Sal Daar ‘n Depressie Wees?

David Wilkerson

Daar is ‘n “oorlewingspaniek” wat hierdie land in sy greep het. Sommige ekonomiese kenners waarsku Amerikaners om uit die stede te vlug, ‘n huis of grond in die platteland te koop, ‘n voorraad gedroogde kosse en ammunisie op te gaar, goud of diamante weg te steek en gereed maak vir ‘n verskriklike depressie. Op hierdie presiese oomblik, omhul ekonomiese somberheid die land soos ‘n donker, onheilspellende wolk. Werkloosheid neem toe en in sommige dele van die land, is dit amper so erg soos dit was tydens die depressie van die 1930’s.

Oral waarheen ek nou gaan, vra mense vir my, “David, waarheen is ons land op pad? Is hierdie die ekonomiese storm waaroor jy gewaarsku het in jou VISION boek in 1973? Gaan ons nog ‘n groot depressie hê? Wat hoor jy van die Here oor die huidige probleem?”

Diegene wat my boeke en ander publikasies lees, weet dat ek waarsku oor ‘n valse ekonomiese opbloei wat gevolg sal word deur ‘n ernstige ekonomiese resessie – en dit was gesê toe baie ander ‘n ineenstorting in 1973 voorspel het. Ons het daardie valse ekonomiese opbloei beleef, en nou woed ‘n resessie dwarsdeur die land. Daagliks, ontvang ek versoeke van mense om THE VISION op datum te bring.

Laat my begin deur te sê: Hoewel ek een van die eerstes was wat Amerikaners gewaarsku het om gereed te maak vir ‘n ekonomiese storm, was die doel van my waarskuwings om kinders van God wakker te maak oor Sy getrouheid in moeilike tye. Die tema van my boodskap was nog altyd, “God het alles in beheer.” Nog nooit het ek voorgestel mense moet die saak van oorlewing in hulle eie hande neem nie.

Dit is tragies dat te veel Christene in vrees leef, asof alles buite beheer is. Hulle is bekommerd dat ‘n invloei van buitelanders verdere werkloosheid sal veroorsaak en dat spioene ingevoer word saam met die vlugtelinge. Hulle is bekommerd dat die land uitmekaar val – geestelik, ekonomies en sedelik. Hulle is bekommerd dat die ekonomie in duie sal stort, dat anargie sal uitbreek en ons stede onbewoonbaar word, dat kos skaars sal word, dat inflasie buite beheer sal spin, dat hulle kinders agtergelaat sal word om ‘n wêreld van volslae chaos te beleef.

Hier is my boodskap oor huidige gebeure!

1.Die vrees vir naderende rampe kan meer skade doen as die rampe self!

Die Bybel sê, “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:7).

Sal daar binnekort ‘n depressie wees? Is dit die ekonomiese storm waaroor so baie bedienaars en ekonome waarsku? Sal die huidige resessie verander in ‘n diep, lang depressie? Of, is dit nog ‘n kort aanpassing van die ekonomie?

Om eerlik te wees, ek weet nie! En ook nie enige ander mens op aarde nie. Die ekonome gee vir ons ontsettende teenstrydige voorspellings. Sogenaamde “profete” gee allerhande soorte verwarrende waarskuwings. Laat my ‘n paar van die onlangse waarskuwings lys wat na my kantoor gestuur is deur selfverklaarde “profete.”

Verlede jaar, het honderde bekommerde Christene vir my geskryf oor ‘n profesie deur ‘n Suid-Amerikaanse profetes dat die grootste deel van Florida getref sou word met ‘n vloedgolf. Talle Christene het uit Florida geglip op die voorspelde datum op ‘n sogenaamde “vakansie” – net ingeval die vrou reg was. Florida is steeds met ons!

Nege maande gelede, het twee opregte Lutheraanse charismatiese here waarskuwings uitgestuur dat ‘n groot aardbewing die Chicago gebied sou skud – dat Russe in New York sou land en die land sou binneval ens., ens. Ek was geskok deur die aantal Christene wat meegesleur was deur hierdie sogenaamde profesieë. Chicago staan steeds – die Russe het ons nie binnegeval nie.

‘n “Profeet” van Texas het vir my in geen onduidelike terme vertel dat Jesus op twaalf-uur die 7de April 1980 kom. Die spertyd het verbygegaan en die liewe broer is ongetwyfeld besig om ‘n nuwe datum te kry.

Verskeie groepe in die land voorspel dat Amerika binnekort oorval sal word met rampe – behalwe in sekere “veilige sones.” Hulle waarsku ander Christene om by hulle aan te sluit in hierdie veilige sones om hulleself te red van aardbewings, hongersnood, vyandige leërs en ander verskriklike rampe. Natuurlik, word van jou verwag om alles te verkoop wat jy het en die opbrengs na hulle veilige sones te bring

Dit is so jammer, omdat die meeste van hulle wat so ‘n boodskap verkondig, opreg is – en hulle bedoel goed. Maar hulle boodskap is onskriftuurlik en hulle dwaal. Christene vandag moenie luister na enige vreesaanjaende boodskap wat nie in balans is met God se belofte om te beskerm en te bewaar, enige plek, op enige plek nie.

Geen mens op aarde weet wanneer, hoe, of waar God oordeel sal stuur nie. Die tye en seisoene is alles in Sy hande. God het met my persoonlik gepraat oor om datums, name, of plekke te gebruik; en as ek aan God ongehoorsaam is oor hierdie saak, spekuleer ek op die ou end, eerder as profeteer. Alle ware profesie moet hoop en vertroosting bied aan God se kinders wat deur geloof lewe.

Daar is sommige predikers wat strydig is met die Woord van God. Byvoorveeld, Californië kan nie bloot “afbreek en in die Stille Oseaan val nie.” Dit maak nie saak hoe kragtig ‘n aardbewing is wat daar op die Weskus plaasvind nie, die grense is vas. Die Bybel sê,

“Hy het ’n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig” (Job 26:10).

Dit klink vir my soos ‘n kontrak wat in stand is totdat hierdie aarde verbygaan. Die Bybel sê ook,

“En wie het die see met deure afgesluit...en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe” (Job 38:8,11).

Waar woon jy? In ‘n aardbewingsone, miskien naby ‘n foutlyn? Leef jy in ‘n stad wat eendag kan wurg as gevolg van ‘n onoffisiële staking van Teamster vervoermaatskappye? Leef jy in ‘n wydstrekkende woongebied wat minder veilig is as voorheen? Leef jy in ‘n beknopte woonstel – nie ‘n grassie of koei in sig nie? Geen kos opgegaar nie? Geen goue stawe om jou te beskerm teen inflasie nie? Geen tuin om jou eie kos te kweek nie? Geen plattelandse skuiling nie? Geen plek om weg te kruip as anargie uitbreek nie? Niks om op terug te val as die ekonomie in duie stort nie? Niks om op te leef as jy jou werk verloor nie? Voel jy uitgesluit wanneer ander rondom jou roem oor hulle planne vir die toekoms?

Moenie paniekerig raak nie! Jy het alles wat jy nodig het as jy glo in ons Here se belofte van beskerming. Elke kind van God het ‘n onwankelbare kontrak van oorlewing. Hoe meer ek die woorde van Jesus lees, hoe meer glo ek dat Hy vra vir ons kinderlike vertroue in Hom – om ons veilig te hou in elke situasie.

My raad is om niks te doen nie en op te hou luister na stemme wat waarskuwings spreek in teenstelling met die Skrif. “Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede...” (1 Korinthiërs 14:33). Paulus weier om datums te gebruik of om tye en seisoene vas te stel met betrekking tot profesie. “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie” (1 Thessalonicense 5:1). Paulus het verder gesê dat Christus werk “soos ‘n dief in die nag...dan oorval ‘n skielike verderf.”

Jesus waarsku ook daarteen om met paniek op te tree wanneer valse profesieë uitgaan in die land. Hy het gesê, “As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie” (Matthéüs 24:26). Christus het ons gewaarsku om nie manne of vroue te glo wat daarop aanspraak maak dat hulle ‘n geheime openbaring ontvang het oor wanneer en waar Christus sal tref met die weerlig van oordeel nie.

“Jy hoef nie bang te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik” (Spreuke 3:25,26).

2.Kry jou eie leiding van God af oor die toekoms!

Moenie vertrou op David Wilkerson om vir jou oor die toekoms te vertel nie. As jy ‘n kind van God is, kan jy net so goed van Hom hoor as ek! Moenie op Jim Baker of PTL of Pat Robertson van 700 Club vertrou nie. Moenie vertrou op iemand wat jy glo ‘n gawe van profesie het om jou oor die toekoms te vertel nie.

Ek was hartseer ‘n paar jaar gelede toe bedienaars vir my gesê het ek het hulle bouprogramme geruïneer met my waarskuwingsboodskap in THE VISION. Een het vir my geskryf en gesê, “My raad het ons kerkbouprogram geveto omdat hulle dink jy het ‘n depressie voorspel.” Duisende ander het THE VISION gelees en dit kwaad neergegooi. Die probleem is, hulle het nie die moeite gedoen om my boodskap aan die Christen op die agterkant van die boek te lees dat “God alles onder beheer het” nie!

Sakemanne het my gekontak van oral oor die wêreld, insluitend bankiers en fabrikante, so ver as Japan. Selfs Joodse besigheidsmense wil my raad hê oor die toekoms. Ek geen niemand enige raad nie! Ek sê vir Christene, “Jy ken die Here so goed as ek. Gaan na Hom; Hy sal jou nie in die duister hou nie. Hy sal jou wys wat om te doen, spesifiek, vir jou eie behoeftes.”

Ek erken ek was al soms verkeerd. Ek was oorywerig en soms het en onwetend in spekulasie verval. Nie een van my boeke is onfeilbaar nie. Hulle is eerlikwaar opreg, maar hulle is nie die Evangelie nie. Ek is seker hulle bevat foute en geen Christen behoort sy lewe of toekoms te beplan deur wat ek of enige ander bedienaar sê nie. Gehoorsaam die Woord, ja. Maar, terselftertyd, leer om van God te hoor op jou eie. Om ‘n “herder” te hê om jou toekomsplanne te bestuur, is totaal onskriftuurlik en gevaarlik.

Ek gee nie om om vir jou te vertel wat ek dink tans gebeur nie. Dit is nie geïnspireer nie – dit is nie ‘n profesie nie – dit is net wat ek persoonlik glo wat sal gebeur. Ek is minder begaan oor die huidige ekonomiese afwaartse neiging as in 1973. Ek dink dit is nog nie die groot resessie nie – en die ekonomie mag moonlik terugswaai teen die einde van die jaar. Ons kan ‘n vinnige ommekeer sien en nóg ‘n valse opbloei – en ek kan heeltemal verkeerd wees. Maar indien die ekonomie wel terugswaai, dink ek God se kinders behoort duidelik gewaarsku te wees oor wat ons nou sien – en die valse opbloei gebruik om alles gereed te kry. Ons weet nou hoe vinnig ‘n depressie op ons kan wees. Kan dit wees dat God vir ons almal sê om te besef hoe kwesbaar materiële dinge is en dat ons moet terugkeer na regte waardes? Ook, as God hierdie land  veel meer skud met ‘n diep en lang depressie, sal al hierdie klem op voorspoedsprediking en materiële geloof verniet wees. Sulke bedienaars sal die bestraffing beleef van duisende ontnugterde Christene wat nie gereed is vir lyding en moeilike tye nie. Op een of ander manier, sal God ons terugdwing na nederigheid, eenvoud en ‘n ywer vir sending.

As jy jou tyd op jou knieë deurbing in die binnekamer van gebed, is jy nie bekommerd oor die toekoms nie. God doen die wonderlikste dinge vir diegene wat hulle na Hom wend met eenvoudige geloof en kinderlike gebed, op soek na leiding. Hy stuur ‘n herlewing van persoonlike leiding. Het jy rigting nodig op hierdie oomblik? Bouplanne? Besigheidsuitbreiding? Vrae oor jou volgende stap? Persoonlike probleme? God sal en kan jou vertel wat om te doen – wanneer om dit te doen – en hoe om dit te doen! Hy verheug Hom daarin om ons leiding te gee. God gee altyd spesifieke leiding aan diegene wat gewillig is om Hom te gehoorsaam en wat glo Hy is begaan oor elke detail van ons lewe.

Ek weet daar sal sommiges wees wat vir my skryf en sê, “David, wie moet ek glo? Daar is so baie teenstrydige voorspellings en profesieë – en dit lyk almal of dit kom van mans en vroue wat lyk of hulle baie goddelik is. Wie moet ek glo?”

Jy moet glo slegs wat die Heilige Gees bevestig om waar te wees in jou eie hart, terwyl jy dit toets met die Woord van God en ywerige gebed. Eintlik, raak dit baie belaglik – met so baie wat soveel teenstrydige dinge voorspel. Soveel meer rede vir elke gelowige om persoonlik in kontak met die Here te wees. Die biddende Christen kan luister na al hierdie waarskuwings, elkeen ondersoek, aanvaar wat die moeite werd is en onaangeraak wees deur die res. Alle ware boodskappe vanaf God se troon sal individueel bevestig word aan elke biddende Christen.

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5,6).

“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees” (Psalm 32:8).

“Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my” (Psalm 16:7).

3.God het noodplanne vir elke gelowige gedurende ‘n krisis!

Dit maak nie saak hoe onrustig die wêreld word nie, God se kinders kan ontspan en hulle blydskap laat aanhou uitstroom, omdat ons Here spesiale beskerming belowe het wanneer dit die nodigste is.

Het God nie ‘n noodplan gehad vir die kinders van Israel tydens die wêreldwye hongersnood nie? Hy het Josef na Egipte gestuur, hom tot eerste minister bevorder, die skure met genoeg graan volgemaak om hulle deur die hongersnood te dra – daarna sy volk vervoer tot binne loopafstand van daardie skure en hulle gevoed tot oorlopens toe vol dwarsdeur die hongersnood wat gewoed het.

Het God nie noodplanne vir Elia gehad nie? Terwyl sy volk onder die impak van ‘n ekonomiese ineenstorting gesteier het en voedsel skaars was weens ernstige hongersnood – en ‘n goddelose koning ‘n losprys op sy lewe gehad het – het God sy noodplan vir Elia in werking gestel. Hy het hom weggesteek by ‘n stil spruit en hom gevoed met ‘n voël wat sy kos afgelewer het. Die oorlewingsplan het ook ‘n geheimsinnig vat graan wat nooit opgeraak het nie ingesluit.

Wat van Noag? Wat ‘n gedetailleerde oorlewingsplan het God vir hom en sy gesin gehad! ‘n Ark – wat hom en sy gesin veilig laat dryf het bo-oor al die dood en verwoesting van ‘n wêreldwye vloed.

En Lot? God het in werklikheid sy engele gestuur om hom en al sy kinders uit die verdoemde stad Sodom uit te haal. God se hande was gebind totdat Lot veilig uit die voorstede was. Dit was meer as ‘n verlies van sy werk, meer as ‘n ineenstorting van die ekonomie, meer as ‘n val van die regering – dit was totale verwoesting van sy samelewing. Maar Lot was veilig gered.

Paulus het God se noodplanne oor en oor bewys! Hierdie apostel het skipbreuk gely, was gejaag deur diewe, in die tronk gegooi, beskuldig van verraad, teen saamgesweer deur sluipmoordenaars – maar in al die krisisse, het God ‘n noodplan gehad vir verlossing. Slegs toe God besluit het sy resies was verby, het Hy sy laaste noodplan ingeroep. Hy het hom na sy opstanding geroep.

Ons het ook ‘n noodplan vir oorlewing – spesifiek ontwerp vir elke gelowige.

Laat daar geen twyfel daaroor wees nie. God sal ons deur elke krisis dra. Daar is geen krisis wat Satan teen die kinders van God kan bring wat hulle kan laat val nie. Nie depressie nie, nie hongersnood nie, nie verlies van werk nie, nie siekte of lyding van enige soort nie. God wil Sy kinders verlos met ‘n hoë en magtige hand. Daar is nie een enkele rede om te vrees nie.

In 1973 het ek die volgende boodskap in “THE VISION” geskryf. Hierdie boodskap is net so van toepassing vandag, as wat dit toe was. Dit is die tema van my geskrifte en my bediening – “God het alles onder beheer!” Die boodskap van die Bybel aan alle ware gelowiges is:

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

Mense se harte beswyk van vrees oor die dinge wat met hierdie aarde gebeur. Mense gaar op, spaar en maak gereed vir die naderende wêreldwye resessie. Selfs toegewyde Christene word meegesleur deur hierdie golf van vrees en angs oor die toekoms. Mense is bang die skip sink. Die mensdom smag na sekuriteit en dit het gelei tot ‘n epidemie van “gryp” na huise, grond, geld en gewaarborgde inkomste.

Klink dit alles vreesaanjaend? Is die waarheid skrikwekkend? Die een ding is seker – alles lyk of dit in duie stort, so ver as die natuurlike oog kan onderskei. Selfs die mees twyfelagtige persoon op aarde moet, in sy eerlike oomblikke, erken dat iets apokalipties plaasvind in die wêreld.

Saam met die visioen van rampe, het God vir my ‘n baie spesiale boodskap van hoop gegee vir alle ware gelowiges. Ek het God radeloos bevraagteken oor al die dinge wat ek sien kom het. Ek het Hom gevra om vir my te wys hoe Christene alles kon doen wat hulle moet doen in ‘n beperkte tyd wanneer so baie alles los en gaan wegkruip. Hoe kan Christene vrees Uit hulle harte hou? Hoe kan hulle al die nuusberigte sien en al die teenspoed en rampe verwag sonder om bang te wees oor hulle huise en kinders? Abdikeer hulle en gee hulle hierdie ou wêreld oor aan die duiwel en laat hom sy weg kry? Betaal hulle al hulle rekeninge, steel die reserwes in die bank weg en probeer dan om deur alles te kom – met die hoop dat ‘n beter dag sal aanbreek? Koop hulle ‘n plaas of ‘n stuk grond en vlug na die platteland – met die hoop hulle kan die naderende tragedies ontvlug? Laat hulle hul motivering vaar en gee hulle oor aan vrees? Laat vaar hulle al hulle drome en ambisies en word soos kluisenaars wat na die waarheid soek?

Dierbare vriend, hoor wat die Heilige Gees tot my gespreek het. Net vyf woordjies, maar so kragtig dat dit my laat ontwaak het met ‘n heerlike nuwe hoop en geloof. Daardie vyf woordjies is: God het alles onder beheer.

Dit is reg – alles is onder beheer! Jy en ek, en alles wat ons raak, is onder Sy beheer. Dit is waar! Dit maak nie saak hoe dinge lyk in hierdie beskonke wêreld nie, alle dinge werk steeds ten goede mee vir almal wat God liefhet en geroep is volgens sy plan [Romeine 8:28].

Laat die dollar val. Laat depressie of resessie kom met sy werkloosheid en vrees. Laat besoedeling en inflasie kom. Laat daar oorloë en gerugte van oorloë wees. Laat die wese van die samelewing disintegreer. Laat die mensdom gaan na die dronk randjie van ellende. Vir die ware kind van God, is alles steeds onder beheer! Dit maak regtig nie saak nie -  niks kan diegene skade doen wat bly onder die skuiling van Sy almagtige vlerke nie. Die skaduwee van die Almagtige is groter as enige vreesaanjaende skaduwee wat hierdie eeu kan gooi. God se kinders hoef geen kwaad te vrees nie. Sy kinders sal nooit smeek vir brood nie en Hy sal elke ware behoefte voorsien tot op die heel laaste minuut van tyd.

God het nie belowe om Sy kinders te bewaar van lyding nie. Hy het nie belowe om ons te bewaar van ‘n uur van nood nie. Ons het geen belofte van wêreldvrede, rustigheid, sekuriteit of voortdurende finansiële welstand nie. Ons word vrede en veiligheid van siel en verstand belowe – die bonatuurlike voorsiening vir elke ware behoefte – en versekering dat ons nooit sal hoef te smeek vir brood nie. God sou liewer dat ons almal by die plek kom waar Paulus die apostel gekom het toe hy gesê het,

“Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timótheüs 6:8).

Die toekoms lyk boos en onheilspellend. Maar Dawid het in die Psalm gesê, “Ek sal geen onheil vrees nie” (Psalm 23:4). Dit is die boodskap vir gelowiges vandag. Die toekoms is onder Sy beheer, sodat ons nie hoef te vrees nie. God het dit alles vooraf geprogrammeer. Hy weet die presiese oomblik waarop Christus sal terugkeer. Die laaste verdrukking, die oordeel en die oorlog van Armagéddon is almal op Sy kalender. Die God wat die hele hemel en aarde beheer, het gesê:

“Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal” (Jesaja 40:15,17)

God wil hê ons moet aanhou werk tot Christus se terugkeer. Dit beteken bloot dat ons moet werk asof die einde nooit sal kom nie en lewe asof dit môre kom.

God tel steeds die hare op ons hoofde. Hy tel steeds die mossies wat val. Hy hoor steeds smekinge voor hulle gevra word. Hy antwoord voor Hy geroep word. Hy gee steeds oorvloedig meer as wat ons kan bid of dink. So waarom bang wees?

Voorbereide Christene, word wakker! Alles is onder beheer en God is aan die werk! Hy red, genees, doop en kry Sy huis in orde. Om te vrees is om te laster. Ons word beveel om onsself in die Here te versterk en om te sing en te juig asof ons die laaste uur sien aankom. Hoor ek iemand vra, “Maar hoe kan ek juig wanneer ek hierdie ou sonde-vervloekte wêreld sien uitmekaarval?” My antwoord is die Bybel se antwoord:

“Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe...ons sug ook in onsself in afwagting...die verlossing” (Romeine 8:22,23).

‘n Vrou in kraam mag skreeu weens haar pyn; tog, in haar hart, juig sy oor die werklikheid van nuwe geboorte.

Die koninkryk van God kom. Die koninkryk van Satan is besig om te val. So die Christen kan met vertroue sê: God het alles onder beheer!