Om Rein te Bly in ‘n Goddelose Eeu

David Wilkerson

Is dit moontlik vir ‘n Christen om rein en suiwer te bly in ‘n wêreld vol geweld, onsedelikheid en verdorwenheid? Of is dit onvermydelik dat die gees van hierdie eeu die heiliges van God sal afbreek en hulle siele kwel? Dit met met Lot en sy gesin in Sodom gebeur, en dit gebeur met menigtes van Christene oral in die wêreld. Die oorweldigende versoekings van hierdie goddelose geslag het reeds veroorsaak dat getalle Christene kompromieë maak en hulle oorgee aan goddelose praktyke.

Ek glo dit is moontlik om nie net rein te bly te midde van die sedelike verval nie, ek glo dit is moontlik om te groei in heiligheid en reinheid – selfs al verswelg die hel hierdie geslag. Dit is nie onvermydelik dat God se kinders afvallig sou raak as slagoffers van demoniese magte losgelaat op die aarde nie.

Daar is ‘n sensuele gees van goddeloosheid wat die land vasgryp, en baie Christene leef met ‘n toemende vrees dat hulle stadig daaraan mag toegee. Ons word heeltyd gebombardeer met dit wat ontugtig en onsedelik is. Tydskrifte, films en TV paradeer voor die kykers tonele van naaktheid, wellus, en geweld. Owerspel word verheerlik, en ‘n mens word die indruk gegee dat amper almal toegee aan ‘n geheime verhouding met ‘n nuwe maat. Dwelms, alkohol en seksuele losbandigheid word verheerlik. Gewilde TV gashere roem oor hulle dronk eskapades, hulle vele egskeidings, hulle spog met allerhande onsedelike gedrag – en die gehore is mal daaroor! Hoe meer skandelik hulle dade, hoe groter die applous.

Bedienaars en evangeliste wat hulle uitspreek teen al hierdie onsedelikheid en vuilheid word uitgekoggel en bespot. Komediante beklad die goeie name van Anita Bryant, Billy Graham, Rex Humbard, en al die ander predikers van geregtigheid, deur die strewe na reinheid die onderwerp van hulle duiwelse grappies te maak. Op die Oordeelsdag, sal die menigtes van kwaadsprekers en spotters in stille angs kyk hoe al die onheilige komediante en strokiesprenttekenaars voor ons heilige God geroep word om rekenskap te gee. Ons almagtige God sal die hemel skud wanneer Hy in hulle gesigte lag. Hulle sal almal bewe en skreeu om genade wanneer hulle van aangesig tot aangesig kom met Hom wie hulle gekoggel en gespot het. Hy sal teen hulle uitvaar in heilige toorn, “As julle dit aan een van hierdie gedoen het, die geringste van my dienaars, het julle dit aan My gedoen.”

Dit is tyd om voorraadopname te neem

 Ware eerlike Christene moet nou voorraadopname neem en vir hulleself hierdie belangrike vrae vra. “Verander my sedelike waardes? Sluip die goddeloosheid van hierdie eeu in my lewe in? Word ek beïnvloed deur die spervuur van sensualiteit wat ek rondom my sien? Ontwikkel ek ‘n aptyt vir wêreldse dinge? Verander ek ten kwade sonder om dit te besef?”

Die meeste van ons laat in werklikheid nou dinge in ons lewens toe wat ons net ‘n paar jaar gelede veroordeel het. Ons het geen heilige verontwaardiging in ons oor nie. Ons word nie net stil oor die agteruitgaande sedes van ons land nie, ons gee stadig maar seker toe aan die toenemende druk en aanvaar die leuens van die Satan. Ons word almal gelok deur magtige maar verraderlike kragte van begeertes en sensualiteit. Jy mag dalk nie van so ‘n beskuldiging hou nie, jy mag selfs dink jy is immuun teen so ‘n aanklag– maar ondersoek jou lewe eerlik vir een oomblik. Kyk jy vulgêre programme soos, “Saterdagnag Laat?” Wat van al die onsedelike films? Mense kan my beskuldig van wettiesheid, engheid, of enigiets anders waaraan hulle kan dink, maar in alle eerlikheid, hierdie programme vertoon egskeiding, owerspel, ontrouheid en selfs homoseksualiteit. Ons maak aanspraak daarop om Godvresende Christene te wees, maar ons voed steeds ons siele en gedagtes op te veel van hierdie sataniese gemors.

Net ‘n paar kort jare gelede, was ons geslag geskok oor die manewales van die Beatles en ander soortgelyke rock groepe wat hierdie land binnegeval het met musiek wat dwelms, seks en geweld opgehemel het. Mense kyk nou terug na daardie dae en sê, “Hoe dom was ons. Waaroor was die bohaai? Waarom het ons so opgewerk geraak oor hulle? Hulle was net onskuldige kinders wat daarop uit was om geld te maak. Dit was net ‘n vertoning, ‘n kommersiële skelmstreek.” Maar vriende, het ons regtig grootgeword? Of word ons so geïntimideer deur goddelose magte, dat ons nou gelate aanvaar wat ons eens geken het as sondig en verdorwe? Kyk na wat gebeur het. Rock musiek het in die huis van God inbeweeg; die dwelm-geïnduseerde klanke was ‘n swak Christelike boodskap gegee, en menigtes jong Christene het nou ‘n smaak ontwikkel vir ‘n musiekstyl wat gebore was in die gedagtes van demoniese spotters van God. Ek was al in byeenkomste waar “Christelike” jongmense gelag het vir die outydse gesang, “The Old Rugged Cross.” Maar wat ‘n skande dat so baie van die jongmense vandag nie weet hoe om die glorieryke gesange, wat in herlewings van geregtigheid gebore is, te geniet nie.

Ja, ons verander. Ons musiek het verander. Ons standaarde val. Ons verdraagsaamheid neem steeds toe. Ons stilte teen inbreukmakende onsedelikheid is meer en meer duidelik. Ons roem in onsself dat ons nou meer geleerd en verlig is, meer in staat is om die sedelike verandering te kan hanteer sonder om beïnvloed te word. Ons glo ons dink ons is verhewe bo besmet word met pornografie, vuil TV, en die toenemende gety van onsedelikheid wat ons vandag verswelg. ‘n Toenemende aantal Christene kan nou in vuil filmsale inparadeer, loer na pornografiese tydskrifte, ure na vulgêre TV kyk, sosialiseer met goddelose skares op goddelose plekke, dan gaan lê op hulle bedde in die aande en dink, “Al hierdie dinge en Jesus ook! Ek word nie in die minste beïnvloed deur die vuilheid rondom my nie. Ek is steeds dieselfde Christen wat ek altyd was.

Maar kan dit wees dat ons nou so louwarm is, so knus met die “nuwe sedelikheid,” dat ons blind geword het vir ons eie ware geestelike toestand? Ek wil verseker hê die Heilige Gees moet Sy soeklig op my siel rig en elke goddelose of bose weg openbaar wat inbreuk maak op my lewe. Ek wil ‘n herlewing van geregtigheid hê in my lewe. Ek wil honger en dors na ware heiligheid.

Die skuldige is nie net “die gees van hierdie eeu” nie.

Wat bederf eintlik ‘n Christen? Wat is dit wat veroorsaak dat die Christen “afvallig raak” en wêreldsgesind word? Waarom is dit dat soveel Christene vandag geestelik droog en leeg is? Waarom is dit dat soveel kla dat dit moeiliker word om rein en suiwer te bly in hierdie eeu? Is dit omdat daar ‘n gees in hierdie eeu is wat meer onderduims en misleidend is as in enige vorige geslag? Veg ons teen groter en gemener demone as ons voorvaders? Is die vlak van verdorwenheid hoër vandag as wat dit was ‘n honderd or ‘n duisend jaar gelede? Het Satan een of ander soort spesiale mag oor hierdie eeu? Ek sê nee! Satan mag kwater wees as ooit tevore, goddelose manne mag erger en erger word en sonde mag oral floreer – maar dit is nie Satan se mag of die gees van goddeloosheid wat los is in die land wat Christene verdorwe maak nie. Ander geslagte het uitbraak van geweld en korrupsie beleef. Noag se geslag was so goddeloos dat God gedwing was om hulle van die aarde te verdelg. Dit was ‘n bose en verdraaide geslag wat die toring van Babel gebou het. Die profete het almal gedink aan hulle geslag as die mees goddelose en boosste in die geskiedenis. Luister hoe die profeet Hoséa uitgevaar het teen sy geslag, en dit klink asof hy praat van ons hedendaagse samelewing:

“Daar is hoerery en owerspel ... mense dink God verskoon hulle sonde ... Daar niemand wat God aanroep nie ... Hulle vermeng hulleself met ander volke ... soos dwase duiwe meng hulle met die heidene. God se volk verwerp die dinge wat goed is en maak afgode van silwer en goud. Hulle verander my altare in altare van sonde ... Profete verkondig dwase dinge, en die geestelike mens is waansinnig, omdat daar ‘n menigte van ongeregtigheid in sy hart is...” (sien Hoséa 7-9).

Hoséa het vir hierdie geslag gesê, “Julle het julle Maker vergeet. Julle sê julle ken God, maar julle raadpleeg Hom nie meer nie. Julle is besig om te bou, die dinge van hierdie lewe na te jaag, maar in die proses, het julle leë wingerde sonder vrugte geword – halfgebakte koeke.”

Jesaja het gedink hierdie geslag was die mees goddelose en vuilste van alle tye. Hy het van sy samelewing gesê, “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel” (Jesaja 1:4). Kinders wat verderflik handel? ‘n Goddelose geslag wat God vergeet het? Klink dit bekend?

Jesus het na sy geslag verwys as “...boos... goddeloos, verdraaid.” Lank nadat Christus na die Vader opgevaar het, het Petrus uitgevaar teen die sondes van daardie geslag en gesê,

“Met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie ... hulle het ’n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking ... wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het...” (2 Petrus 2:14,15).

In elkeen van hierdie vorige geslagte, was daar ‘n gees wat veroorsaak het dat die mens God verlaat en gerebelleer het. Daar was jeugmisdadigers in elke vorige eeu. Dronkaards, hoere en moordenaars het met hulle sondes gepronk van die begin af. Owerspel, egskeiding, hoerery, en al die ander ongeregtighede van ons geslag is net so wyd beoefen in die verlede. Goddeloosheid was altyd teenwoordig. Satan was besig in alle vorige geslagte. Die duiwel het Dawid, Jesaja, Paulus en die volk van God probeer versoek en mislei net so kragtig as wat hy soek om God se kinders vandag te verslind. Ten spyte van dit alles, het God nog altyd ‘n oorblyfsel gehad. Dit maak nie saak hoe gewelddadig en verdorwe ‘n geslag geword het nie, God het altyd ‘n volk gehad wat getrou gebly het tot die einde toe. Die gees van hulle eeu het hulle nie oorweldig nie. Hulle het sterk en heilig geword te midde van vervolging en goddeloosheid. In elke geslag was daar ‘n paar wat nooit hulle knieë voor die duiwel se afgode gebuig het nie. Hulle het voortgegaan in God se teenwoordigheid met rein hande en suiwer harte. Hulle het die wêreld en al sy plesiere verwerp en na Christus gekyk as die prys van hulle lewens.

Jy sê vir my vorige geslagte hoef nie pornografie, vuil films, pronkende homoseksualiteit, seksuele afwykings en losbandigheid te hanteer het nie? Dat die goddelose misleiers van vandag magtiger is en meer unieke gereedskap van verleiding het? In antwoord daarop sê ek, die sondige menslike natuur is dieselfde in elke geslag. Rondtrekkende bendes van gewelddadige homoseksuele het Sodom verander in een van die mees goddelose en onveilige stede in die wêreld. Hierdie moorddadige menigtes, waaronder so baie jongmanne, het probeer om besoekende engele te verkrag. 

Argeoloë het pornografiese tekeninge op die mure van antieke uitgrawings gevind. Eeu-oue Chinese literatuur is vol seksuele afwykings en erotisme. In die veertiende eeu, het skrywers met ontsteltenis gepraat oor jongmense wat buite beheer, ongehoorsaam aan ouers, vol woede en gereed was om enigiets wat hulle teëstaan te vernietig.

Nee! Dit is nie net die vulgêre tydskrifte, die vuil films en verdorwe TV nie. Dit is meer as ‘n gees van goddeloosheid wat veroorsaak dat mense oë vol owerspel het. Mense gee nie toe aan sonde en val weg bloot omdat hulle slagoffers van ‘n oorweldigende krag van goddeloosheid geword het nie.

Ons word vreemdelinge vir God

Hierdie geslag word goddeloos en vuil omdat dit sy geloof in God verloor. En daardie geloof verdwyn omdat die Bybel nie langer ingeneem word as ‘n lewegewende krag nie. As geloof kom deur God se Woord te hoor, en die Woord word verwaarloos en eenkant geplaas – is dit geen wonder nie dat die geloof van so baie het verdwyn.

Moenie die duiwel blameer vir jou geestelike agteruitgang nie. Moenie die pornograwe, die filmmakers, die televisie magnate, die dwelmverkopers, of die vervaardigers van alkoholiese dranke nie. Ons afvalligheid is die gevolg van een ding: ‘n gebrek aan gebed en Bybellees.

Ek kan net ‘n handjievol Christene vandag kry wat tyd maak om te bid. Ons weet ons behoort te bid, ons weet wat gebeur met ons geestelike lewens wanneer ons die Here ignoreer. Ons weet Christus wag vir ons in die binnekamer van gebed om ons te verkwik en ons daagliks te vul met Sy krag en heiligheid. Ons is nie onkundig oor hoe God werk nie. Ons verstaan dat Sy weg na reinheid en heiligheid eenvoudig en maklik is om te volg. Ons vind dit egter amper onmoontlik om ons lewens af te sluit vir selfs een uur ‘n dag om in God se heilige teenwoordigheid deur te bring.

Ons het tyd om ure en ure televisie te kyk. Ons het baie tyd om te sosialiseer, om te gaan uiteet, sportsgeleenthede by te woon, ens., ens. Maar ons eindig die dag te moeg, te geestelik uitgeput om te bid of God se Woord te lees.

Wees nou eerlik – hoeveel van God se Woord lees jy elke dag? Elke week? Hoeveel tyd bring jy deur afgesonder met God, heeltemal alleen, om jou hart uit te stort voor Hom? Dit is waar – hierdie geslag het min of geen tyd vir gebed of Bybellees nie.

Ons kan verander! Ons kan gereinig word!

God daag my uit om terug te keer na die binnekamer van gebed met ‘n nuwe vasbeslotenheid om die wêreldse invloede van hierdie eeu af te skud.

Die wêreld kan my slegs verander wanneer my innerlike mens koud of louwarm is. Die sonde en vuilheid oral kan my beïnvloed slegs as my siel droog en leeg is. Wanneer die siel aan die brand is met liefde vir Jesus, wanneer die gedagtes opgelig word in gebed en lofsang, wanneer die Woord van God vars en lewendig is in die hart – kan geen demoon of duiwel van die hel kan my aanraak of beïnvloed nie. Geen wêreldse plesier kan my verlei nie. Geen goddelose skare kan my aftrek nie. Niks wat Satan voor my oë kan paradeer kan my verlei nie – omdat ek lewend is met die krag van God se heilige teenwoordigheid.

Christene, ons behoort ons te skaam! Ons behoort ons te skaam omdat ons ons kosbare Here so min van ons tyd gee. Ons behoort ons te skaam omdat ons by die duiwel se tafel sit, wêreldse dinge verslind. Ons behoort ons te skaam omdat ons kompromieë maak en dit volwassenheid noem. Ons behoort ons te skaam omdat ons die Bybel daar op die tafel laat lê, toe, ongebruik – verwaarloos!

Gebed is sekerlik soms moeilik. God verstaan die druk wat ons voel. Hy is nie ‘n harde slawedrywer nie; Sy juk is sag en Sy las is lig. Maar God sal nie baie langer toelaat dat hierdie geslag Christene lui bly oor gebed en geloof nie. Satan is slim om ons te besig te maak om tyd vir God te maak. En hoe maklik is dit deesdae om bloot “dinge deur geloof te neem.” Geen gebed, geen deursoek van God se Woord vir hulp en leiding nie. Ons voel God skuld ons elke belofte; dit is nie langer belangrik om ‘n tyd en plek in ons skedule te maak om te bid nie. Ons skree op God met wat ons “gedagte gebede” noem. Ons troos onsself om te glo dat God bly behoort te wees omdat ons soms aan Hom dink gedurende ons besige dae.

Ons gaan dit nie maak nie, Christen, nie deur die naderende stroom van demoniese verdorwenheid nie – tensy ons terugkeer na vurige, pligsgetroue gebed en Bybelstudie. God smag daarna om manne en vroue te vind wat sal wegstap van die sensuele parade en op hulle knieë sal val met berou en bekering en wat sal uitroep vir krag om die wêreld te oorwin.

Ons moet bid, “O God, maak dat ek sien hoe koud ek geword het. Maak dat ek weet hoe swak ek nou is. Plaas ‘n nuwe honger vir geestelike dinge binne-my. Maak dat ek smag na heiligheid en geregtigheid.”

God is gereed om hierdie geslag in die binnekamer van gebed te ontmoet. Hy is gereed om meer genade uit te stort as wat ooit bekend was aan die mensdom. Hy wil ‘n leër van manne en vroue, jonk en oud, werf wat sal terugkeer na die ou weë van heiligheid en reinheid.

Ek glo dit is moontlik om rein te bly, maak nie saak hoe goddeloos en vuil hierdie wêreld word nie. Ek glo dit is moontlik dat hierdie goddelose en vuil geslag die groei kan sien van sommige van die grootste Christene wat die wêreld ooit geken het; onkompromitteerd, nie bang om teen sonde te preek nie, onwillig om te buig of te breek! Ek wil een van daardie manne van God wees. Ek wil uit hierdie goddelose en verdraaide geslag uit, om Sy gawe van heiligheid te beleef.

Hier is God se begeerte vir almal wat leef te midde van sedeloosheid:

“Sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:15).