer kyk waarmee ek kon wegkom. My ouers met my meer en meer onder die invloed gesien. Hulle het gedink hulle volbloed Amerikaanse seun het partykeer net ‘n paar drankies te veel ingehad. Gou was ek bedwelm vir ten minste twee keer per week. Hulle het nie geweet dat dit baie keer nie alkohol was nie, maar slaappille of angel dust of een of ander dwelm waarmee ek geëksperimenteer het. Tot op hierdie stadium het ek drie homoseksuele belewenisse gehad waarvan niemand geweet het nie. Ek het nie eens my beste vriend hiervan vertel nie. Ek het nie geweet met wie ek hierdie ervarings gehad het nie omdat dit in ‘n donker X-gegradeerde teater plaasgevind het, en ek het nie die moeite gedoen om name te vra nie. Toe eendag, het ek besluit dat ek nie kon voortgaan met die speletjie of voorgee om iets te wees wat ek nie was nie. Die stryd binne-in my was so intens dat ek baie naby daaraan gekom het om myself dood te maak. Maar eerder as om dit te doen, het ek die donker kant van my laat oorneem. Ek het na San Francisco gevlug.

“Ek het van die bus in San Franciso afgeklim met $1,200 se spaargeld. ‘n Week later het ek ‘n werk gehad by die Bank van Amerika, maar twee maande daarna het ek bedank en ‘n werk gekry in ‘n gay restaurant in Castrostraat. My huis was ‘n kamer in ‘n hotel in die Tenderloin distrik van San Francisco. Dit het alles so opwindend gelyk. Ek het dronk geword, dwelms geneem en seks gehad net wanneer ek wou en watter tipe seks ek ook al wou gehad het. Ek was mal oor die vryheid en onafhankliheid wat opgemaak het vir my somtydse eensaamheid.

“Drie maande nadat ek in San Francisco aangekom het, het my ouers my opgespoor deur een of ander speuragentskap. Ek het verdwyn en op daardie tydstip het ek nie omgegee hoe bekommerd hulle was nie. Nadat hulle my gekry het, het ek vir hulle gesê dat ek gay is.

“Noudat my familie geweet het wat ek besig was om te doen, het ek selfs nog vryer gevoel om deel te neem aan die dwelm- en sekstoneel rondom my. Ek het daaraan deelgeneem vir die volgende jaar en ‘n half. Die sonde in my lewe het net swaarder en swaarder geword. Die dwelms, wat my aan die begin ‘n fantastiese gevoel gegee het, het hulle skop verloor. Ek het heeltyd gesoek na ‘n nuwe soort hoogtepunt. Dieselfde ding het met seks gebeur. Eers was dit so wonderlik. Maar te veel van enige ding kan vervelig word, en ek het begin om skuldig te voel daarna.

“Na twee jaar van heeltyd partytjie hou, was ek uitgebrand en net ‘n dop van wat ek eens was. Ek was meer en meer depressief. Alhoewel ek omring was deur vriende en potensiële minnaars, het ‘n deel van my heeltemal alleen gevoel. Ek het myself begin isoleer van vriende wat wou hê ek moes nog maller dinge aanvang. Die stryd in my brein het weer begin intenser word, en gedagtes van selfmoord, wat nooit werklik weg was nie, het selfs sterker teruggekom. Ek het na ‘n sielkundige gegaan en vir hom vertel van die twee verskillende kante van my persoonlikheid wat besig was om my uitmekaar te skeur.

“Tydens hierdie tyd is daar dertig verskillende traktaatjies aan my gegee oor Jesus. Op een of ander manier het Hy vir my nie werklik voorgekom nie. Ek het ‘n Bybel gekoop en dit begin lees, en dit net weer weggegooi.

“Toe eendag het ‘n man van die koffiehuis in Taylor Straat vir my ‘n boek gegee genaamd TWEE VAN MY. Nadat ek dit gelees het, het ek besef dat God besig was om na my toe uit te reik. Ek het die volgende dag teruggegaan na die koffiehuis en die sondaarsgebed saam met ‘n ander persoon gebid en Jesus gevra om in my lewe te kom. Ek het my werk bedank by die gay restaurant en ‘n week later was ek by die Los Angeles Teen Challenge Sentrum. Dit is waar ek vandag is.

“Daar is steeds ‘n paar ou begeertes wat my soms versoek, maar Jesus het my met ‘n baie sterkter begeerte gevul – dit is, om Hom te dien en in Sy liefde te lewe. (Bid asseblief vir my familie. Nie een van hulle is al gered nie)”

Ephraim Shapiro

[Ephraim is Joods. Twee maande gelede het hy in ons koffiehuis in die Tenderloin gebied van San Francisco ingeloop – ‘n homoseksuele rock-sanger met ambisies om  ‘n ster te wees. Vandag dien hy Christus, groei in die Gees en bestudeer die Bybel by die Teen Challenge Sentrum in Houston.]

Ephraim Shapiro skryf: “Tien minute buite Houston en ek was bang. Vir alle praktiese redes, alleen. Een week voor dit, het ek alles agtergelaat in San Franciso: my vriende, my planne, my drome – alles! In beide jazz- en rock-kringe, het ek aansien verwerf. Ek het uiteindelik gehad waarvoor ek my hele lewe lank gewerk het – erkenning!

“Aangesien ek Joods is, het ek as ‘n jongeling besluit om uit te blink in die studie van Judaïsme. Dit was altyd deur die Joodse gemeenskap aanvaar dat ek na die Rabbiniese skool sou gaan, maar Joodsheid het sy aantrekkingskrag vir my verloor. Die prys van erkenning as ‘n skolier is doodeenvoudig dissipline en daarom het ek teologie verlaat en my selfsugtige doelwitte nagejaag. O, ek het my eie ding gedoen, maar ek het die duiwel se prys betaal – twee amper selfmoorde, die dood van ‘n innige vriend, en ‘n tydperk van stilte en verwarring wat amper twee jaar lank geduur het.

“Toe die vliegtuig begin land het, het ek bepeins wat my sielkundige voorgestel het net een week tevore – om na ‘n sadomasochistiese kroeg te gaan en te eksperimenteer. Ek was net nie seker of ek regtig ‘n eksperiment om pyn te geniet nodig gehad het nie. Die kaptein se stem wat ons aankoms aangekondig het, het my gedagtes onderbreek, en binne ‘n paar uur was ek by die Teen Challenge Sentrum in Hungerford, Texas. So, dit is waarom ek konserte gekanselleer en San Franciso verlaat het saam met David Wilkerson se mense. So, dit is waar my lewe veronderstel was om te verander.

“Wel, dit is twee maande later, en daar was ‘n verandering, prys God, wat ‘n verandering. Die Here het my gewys dat net soos alle ander dinge, het hierdie verandering in my lewe iets gekos. Maar, dit is die eerste keer wat ek nie hoef te betaal nie. Jesus het die prys betaal. Hy het vir my gesê dat toe Hy op die kruis gesterf het, het alles wat ek ooit was voor ek Hom geken het op dieselfde kruis gesterf. Jesus het gesterf vir Ephraim Shapiro, sodat hierdie persoon wat nooit geweet het hoe om op sy eie twee bene te staan nie, saam met Jesus kon wandel. Jesus het gesterf vir Ephraim Shapiro sodat hierdie persoon, wat vir 29 jaar lank, bang en kwaad gemaak was deur liefde, goddelik en volmaak kon liefhê.

“Prys God vir Teen Challenge. Daar is ‘n ware bediening van die Heilige Gees hier, omdat, en net omdat daar ‘n ware honger vir heiligheid en ‘n ware liefde vir verlore siele is.”

Ephraim